Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Celebs
Markle-sage ’n skandaal vir koningshuis

Die Markle-sage is die ergste skandaal wat die Britse koninklike gesin teister ná die jare waarin prins Charles en Diana, prinses van Wallis, Britse poniekoerante se voorblaaie oorheers het met die “War of the Waleses”.

Die onmin tussen die Markles – met die nuwe hertogin van Sussex se pa, Thomas Markle, en halfsuster, Samantha, aan die voorpunt – kook onverpoosd voort ondanks Thomas se besluit om sy laaste onderhoud Sondag aan die Mail on Sunday toe te staan.

Sleutelbord-oorlog

Samantha kan nie haar sleutelbord-oorlog teen haar halfsuster laat vaar nie en elke reaksie-twiet word ’n poniekoerant-storie waarin al die ou geskiedenis van die Markles weer opgewarm word.

In Thomas se onderhoud Sondag het hy vertel hoe hy nou “klaar is” met die koninklike familie, dat hy prins Harry en Meghan liefde toewens, maar dat hy graag sy normale lewe wil terughê en nou eers met vakansie wil gaan om “vrede” te kry. Hy het ook die kommer uitgespreek dat hy nooit weer sy dogter sal sien nie, maar dat die egpaar hom sal onthou wanneer hul kinders met die “Markle-neus” gebore word.

Samantha noem in haar jongste tirade teen haar halfsuster – wat sy meer as ’n dekade laas gesien het of mee kontak gehad het – Meghan “harteloos, arrogant en onmenslik”. In nog ’n twiet bestempel sy die nuwe hertogin as ’n “gulsige en vals humanis op die wêreldverhoog”.

Samantha, wat reeds met die bekendmaking van Meghan se verhouding met prins Harry ’n sosialemediaveldtog teen haar halfsuster begin het, se byna daaglikse vitrioel stook die vure van familie-onmin net al meer.

Meghan, hertogin van Sussex. Foto: Getty Images

Geen troukaartjie vir die pa van die bruid

In Thomas se onderhoud met die Mail on Sunday, waarvoor hy nie vergoeding gekry het nie, vertel hy hoe teleurgesteld hy was dat hy nie eens ’n troukaartjie na die troue ontvang het nie. Hy sê hy sou dié kaartjie graag in ’n fotoraam wou sit. Sy versoek om ’n toespraak op die onthaal te lewer is ook deur Meghan van die hand gewys.

Hy is ook kennelik ongelukkig dat Meghan se ma, Doria Ragland, beter behandeling by die koninklike gesin kry as hy.

Intussen word berig dat Doria voorbereidings tref om na Brittanje te verhuis om naby haar dogter te wees.

Samantha Markle se twiet in reaksie op die verslaggewer Richard Kay se meningsartikel oor hoe die koninklikes Thomas Markle hanteer het.

Die fopfoto’s en daai telefoonoproep

Thomas voel sy dogter het hom geheel en al verstoot, veral nadat prins Harry hom teen die media gewaarsku het en Thomas steeds saam met ’n fotograaf gewerk het om “gunstige” foto’s van hom te neem. Samantha sê dit was haar idee dat haar pa met ’n fotograaf moes saamwerk om hom in ’n “gunstige” lig te stel.

Thomas vertel ook hoe hy ’n telefoongesprek met prins Harry beëindig het omdat dié hom geroskam het oor sy samewerking met die fotograaf. Die prins is voor die publikasie van beeldmateriaal, wat wys dat Thomas saam met die fotograaf gewerk het, daaroor ingelig. Toe hy Thomas daaroor vra, het Thomas ontken dat hy met die fotograaf saamgewerk het.

Enkele dae nadat Thomas se samewerking met die fotograaf deur die Daily Mail ontbloot is, het hy weer met sy dogter en prins Harry gepraat. Thomas sê hy was toe in die hospitaal ná ’n hartaanval en dit is tóé dat hy die telefoongesprek met die prins beëindig het. Hy het onder meer vir die paartjie gesê dit sal beter wees as hy sterf ...

Samantha Markle sluit gewoonlik Kensington-paleis se Twitter-naam by haar twiets in.

Markle word ‘misbruik’

Thomas se seun, Thomas jr., wat nou geruime tyd nie iets oor sy bekende halfsuster te sê gehad het nie, het ook Sondag weer tot die bokskryt toegetree deur te sê sy halfsuster misbruik hul pa se liefde en dat Meghan “selfsugtig en selfs wreed is”, berig die Daily Mail.

Die hertogin, wat tot dusver geen reaksie op enige van haar gesin se uitlatings getoon het nie, wil volgens berigte – vriende wat met verslaggewers van die Daily Mail praat – wag tot die stof gaan lê. Die moontlikheid dat sy binnekort na Amerika sal reis en wel haar pa sal besoek, is nie uitgesluit nie, hoewel Samantha ook dié moontlikheid op Twitter betwis het.

Thomas het al by herhaling gesê dat alles wat sy dogter bereik het, deur sy toedoen was.

Hy maak dit ook in onderhoude, soos in die Daily Mirror, duidelik dat hy nie tussen sy twee dogters kan kies nie. Volgens hom het Meghan hom gevra om nie weer met Samantha te praat nie, maar Thomas weier om dit te doen.

Feitlik elke berig wat ’n Britse poniekoerant oor die nuwe hertogin skryf, word deur Samantha Markle op haar tydlyn geplaas met onvleiende reaksie daarby.

Diskresie

Richard Kay, ’n skrywer oor die koninklikes wat een van prinses Diana se vertrouelinge in die media was, het in ’n artikel Maandag in die Daily Mail geskryf oor die prys wat die koninklike familie betaal met Thomas se onderhoude.

In die koninklike familie is diskresie die wagwoord en word daar van vriende en familie verwag om nooit ’n woord te verklap of munt te slaan uit hul verbintenis met lede van die koningshuis nie.

Samantha het in ’n onderhoud met die TV-program Good Morning Britain erken dat sy geld maak uit haar suster en die koninklikes.

Met die Markles wat al uitlatings oor koningin Elizabeth, prins Harry en selfs Diana gemaak het, is dit duidelik dat iets gedoen sal moet word om Meghan se familie se vere te streel sonder dat dié pogings ook voorbladnuus word. 

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.