Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Celebs
Leef voluit en dink aan ander, sê bekendes oor jaar wat wag

Om voluit te lewe en elke oomblik te waardeer. Dís van die Nuwejaarsvoornemens van ’n handvol bekendes.

“Net soos enige ander Suid-Afrikaner hoop en droom ek vir ’n beter en meer belowende 2021,” sê Percivale Young, nuusleser by eNuus. “Vanjaar het ek besef dat, vir die paar minute wat ek saans op die kassie is, ek die vermoë het om mense te inspireer of hoop te gee.

“Ek hoop om via my werk in die nuwe jaar ook aan te hou om glimlagte op mense se gesigte te probeer sit. So, kykers moet hulleself regmaak vir ’n selfs groter glimlag.”

Young droom ook daarvan om in 2021 sy eie onderneming te begin. “Ek glo en vertrou 2021 gaan die jaar wees wat ek met albei hande en voete gaan aangryp!”

Leon Schuster

Die sanger en aktrise Elzabé Zietsman se voornemens is eenvoudig. “Om elke dag te lewe. Ons moenie dinge as vanselfsprekend aanvaar nie. Die Covid-19-pandemie het ons geleer dat alles môre kan verander. Ons moet elke dag leef,” sê sy.

Zietsman droom daarvan om in die nuwe jaar ’n nuwe vertoning, wat in 2020 ’n debuut by kunstefeeste sou maak, op die planke te kry. “Dit gaan oor geslagsgeweld en femicide, wat ’n belangrike onderwerp is. Dis belangrike werk wat gesien moet word.”

Die komediant Casper de Vries reken “2020 het goed van buite gelyk, maar het die wêreld gepootjie!” Hy bly nogtans positief dat dinge beter sal gaan in die nuwe jaar. Sy wens is dat mense dit wat hulle graag wil bereik, sal najaag. “As jy nie droom nie, dan gaan jy nêrens nie. Dit is ook tyd om gemeenskaplike dinge wat ons bind aan te hang eerder as haat.”

Percivale Young
Elzabé Zietsman

Sue Pyler, RSG-omroeper, sê sy het nog nooit belang gestel in Nuwejaarsvoornemens nie, maar het eerder gefokus op ’n visiebord wat nie tydgebonde is nie. Sy droom daarvan om haar eie televisieprogram te hê en sê dis iets wat “eendag” bewaarheid sal word. “My grootste droom vir almal is om minder hartseer te ervaar. Ek wil meer doen waarvan ek hou en mense se lewe aanraak of verander. Jy moet lief wees vir jouself en jou emmer moet oorloop voordat jy in iemand anders se emmer kan stort. Kom ons probeer in 2021 vir mekaar uitkyk,” sê sy.

Leon Schuster se gróót wens is dat Suid-Afrikaners gehoor moet gee aan Covid-19-regulasies. Dié rolprentvervaardiger het ook loopbaanplanne vir die nuwe jaar. “Ek beplan ’n nuwe fliek, Bones 3: Son of Mr Bones. Dis ’n snaakse draaiboek en ons is klaar besig met produksie. Ek is bekommerd of ons die kans gaan kry om dit te kan skiet. Ek hou goeie moed dat die Covid-19-syfers gaan afplat. Ek is 70 jaar oud en dis dalk die laaste kans vir my om ’n fliek te skiet. Dit sal ’n oneindige terugslag wees indien ons dit nie kan doen nie.”

Casper de Vries
Sue Pyler
Lyntjie Jaars
Gert-Johan Coetzee

Lyntjie Jaars, TV- en radio-aanbieder, sê sy is nie eintlik iemand wat Nuwejaarsvoornemens maak nie. “Een van die grootste lesse wat ek in 2020 geleer het, en saam met my in 2021 invat, is dat die wêreld jou niks skuld nie, want dinge kan in ’n oomblik handomkeer verander. Ek gaan nie die nuwe jaar in om my eie ding te doen nie, maar soos die Here wil. Vir volgende jaar gaan ek voluit lewe, want jy weet nie wat die dag van môre gaan gebeur nie. Kom ons vier die lewe terwyl ons kan.”

Gert-Johan Coetzee, een van Suid-Afrika se voorste mode-ontwerpers, is nie van plan om twee keer in dieselfde slaggat te trap nie.

“Vir volgende jaar het ek en nie enige Nuwejaarsvoorneme nie. Ek het vir 2020 gehad en dit het die teenoorgestelde uitgedraai!”

Meer oor:  Jaaroorsig  |  Jaaroorsig 2020
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.