Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Celebs
Leer die lesse uit die lewe se uitdagings

Ilse Klink vertolk die karakter Diona in die fliek Stroomop wat op die oomblik in teaters te sien is. Sy beantwoord ’n paar van Terésa Coetzee se vrae.

Ilse Klink soos sy in Stroomop lyk. Foto: Lisa Skinner

Vertel ons ’n bietjie meer van ­Diona. Het jy enige lesse by haar geleer?

Diona is ’n beroepsvrou wat nie genoeg tyd met haar gesin deurbring nie omdat sy as ’n prokureur altyd besig is om te werk. Sy probeer om haar dogter se lewe te beheer deur haar in ’n beroep in te dwing waarin sy nie belangstel nie. Sy is lief vir haar gesin, maar sy is nie in staat om vir hulle te gee wat hulle nodig het nie – haar tyd. Ek het by Diona geleer dat ons nooit in beheer van alles in ons lewe kan wees nie. Ek het net soos Diona ook ’n bietjie control issues en ek werk daaraan. Die beste geskenk wat jy kan gee, is jou tyd.

As jyself met jou bagasie op so ’n trippie moet gaan, aan watter probleme sal jy aandag wil gee en lostorring?

Beslis my behoefte om altyd in beheer te wil wees. Ek dink dis wat ek moet laat los. Dit is baie beperkend om so te wees.

Die fliek word heel gepas in Vrouemaand vrygestel. Vertel ons ’n bietjie meer van die sterk vroue wat ’n belangrike rol in jou lewe gespeel het.

Vir seker my ma. Sy was ’n beroepsvrou, maar ook ’n uitstekende ma wat altyd die beste van haarself vir ons almal gegee het. Sy het van haar geboorte af probleme met haar gesondheid gehad, maar sy het daardeur geleef. Sy is ’n ware survivor. My heldin.

Hoe vier jy daagliks jou vrouwees?

Ek aanvaar die manier hoe ek lyk – ’n bietjie vreemderig met sproete – en ek plak dit nie toe met onderlaag nie. Ek hou van my lippe, my hoë wangbene, my glimlag, my groot tande. Ek hou van hoe my bruin oë saamglimlag en ek beklemtoon dit met ’n oogpotlood en maskara. My gunsteling-aanhaling is: “A woman without a fragrance is like a flower without scent”. So ek dra altyd parfuum. Op hierdie oomblik ruik ek na heuning en perskes.

’n Toneel uit die fliek Stroomop. Foto:

Sê maar jy kan enige vyf vroue (lewend of dood) kies om saam met jou op ’n pelgrimstog te gaan, wie sal dit wees en hoekom?

Maya Angelou, vir haar wys­heid en spiritualiteit. My ma Florence Klink vir haar diep liefde, omgee en wysheid. My tannie Valerie Geldenhuys wat nie meer saam met ons is nie, vir haar humor en wonderlike vermoë om stories te vertel oor familie en plattelandse goed. My dogter Tyler, wat baie wys vir haar jare is en vir haar insig, meelewing en haar veglus vir gelykheid vir alle mense. Meryl Streep, net om in haar kop te kan kom en uit te vind hoe sy haarself getransformeer het in een van die beste aktrises tot nog toe.

Is jy die tipe persoon wat fisieke uitdagings sal aanpak?

Ek is mal oor fisieke uitdagings en ek is mal oor stap en die buitelewe. Om Stroomop in die Noord-Kaap te verfilm was een van die grootste uitdagings wat ek in my lewe aangepak het. Ons het geroei, geswem, toneel gespeel, geklim, in ’n tent gebly en die hitte uitgestaan. Ek het myself leer ken tydens die laagste punt in my lewe, maar jy weet wat hulle sê: Jy leer net in die ongemaklikste, uitdagendste omstandighede.

As jy vir Suid-Afrikaanse vroue ’n boodskap van hoop kan gee, wat sal dit wees?

Die lewe sal vir jou baie uitdagings gee. Leer die lesse uit daardie uitdagings.

Meer oor:  Ilse Klink  |  Celebs  |  Stroomop  |  Vermaak
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.