Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Celebs
Meghan aan Oprah: 'Ek wou nie meer lewe nie'

Selfdood, rassisme en onvoldoende ondersteuning is van die redes dat prins Harry en Meghan, hertogin van Sussex, ’n nuwe lewe buite die koninklike kou gesoek het.

Die Sussex-egpaar verwag ook ’n dogtertjie in die Amerikaanse lente, het hulle in ’n eksklusiewe onderhoud met Oprah Winfrey op die Amerikaanse TV-netwerk CBS gesê.

Meghan vertel gedurende die onderhoud, waartydens sy soms met ’n geboë kop sit of telkens trane wegvee, dat sy selfdood-gedagtes gehad het.

“Ek wou nie meer lewe nie. Ek was skaam om dit te verwoord en skaam om dit aan Harry te erken. Maar ek het besef as ek dit nie sê nie, sou ek dit doen. Ek wou eenvoudig nie meer lewe nie. Dit was ’n duidelike, werklike, vreesaanjaende en ’n alomteenwoordige gedagte.”

Sy het probeer om hulp te kry, maar ’n senior persoon in die paleis het vir haar gesê sy kan nie vir behandeling gaan nie omdat dit swak op die koningshuis sou reflekteer.

Harry sê later in die onderhoud hy het ook nie aanvanklik by die familie gaan hulp vra toe Meghan selfdood oorweeg het nie. Hy het eers later die moed bymekaargeskraap om met senior paleisamptenare en die familie te gaan praat.

Geen hulp is aangebied nie.

Oor die raselement sê Harry daar was reeds vroeg in sy verhouding met Meghan gesprekke oor hoe hul kinders eendag sal lyk.

Prins Harry en Meghan, hertogin van Sussex, het vele opspraakwekkende uitsprake tydens hul onderhoud met Oprah Winfrey gemaak. Foto: Reuters

Meghan vertel dat familielede gesprekke met Harry gevoer het oor hoe donker Archie se velkleur sou wees. Omdat Archie nie outomaties by geboorte ’n prins sou wees nie, het die paleis geredeneer hy sal nie koninklike beskerming geniet nie. (Archie word eers ’n prins wanneer sy oupa prins Charles koning word.)

“Hy moes veilig wees. Die titel sou hom beskerming gee. Ons seun moes veilig wees.”

Oor die gebrek aan ondersteuning van die koningshuis, antwoord Harry dat dít een van die redes was dat hy en Meghan besluit het om as senior koninklikes terug te staan. Hy ontken egter dat hy sy ouma koningin Elizabeth in die duister gehou het oor sy planne en sê hy het in die tyd toe hy en Meghan tydelik in Kanada gewoon het, drie keer met die koningin en twee keer met sy pa oor hul planne gepraat totdat Charles ná die tweede telefoonoproep nie meer sy foon wou antwoord nie.

Harry het verder gesê sy pa en broer, prins William, is gevangenes in die koninklike stelsel en dat hulle nie soos hy kan “ontsnap” nie.

As dit nie vir die erflating van sy ma, Diana, ontslape prinses van Wallis, was nie, sou hulle nie kon terugstaan as senior werkende lede van die koninklike gesin nie. Die finansiële ondersteuning wat hy van die koninklike gesin gekry het, is in die eerste kwartaal van verlede jaar gestaak.

* Hou Netwerk24 dop vir meer oor dié storie.

* Die onderhoud met Oprah kan Maandag om 19:30 op M-Net (DStv-kanaal 101) gesien word.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.