Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Celebs
Lilibet eindelik op lys van troonopvolgers

Lilibet Diana Mountbatten-Windsor se naam is uiteindelik, sewe weke ná haar geboorte, amptelik op die troonopvolgingslys op die Britse koningshuis se webwerf geplaas.

Lilibet, genoem na haar oumagrootjie koningin Elizabeth, is agtste op dié lys ná haar pa, prins Harry, en ouer broer, Archie Mountbatten-Windsor, en die kinders van Harry se ouer broer, prins William – prins George, prinses Charlotte en prins Louis.

Harry se pa, prins Charles, sal die koningin ná haar afsterwe opvolg as monarg, met sy troonopvolger, William, tans in posisie nommer 2.

Die koninklike skrywer Omid Scobie, wat die nie-amptelike biografie Finding Freedom oor Harry en Meghan, hertogin van Sussex, se kort tydjie saam op die koninklike verhoog geskryf het, het enkele dae gelede op sosiale media gevra hoekom Lilibet se naam nog nie op die troonopvolgingslys geplaas is nie.

Buckinghampaleis het Maandag teruggekap deur bloot te sê dié lys word “periodiek” aangepas.

Lilibet is op 4 Junie in Santa Barbara, Amerika, gebore, waar die Sussexe hulle permanent gevestig het nadat Harry en Meghan in Januarie verlede jaar hul uittrede as senior koninklikes aangekondig het.

Dit het die koninklike webwerf slegs 15 dae geneem om Archie se naam ná sy geboorte in 2019 op die troonopvolgingslys te plaas.

Die Sussexe, om wie se koppe die storm van hul koninklike uittrede en gevolglike kommersiële planne net nie wil gaan lê nie, wil glo hê dat Lilibet net soos Archie in die private kapel van die koningin in die Windsor-kasteel gedoop word.

Prins Harry en Meghan, hertogin van Sussex, in 2018 tydens ’n besoek aan Dublin. Foto: Getty Images

’n Storm het ook om Lilibet se naam losgebars nadat Harry haar name met die aankondiging van haar geboorte bekend gemaak het. Daar is aanvanklik gemeen Harry sou sy ouma se toestemming gevra het om haar private familie-noemnaam as naam vir sy dogter te kies. Teenstrydige berigte, dat Harry die koningin bloot ingelig het oor die naam, het dadelik die ronde begin doen.

Benewens die memoires oor sy lewe wat aanstaande jaar gepubliseer sal word, het dit intussen bekend geword dat Harry ook sy persoonlike besittings wat nog in sy en Meghan se eertydse woning in Windsor, Frogmore Cottage, was, laat oppak het en dit na Amerika verskeep het.

Hy en Meghan het met hul uittrede gesê hulle sal dié woning, wat teen ’n astronomiese koste vir die Sussexe in ’n familiewoning omgeskep is, as hul Britse basis behou.

Hul huurkontrak verstryk aanstaande jaar. Tans woon Harry se niggie prinses Eugenie saam met haar man, Jack Brooksbank, en hul eersteling, August, in Frogmore Cottage.

Scobie het ook dae gelede ontken dat Harry, anders as wat die afgelope naweek in Brittanje berig is, aan ’n tweede memoires werk wat ná die koningin se dood uitgereik sal word.

Berigte oor ’n tweede boek wat ná die koningin se dood gepubliseer sal word, het die Britse media op die agtervoet gehad.

Paleisamptenare is reeds bekommerd oor wat Harry alles in sy memoires sal kwytraak en die skade wat dit aan die Britse monargie sal aanrig. Boonop val die publisering saam met die herdenking aanstaande jaar van Elizabeth se 70ste jaar op die troon.

Meer oor:  Lilibet  |  Koninklikes  |  Britse Koningshuis  |  Meghan Markle  |  Prins Harry
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.