Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Celebs
Meghan en Harry hul koninklike titels kwyt

Prins Harry en sy vrou, Meghan, die hertogin van Sussex, is nie langer werkende lede van die koninklike familie nie en sal ook nie meer koninklike pligte uitvoer nie.

Hulle sal dus ook nie meer geld uit die staatskas kry nie, blyk uit ’n verklaring van Buckingham-paleis wat Saterdag uitgereik is.

Kort nadat dié verklaring uitgereik is, het koningin Elizabeth self ’n verklaring oor die toekoms van haar kleinseun en sy vrou uitgereik.

Sy sê sy is bly dat hulle ná maande se gesprekvoering, en veral die mees onlangse gesprekke, saam ’n konstruktiewe en ondersteunende pad gevind het vir prins Harry en sy gesin.

“Harry, Meghan en Archie sal altyd baie geliefde lede van die familie wees,” lui die verklaring.

“Ek besef watter uitdagings hulle oor die laaste twee jaar ervaar het weens die intense belangstelling in hulle en ek ondersteun hul wens vir ’n meer onafhanklike lewe.

“Ek wil hulle bedank vir hul toegewyde werk oor die land heen, die Statebond en verder, en ek is veral trots op hoe Meghan so vinnig een van die familie geword het.

“Dit is my hele familie se hoop dat vandag se ooreenkoms hulle sal toelaat om ’n gelukkige en vreedsame nuwe lewe te bou.”

Meghan en Harry
Meghan, hertogin van Sussex, Prins Harry en Koningin Elizabeth by Buckingham-paleis in Junie 2018. Foto: Reuters

Die koningin se verklaring het gevolg kort ná ’n verklaring deur Buckingham-paleis waarin gesê is die hertog en hertogin van Sussex is dankbaar vir die ondersteuning van die koningin en die koninklike familie voordat hulle begin met die volgende hoofstuk van hul lewens.

Luidens die verklaring is ’n ooreenkoms bereik waarvolgens hulle nie langer koninklike pligte sal uitvoer nie.

Dit sluit ook amptelike militêre afsprake in. 

Hulle sal dus nie meer staatsbefondsing kry nie. 

Met die koningin se goedkeuring gaan die Sussexe voort met hul private welsynsprojekte.

“Hoewel hulle nie meer die koningin amptelik kan verteenwoordig nie, het prins Harry en sy vrou dit benadruk dat alles wat hulle doen, die waardes van haar majesteit sal handhaaf.

“Omdat hulle nie meer werkende lede van die koninklike familie is nie, sal hulle nie langer hul HRH-titels gebruik nie.

“Die hertog en hertogin wil ook die geld terugbetaal wat bestee is aan die opknapping van Frogmore Cottage, wat hul tuiste in Engeland sal bly.

“Buckingham-paleis lewer nie kommentaar oor die besonderhede van veiligheidsreëlings rondom die Sussexe nie. Daar is goed gevestigde onafhanklike prosesse om vas te stel of maatreëls wat deur die staat befonds is, nodig is.”

Luidens die verklaring geld die nuwe reëling van die herfs (die Britse lente) van 2020.

Meer oor:  Meghan En Harry
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.