Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Celebs
Media ‘skep histerie’ om Harry, William

Sekere dele van die media skep ’n “histerie” om die verhouding tussen prins Harry en sy broer, prins William, het ’n bron na aan Harry volgens CNN gesê.

William se sogenaamde “kommer” oor sy jonger broer se geestesgesondheid ná die uitsending van ’n nuwe TV-dokumentêr, het ook net die vure in die Britse media aangeblaas. Opskrifte soos “Royals Fear for ‘fragile’ Harry and Meghan” en “William’s Fears For Harry” was Dinsdag in talle Britse koerante te sien.

Harry And Meghan: An African Adventure, is verfilm tydens die Sussexe se onlangse besoek aan Suider-Afrika. In die dokumentêr praat Harry openhartig oor sy geestesgesondheidsprobleme, terwyl Meghan haar hart oopmaak oor die fel mediabelangstelling.

Ook Harry se antwoord op die joernalis Tom Bradby se vraag of daar inderdaad ’n afstand tussen hom en William gekom het, was Dinsdag voorbladnuus in Brittanje.

Prins William en prins Harry. Hul ma, Diana, wou altyd gehad het die twee broers moet daar wees vir mekaar, sê Richard Kay, ’n joernalis wat Diana dikwels in haar vertroue geneem het. Foto: Getty Images

Harry het erken dat “dinge al wel” tussen hulle skeefgeloop het en dat hulle tans verskillende paadjies volg en mekaar weens hul werkskedules min sien.

“Maar ek is ontsettend lief vir hom en die meerderheid van die goed (mediaberigte) is . . . wel . . . word uit niks geskep. Maar as broers het jy goeie en slegte dae.” Hy het ook gesê hy weet William sal altyd daar wees vir hom, net soos wat hy altyd vir William daar sal wees.

Richard Kay, ’n koninklike verslaggewer vir Daily Mail, het Dinsdag geskryf William en Harry se ma, Diana, wou gehad het haar seuns moet altyd daar wees vir mekaar. Kay was een van die medialede vir wie Diana vertrou het. Sy het gereeld vir hom nuuswenke gevoer en hulle is ook saam in sy motor afgeneem.

Die stelselmatige skeiding tussen die twee broers is beklemtoon toe verlede jaar aangekondig is dat die Sussexe nie soos verwag in die wooneenheid langs die Cambridge-gesin in die Kensingtonpaleis-kompleks sou intrek nie.

Later is ook aangekondig die twee broers se huishoudings verdeel in twee en dat hul gesamentlike stigting ook ontbind word.

Paleisamptenare het ook Maandag, ’n dag nadat die dokumentêr uitgesaai is, aan die BBC gesê William is “bekommerd” oor sy broer se welstand.

Die bron wat met CNN se koninklike beriggewer, Max Foster, gepraat het, sê die media se reaksie op Harry se woorde grens aan histerie.

Volgens die bron het Harry doodgewoon ’n eerlike antwoord op Bradby se vraag gegee en bygevoeg “die poniepers en die inligting van sogenaamde amptenare in die binnekringe van die paleis en vriende is tekenend van die histerie teen prins Harry en Meghan”.

Die bron het bygevoeg die mense om die koninklike familie is te bang en sonder ervaring om die Sussexe, wat die monargie eiehandig gemoderniseer het, na waarde te skat.

* Die dokumentêr is Donderdag om 20:00 op BBC Lifestyle (DStv, kanaal 174) te sien.

Meer oor:  Prins William  |  Prins Harry
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.