Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Celebs
Margaret Gardiner: ‘Dae is voorspelbaar onvoorspelbaar’

Margaret Gardiner probeer om nie blasé voor te kom nie, maar sy woon tog in Hollywood en dit ís ’n stad wat aan die rolprentwêreld behoort. Sy loop daagliks rolprentsterre raak in die winkels, in die park, of by die skool.

Margaret Gardiner sê dat die rolprentbedryf in Hollywood nes enige soortgelyke bedryf skuldig is aan die misbruik van kwesbare jong mense. Foto: Getty Images

“Daar is soveel partytjies en première,” sê die voormalige Mej. Heelal en joernalis. “Ek probeer om die meeste daarvan mis te loop. Ek hou meer daarvan om saam met my vriende en familie te wees. Ek is ook ’n ma, ’n vrou en ’n vriendin.”

Gardiner (58) is in Suid-Afrika om onder meer die eeufeesgeleentheid van die Universiteit Stellenbosch by te woon waar haar man, prof. André Nel, ’n eredoktorsgraad vir sy bydrae tot nanotegnologiese navorsing ontvang. Hulle het ’n 18-jarige seun, Brandon.

In Hollywood woon sy geleenthede by wat haar na aan die hart lê, veral dié wat met vrouekwessies te doen het, soos die premiére van A Wrinkle in Time met onder andere Oprah Winfrey en Reese Witherspoon in die rolverdeling.

Sy het onlangs deelgeneem aan ’n paneelbespreking by die universiteit van Suid-Kalifornië oor struikelblokke en oplossings vir vroue in die rolprentwêreld.

Gardiner sê die slegste deel van haar werk as vermaakjoernalis in Hollywood en moderedakteur van die Goldenglobes.com is dat daar ’n tekort aan konsekwentheid is. Maar dis ook vir haar die beste deel daarvan.

“My dae is voorspelbaar onvoorspelbaar. Ek reis omtrent twee keer per maand en ek kan nie baie ver vooruit beplan nie omdat dinge so vinnig verander. Dis besig en ek is dol daarop.”

Margaret Gardiner (regs) ten tyde van ’n paneelbespreking by die Golden Globes met Simon Garcia, Dwayne The Rock Johnson se dogter, en Corinne Foxx, die akteur Jamie Foxx se dogter.Foto: Facebook

Gardiner sê dat sedert bewegings soos #MeToo en #TimesUp vroue in die rolprentbedryf op die voorgrond geplaas het, dink sy dat mense versigtig is oor wat hulle sê en dat mense meer bewus daarvan is om meer inklusief te wees wanneer hulle met ’n nuwe projek begin.

Sy het self nooit enige gerugte van seksuele wangedrag gehoor oor vervaardigers soos Harvey Weinstein nie totdat dit verlede jaar op die lappe gekom het.

“Die aard van die bedryf is dieselfde as in enige ander bedryf waar magtige mense toegang het tot jong, ambisieuse juniors wat dalk nie bewus is van die grense waarop hulle geregtig is nie of nie verstaan hoe om situasies te hanteer nie.”

Dat misbruik plaasvind, is ’n feit, sê sy.

“Jong ma’s wat die broodwinners is en wat seksueel geteister word, is veral kwesbaar omdat hulle niemand het om hulle by die werk te verdedig as die persoon wat hulle teister hul baas is nie.”

“Dis nie beperk tot die vermaaklikheidswêreld nie.”

Gardiner sê dat sy as skoonheidskoningin – sy was Suid-Afrika se eerste Mej. Heelal in 1978 – ook onvanpaste toenadering en taalgebruik moes verduur.

Gardiner het haar vietse lyf behou en is nog betreklik onlangs in ’n minirok op die Cannes-rolpentfees in Frankryk opgemerk.

Sy sê dat sy op die oomblik weens ’n besering nie kan oefen nie en dat sy kan agterkom hoe dit haar liggaam beïnvloed. “Ek het op een of ander manier my elmboog en die spiere voor en agter my ribbekas seergemaak.”

Sy het ook haar skouer drie jaar terug gebreek. Met haar ma se kwynende gesondheid en uiteindelike heengaan verlede jaar het sy nooit weer teruggekeer na ’n oefenroetine nie.

“Ek oefen om te ontspan. Vir my gaan dit nie oor my voorkoms nie. Maar ek is gefrustreerd oor al die dinge wat ek voorheen as ’n gegewe aanvaar het, soos krag en soepelheid.”

Wat haar dieet betref, erken sy dat sy ’n gesonde eetlus het en amper alles behalwe bone eet. Sy eet soms selfs ’n sjokolade voor ontbyt en die meeste aande selfs vyf tot agt blokkies sjokolade ná aandete.

Sy het al onderhoude gevoer met sterre – van Charlize Theron tot Hugh Grant.

Sy sonder Viola Davis, van How to Get Away with Murder, uit as iemand met wie sy altyd ’n goeie onderhoud kan voer. “Daardie vrou praat altyd in sterk sinne. Ek is ook dol op Angelina Jolie. Sy gee altyd die beste onderhoude.”

Wie gaan die volgende groot name in die rolprentwêreld wees? Gardiner voorspel dat Timothy Chalamet van Call Me by Your Name en Ladybird nog groot opgang gaan maak.

Dit wat haar die meeste verras het oor Hollywood-sterre in haar lang loopbaan is dat sy meen sommige van die sterre het geen idee hoe om onderhoude te voer nie. “Selfs as jy nie oor jou familie wil praat nie moet jy vir joernaliste iets gee om oor te skryf, anders is daar geen punt daarin dat jy bloot net vir ’n onderhoud opdaag nie.”

  • Lesers kan haar gaan volg op Facebook en Instagram om by te hou met Gardiner se lewe.
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.