Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Celebs
Lizz Meiring slaap nag in hok om geld vir diere in te samel

Die aktrise Lizz Meiring gaan ’n nag in ’n hok by Paws in Potchefstroom slaap, in ruil daarvoor dat elke mens of organisasie R20 aan dié diere-organisasie skenk.

Lizz Meiring en Volpina.

Sy noem dit Projek Paws. Meiring het immers self haar parmantige foksterriër-kruising Volpina (Italiaans vir “wolfmeisie”) vroeër by Paws in Potchefstroom aangeneem. Die organisasie bedien die hele Potchefstroom- en Ventersdorpomgewing.

“Hulle het erge geldnood omdat baie geldinsamelingsgeleenthede soos gholfdae weens die inperkingsregulasies nie meer kan plaasvind nie,” het Meiring Dinsdag gesê.

“Paws se mense ry met een bakkie om diere in nood te help. Intussen laai mense diere waarvoor hulle nie meer in hierdie tye kan sorg nie by Paws af, en hulle wys niemand weg nie.”

Paws se bakkie is ook al vodde en moet herstel of vervang word. “Dit sal wonderlik wees as iemand daarmee kan help,” is Meiring se pleidooi.

Sy het besluit om Projek Paws aan te pak nadat sy gesien het die hawebestuur is bereid om ’n nag in ’n hok daar deur te bring in ruil vir elke R5 000 wat ingesamel word.

“Ek het hulle laat weet ek sal ’n nag in ’n hok deurbring vir elke R10 000 wat geskenk word. Toe bel hulle Maandag en sê hulle het nou al R20 000 ingesamel. Ek kan weens my besige program net een nag in ’n hok deurbring, en dit sal op 26 Augustus wees. Ek is gewoond aan ongemak en vreemde situasies, so ek is glad nie bekommerd nie en sal net my slaapsak saamneem.”

Die geld wat tot dusver vir Paws ingesamel is, is ’n druppel aan die emmer.

Lizz Meiring met Volpina in haar arms wat sy by Paws aangeneem het, en haar ander aanneemhondjie, Babette.
Volpina, wat Lizz Meiring by Paws aangeneem het.

Herman van der Sluis, bestuurder van Paws, sê hul totale skuld wat onder meer die elektrisiteits- en hondekosrekening insluit, is R180 000. Daarbenewens moet die daaglikse bedryfskoste betaal word.

Meiring vra mense en organisasies of hulle R20 – dis minder as wat ’n koppie koffie kos – sal skenk.

“Die hawe is desperaat vir enige hulp. Daar is ’n groot behoefte aan warm beddegoed vir die diere en kos. Ons wil ’n resep vir veearts-goedgekeurde honde- en katkoekies kry en vra dat mense twee baksels maak: een om te verkoop en die geld aan Paws te skenk en een vir diere by Paws om te eet. Ons beplan ook ’n dagmark op 26 Augustus by Paws, waarvan ’n gedeelte van die wins ook aan Paws sal gaan.”

Jak Brits, ’n kunstenaar en inwoner van Potchefstroom wat self al ’n paar diere by Paws aangeneem het, sê hy is “Lizz se voete en hande” in die stad en help met die insameling van die R20-skenkings.

“Ons het fotograwe gereël wat op 26 Augustus teen betaling foto’s van jou diere kan neem, ten bate van Paws. Ons is nog besig om die plek te finaliseer. Daar is deurlopend ook ander projekte om Paws te help, al kan jou kinders net met die diere gaan speel.”

Mense wat betrokke wil raak by Meiring en Brits se projek ten bate van Paws, kan Brits by 072 905 1356 bel.

Dis hoe Lizz Meiring Projek Paws bemark.
Lizz Meiring gaan nou ’n nag in ’n hok deurbring om geld in te samel vir die Potchefstroomse dierehawe Paws.

Die rekeningbesonderhede waar skenkings inbetaal kan word, is:

P.A.W.S.

Nedbank

Rekeningnommer: 1120 758 521

Tak: Potchefstroom

Takkode: 198 765

Die besonderhede is ook beskikbaar op Meiring, Brits en Paws se onderskeie Facebookblaaie.

Meer oor:  Lizz Meiring  |  Potchefstroom  |  Geldinsameling  |  Diere
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.