Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Celebs
Margit moeg om ‘ge-yoyo te word’

Dit is oukei om soms gatvol te voel en daaraan uiting te gee – almal hoef nie die heeltyd stil te bly nie.

So sê Margit Meyer-Rödenbeck, ook bekend as Dowwe Dolla, Maandag in reaksie op ’n navraag oor haar Facebook-inskrywing wat lui: “Ek is so gatvol. My motto ‘dag vir dag’ raak al hoe moeiliker.”

Margit Meyer-Rödenbeck
Margit Meyer-Rödenbeck

Diegene wat haar goed ken sal weet dat sy eintlik glad nie ’n negatiewe mens is nie.

“Ons kry ons gatvol-weke en gatvol-dae. Ek is nou moedeloos – môre voel ek weer beter,” sê Meyer-Rödenbeck.

“Ek dink baie mense voel so en dat ons dit nou en dan moet voice. Jy mag dit vir jouself erken. Ons hoef nie die heeltyd superheroes te wees nie.”

Sy verduidelik sy voel gefrustreerd met al die ellende en korrupsie wat met die Covid-19-pandemie gepaardgaan.

“Dit is net onmoontlik om te dink dat ’n mens nie nou en dan gatvol raak nie. En hoewel my motto ‘dag vir dag’ is, raak party dae lank. En ek dink die meeste mense se gemoed is op en af. Die een dag voel dit vir my ‘yes, ek gaan die wêreld oorwin’ en dan die volgende dag dink ek ‘jho…’ ”

Sy en haar man, Jurgen Human, beraam planne om die inkomstekanale van Die Boer-teaterrestaurant in Durbanville oop te maak. Hulle het al met wegneemetes begin en is besig met ’n digitale platform vir aanlyn optredes.

“Die kunstenaars is in hulle kanon. As ek kyk na al my produksies wat ek op die planke het, my verhoogbestuurders, my jong akteurs – hoe gaan hulle oorleef?”

Die een dag voel dit vir my ‘yes, ek gaan die wêreld oorwin’ en dan die volgende dag dink ek ‘jho…

Sy hou ook haar lyf onderwyser en help haar 11-jarige dogter, Luca, met tuisonderrig.

“Die homeschooling is definitief nie ’n natuurlike ding vir my nie.”

Dit voel vir Meyer-Rödenbeck of die regering effens moedswillig is met die skade wat hulle in die ekonomie aanrig.

“Die hele land verarm, maar veral ons land en sy mense wat klaar baie swaargekry het. Dit maak glad nie sin dat al daai belastinggeld verlore gaan nie,” sê sy.

“ ’n Mens bevraagteken wel goeters en ons moet – party goeters is net onlogies. Hoekom mag mense kerk toe gaan, maar niemand mag op ’n geïsoleerde strand wees nie?”

Maar terselfdertyd wil sy nie in die leiers se skoene staan en hul besluite hoef te neem nie, want dis onbekende grond.

“Ek het vir baie van hulle ongelooflike respek vir hoe hulle die besluite maak en deurvoer, maar ek het ook baie vrae oor baie besluite wat geneem word. Alles is nie altyd deurdag nie en ek dink nie die ‘alles’ is altyd vir die beswil van almal nie,” sê Meyer-Rödenbeck.

“Aan die begin van hierdie pandemie het ons gesê ons moet net die virus oorleef, want ons moet – dit is ’n ernstige saak. Maar nou raak dit vir my baie meer as net die virus oorleef. Daar is ’n klomp ander faktore wat ons nou ook moet oorleef.”

Soos die meeste mense voel sy tans ook onseker oor wat die toekoms inhou.

Meyer-Rödenbeck is van mening dat die regering bydra tot Suid-Afrikaners se onsekerheid omdat regulasies kort-kort verander word.

“Ek is gatvol om geyoyo te word. Dit is nie goed vir die bevolking se gemoed nie. Daar is nie ’n sperdatum hieraan nie. Die kruitvat is die onsekerheid,” sê sy.

“Waar begin ’n mens weer? Dit is ’n groot reset button. Daar sal nooit weer ’n ‘normaal’ wees nie, selfs nie eens ’n ‘nuwe normaal’ nie. Die lewe is anders.”

Die menslike faktor wat dié nuwe lewenstyl die samelewing ontneem het, maak dit vir haar nog moeiliker.

“Dit is daai menslike faktor waarby jy afpak wat jou gewoonlik deurtrek,” verduidelik sy.

“Ons almal ry ’n wipwarit – op en af, op en af. Ons moet ophou dink as ons onder in die gat sit dat ons ’n swakkeling is. Hoewel ek baie bekommerd is en dink dat baie mense se gemoed af is, moet ons nooit hoop verloor nie.”

Meer oor:  Margit Meyer-Rödenbeck  |  Inperking  |  Covid-19
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.