Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Celebs
Mary Dreyer ‘het haar lot aanvaar’

Die aktrise Mary Dreyer (71) wat Saterdag in Kaapstad dood is, het haar lot aanvaar.

Só onthou die aktrise Diane Wilson haar jare lange vriendin wie se gesondheid die laaste paar jaar al hoe verder verswak het.

Mary Dreyer in Mirakel.

“Sy het nie dinge bevraagteken nie. Die laaste byna vyf jaar was sy regtig nie gelukkig nie.”

Dreyer, wat op 11 Oktober 72 sou word, het in November 2014 ’n voorval by haar huis in Houtbaai gehad.

“Haar man (Jan Corewijn) het in die nag wakker geword en agtergekom sy is nie in die bed nie. Hy het haar in die motorhuis gevind. Niemand weet presies wat haar makeer het nie, maar sy moes uiteindelik ’n breinoperasie kry.”

Die Corewijn-gesin is gewaarsku dat die operasie moontlik tot verlamming aan Dreyer se linkerkant kon lei. Dit het ook gebeur.

“Sy het later ’n bakteriese infeksie opgedoen en moes ’n versorger kry. Haar sig het baie verswak. Sy kon nie meer lees nie en was nie meer onafhanklik nie. Sy was sonder enige intellektuele stimulering en het baie geïsoleerd geraak.”

Wilson, wat teenoor Dreyer in die toneelstuk Gertrude Stein and a Companion gespeel het, het haar later dikwels na die teater geneem.

“Die afgelope byna vyf jaar het sy baie swaargekry. Sy het boonop op ’n dag uit haar bed geval en haar heup gebreek. Sy kon later ook nie meer behoorlik ’n gesprek voer nie. Teen die einde het sy geweldig baie pyn gehad.”

Mary Dreyer in haar jonger dae.

Dreyer is Saterdag in die William Booth-gedenkhospitaal in Kaapstad dood.

“Dit was ’n uitkoms vir haar,” sê Wilson.

“Sy was ’n briljante aktrise met soveel humor en soveel gees.”

Dreyer het in die 1990’s die Fleur du Cap-prys as beste aktrise en as beste vroulike byspeler gewen. Dit was vir haar rol in Reza de Wet se toneelstuk Drif waarin sy die rol van Sussie, die suster met die boggelrug, vertolk het.

Haar rol in De Wet se Mirakel het in dieselfde jaar aan haar die Fleur du Cap-prys as beste vroulike byspeler besorg.

Dreyer het in flieks soos That English Woman, Dingetjie en Idi en die mini-reeks Meulenhof se mense verskyn.

As verhoogaktrise het sy dikwels teenoor die bekroonde regisseur Marthinus Basson gespeel.

Hy was ook haar regisseur in sommige toneelstukke.

“Sy was so fyn, beskaaf, uiters intelligent en ’n plesier om mee te werk,” sê Basson.

Hul paaie het by die Ruimte-teater in 1974 gekruis.

Hulle het mekaar later weer by die ontslape regisseur Dirk de Villiers se C-Films en later by die destydse streeksraad Kruik raakgeloop.

“Sy kon ’n wye verskeidenheid van rolle aanpak in sowel Engels as Afrikaans – van satire en klug tot tragedie. Sy het verskeie rolle in eerste produksies van Reza de Wet gespeel. Twee het Reza spesiaal met haar in gedagte geskryf,” sê Basson.

Baie beelde kom na hom terug.

“Miskien is die insiggewendste een met die Mavis Taylor-produksie van ‘tis Pity she’s a Whore waar ek haar in die gang van die Arena-teater gesien staan het op pad verhoog toe. Sy was op die foon en ek kon sien iets is fout. Oomblikke later tree sy voor my in die ry in net voordat ons op die verhoog moes loop. ‘Is jy oukei?’ vra ek. ‘My pa is nou net oorlede. Nou ja toe . . .’ en toe loop ons op die verhoog. Niemand sou weet nie. Trane was vir later. Ek dink aan haar met oneindige liefde.”

Diane Wilson en Mary Dreyer in Gertrude Stein and a Companion.

Dreyer het in die 1970’s saam met Pieter-Dirk Uys in die produksies Black Beauty and the Boss en Snow White and the Special Branch in die Labia-teater opgetree.

“Ag, ou Marytjie,” sê Uys.

“Die een wat so lekker kon lag. Pragtige aktrise. Ek het haar lanklaas gesien, maar ek sal altyd daardie lag onthou. Ons het mekaar altyd op die verhoog stip in die oë gekyk en ons wou onsself natmaak van die lag.”

Die regisseur Gerrit Schoonhoven onthou die produksie Beckett/Bêkdit wat hy saam met haar gedoen het.

“Dit was ’n produksie vir Kruik. Toe weier Samuel (Beckett, die dramaturg) dat ons Endgame doen weens ’n kulturele boikot. Ons het toe die visuele van Beckett se toneelstukke gebruik en dit ingevul met fragmente van die boikot – ook van skrywers uit stukke wat verbied is. Mary was briljant en dapper en haar kennis van toneel het baie bygedra tot die keuses en resultaat.”

Dreyer word oorleef deur haar man en twee dogters, Ondine en Skye Corewijn.

* ’n Gedenkdiens vir haar word op 12 September om 11:00 by die Baxter-teater in Kaapstad gehou.

Meer oor:  Pieter-Dirk Uys  |  Teater  |  Reeks  |  Aktrise
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.