Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Celebs
Lyk in meer gekry: ‘Aktrise red seun (4) voor sy verdrink’

’n Lyk wat Maandag uit ’n meer in Kalifornië gehaal is, is dié van die vermiste aktrise Naya Rivera (33).

Die polisie glo ook Rivera het met haar laaste krag haar vierjarige seun terug op die boot wat hulle gehuur het gesit voordat sy verdrink het. Geen gemene spel word vermoed nie.

Haar lyk is Maandag vroeg naby die oppervlak in die Pirumeer gekry. Die meer in daardie deel is tussen 11 m en 18 m diep met baie ruie plantegroei en bome onder die water.

Rivera (33) het Woensdag vermis geraak nadat sy ’n ponton by die Pirumeer gehuur en saam met haar vierjarige seun, Josey Dorsey, op die meer gaan vaar het. ’n Soektog is begin nadat die boot se huurtyd van drie uur verstryk het en ’n werknemer die boot aan die noordekant van die meer gekry het.

Josey was op die bootjie, maar Rivera was nêrens te vinde nie. ’n Reddingsbaadjie is op die boot gekry en Josey het die ander een aangehad. Hy het aan ondersoekbeamptes gesê dat hy en sy ma geswem het, maar dat sy nie weer op die boot geklim het nie.

Die Ventura-polisie het op ’n nuuskonferensie gesê dat hulle vol vertroue is dat die lyk wat in die meer gekry is die van Rivera is.

Bill Ayub, sheriff van die Ventura-distrik, sê Rivera se familie is in kennis gestel en die lyk is na die kantoor van die mediese ondersoeker geneem vir ’n lykskouing en formele identifikasie deur tandrekords.

“Daar is geen aanduiding dat daar gemene spel was nie en geen aanduiding dat dit selfmoord was nie,” sê Ayub.

Josey het aan die owerhede gesê dat hy en sy ma albei in die meer gaan swem het.

Ayub sê dit is nie duidelik wat gebeur het nie, maar Josey het aan ondersoekbeamptes gesê dat sy ma hom terug op die boot gedruk het, maar nie self in die boot geklim het nie.

Volgens Ayub het Rivera die laaste van haar kragte gebruik om Josey te red voordat sy dood is, berig CNN.

“Sy het genoeg energie gekry om haar seun weer op die boot te kry, maar nie genoeg om haarself te red nie.”

Rivera se pa, George Rivera (tweede van links) en ma Yolanda saam met lede van die Ventura-polisie, kom by die Pirumeer aan nadat Rivera se lyk gevind is. Foto: AP

Rivera het nie ’n reddingsbaadjie aangehad toe haar lyk gekry is nie.

Rivera het bekendheid verwerf vir haar rol as Santana Lopez in Glee. Die reeks oor ’n sangklub op hoërskool het 121 episodes oor ses seisoene en het in Maart 2015 ná ses jaar ten einde geloop.

Ander akteurs van die reeks is ook al dood. Die akteur Cory Monteith, wat die rol van die voetbalspeler Finn Hudson vertolk het, is in 2013 aan ’n oordosis dwelms dood en Mark Salling, wat Puck gespeel het, het in 2018 selfmoord gepleeg nadat hy skuld erken het vir die besit van kinderpornografie. Reuters

Meer oor:  Kalifornië  |  Verdrinking  |  Naya Rivera
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.