Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Celebs
KYK: Zozibini se kroon toe te groot vir Kaapstad
Zozibini Tunzi, Suid-Afrika se Mej. Heelal, op die straatparade Vrydag deur die strate van Kaapstad.Foto: Jaco Marais

Zozibini Tunzi, Suid-Afrika se Mej. Heelal, trek toe sommer Vrydagmiddag haar hoëhakskoene net daar in die middestad van Kaapstad uit, dans eers nog ’n bietjie saam met haar aanhangers, klim van die bakwerk van ’n vragmotor af en glip weer haar skoene aan.

Vir Tunzi is niks ’n probleem nie, blyk dit – selfs nie eens toe die reuse goue kroon waarmee die vragmotor versier is waarop sy deur die strate van die Moederstad geneem is, by die lae brug by die burgersentrum vashaak nie.

Mens kon van ’n afstand af sien dié kroon, wat gemaak is volgens die ontwerp van die Mej. Heelal-kroon, sou nie kon onderdeur nie.

Dit het egter glad nie gelyk of Tunzi ’n oog geknip toe die straatparade nie kon verder nie. Dit was gelukkig ook baie naby aan die eindpunt van die roete by Nelson Mandela-boulevard.

Zozibini Tunzi en Dan Plato, burgemeester van Kaapstad, by die standbeeld van oudpres. Nelson Mandela voor die stadsaal.Foto: Jaco Marais

Met ’n groot groep veral jong vroue wat om die Isuzu-oopbak-vragmotor in ’n sirkel gesing en gejuig het, het Tunzi kaalvoet van die bak afgeklim en agterin ’n motor geklim.

Sy het vir oulaas deur ’n oopskuif dakvenster van die motor verskyn en met ’n groot glimlag vir almal gewaai.

“Sy was gisteraand op die televisienuus. Wat was daai ding wat in die nuus was?” het een vrou vrolik vir haar vriendin geskree. Die vriendin het geantwoord: “Sona” (die staatsrede).

Zozibini Tunzi word van die vragmotor se bak afgehelp nadat die groot kroon daarop te hoog was om onderdeur die brug by die Burgersentrum te pas. Foto: Meghan Lawrence

Tunzi se straatparade het werkers uit die stad se kantoorgeboue laat stroom. Sy het vir die mense gewaai en hartjies met haar hande gevorm, seker een van die beste Valentynsdag-geskenke wat mens kan kry.

Abongile Gwayi (23), een van haar aanhangers, sê sy is nog mooier in persoon as op televisie of in foto’s.

“Mens dink dat daar dalk spesiale truuks gebruik word om haar so mooi te laat lyk, maar nou kan ons sien dit is haar natuurlike skoonheid,” sê Gwayi.

Nog ’n aanhanger, Pat Matshabisa (34), sê sy is trots op Tunzi. “Sy is ’n mens-mens. Sy het soveel wysheid vir haar ouderdom.”

Geen wonder nie dat Tunzi vir ten minste een aanhanger meer uitgestaan het as die staatsrede – daai ander ding wat Donderdagaand in Kaapstad gebeur het.

Aanhangers verwelkom Zozibini Tunzi in Kaapstad.Foto: Jaco Marais

Meer oor:  Zozibini Tunzi
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.