Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Celebs
Margit groet Dowwe Dolla ná meer as 2 dekades

Koebaai, Dowwe Dolla!

Ná meer as twee dekades gaan Dolla se stiletto’s en blink rokke weggepak word.

Die aktrise Margit Meyer-Rödenbeck neem vanjaar “met ’n bang” afskeid van haar gewilde en geliefde alter-ego.

Dawie Roodt, aanbieder van ‘Ontbytsake’ op kykNET, en Margit Meyer-Rödenback as Dowwe Dolla. Foto: Melinda Meyer

Die hoofstuk is verby, sê Meyer-Rödenbeck.

“Dankie, dit was lekker, dit was ’n voorreg, maar kan ek nou my lewe terugkry?”

Meyer-Rödenbeck het Saterdagoggend op die kykNET-joernaalprogram Ontbytsake gepraat oor haar besluit om Dowwe Dolla vaarwel toe te roep.

Margit Meyer-Rödenbeck
Dowwe Dolla

Mense sal wel vanjaar nog die geleentheid kry om na Dolla se kwinkslae op die verhoog te gaan luister.

“My dagboek is vanjaar nog lekker vol met Dolla. Dis nie dat ek moeg is vir haar nie – en ek love Ouma Dowe Dolla – maar êrens moet jy die streep trek. Ek kom by niks anders uit nie.

“Ek word vandeesmaand 50 jaar oud. Ek wil nie op 75 sê ‘ek wou nog’ nie. Ek wil eerder sê ‘ek gaan nog’.”

Dowwe Dolla gaan ook nie meer as seremoniemeester of tydens vroueoggende optree nie.

“Ek wil nou fokus op ander projekte. Ek kry dikwels nie die tyd daarvoor nie, want sy annekseer my al so lank al.

My radiodrama lê al ses jaar op my rekenaar – net die sinopsis. My kinderboek lê al tien jaar op rekenaar – net die sinopsis. Ek gaan dit nooit gedoen kry nie . . . Partykeer moet jy sekere deure toemaak om ander deure oop te maak.”

Dolla is in die 1990’s as ’n kameekarakter in ’n teaterproduksie geskep.

“Sy het eintlik op die ingewing van die oomblik ontstaan. Die plan was nooit dat sy my lewe sou oorneem nie. En aan die begin was dit moeilik. Ek wou gehad het mense moet my ernstig opneem. Hoekom neem julle my nie ernstig op nie? Want jy is Dowwe Dolla. Nou is dit nie meer so nie.

“Sy is stuitig, maar dis lekker. En die ouma is vir my so lekker. (Die ouma is ’n paar jaar gelede geskep.) Ouma is vreesloos; glad nie PC nie. Sy is reguit. Ek het beslis in ’n stadium ’n liefde-haat-verhouding met Dolla gehad, maar ek gaan haar mis. Dis hoekom ek haar hierdie jaar gaan speel.”

Meyer-Rödenbeck beplan om nuwe karakters te skep.

Sy wil graag in televisie werk. Sy het ook konsepte vir ’n sitkom en ’n kinderprogram.

“My opleiding is wel in teater. Ek het nie die know all van televisie nie, so ek moet tyd afstaan om daardie kennis op te doen.

“Dolla is – vir die oomblik – nog nie verby nie, mense moet nou kom kyk as hulle wil. So ek gaan speel dat ek hik. En dis goed.”

Sy en die pianis Coenraad Rall voer die produksie Dowwe Dolla: Nou of nooit by al die kunstefeeste op, buiten die Aardklop Nasionale Kunstefees waar dit verlede jaar gedebuteer het. Dit sal ook deur die loop van die jaar elders op die planke wees.

“Ek gaan haar mis, maar my kop is so vol ander dinge.”

* Ontbytsake word Sondag om 07:30 op kykNET (DStv-kanaal 144) herhaal.

Meer oor:  Verhoog  |  Teater  |  Televisie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.