Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Celebs
Meghan glo onbewus van ‘bloed aan haar diamante’
Meghan, hertogin van Sussex, met die oorbelle wat sy as trougeskenk van die Saoedi-Arabiese kroonprins gekry het. Hier dra sy die oorbelle in November 2018 na ’n verjaardagete ter ere van prins Charles se 70ste verjaardag. Foto: Getty Images

Die glans van die diamantoorbelle wat Meghan, hertogin van Sussex, op ’n amptelike besoek aan Fidji gedra het, het verdof.

Die oorbelle was ’n trougeskenk van die Saoedi-Arabiese kroonprins wat daarvan beskuldig word dat hy opdrag gegee het vir die bloedige en grusame moord op die joernalis Jamal Khashoggi.

Khashoggi, ’n vurige kritikus van die politieke bestel in sy geboorteland, Saoedi-Arabië, het vir The Washington Post gewerk en op 2 Oktober 2018 verdwyn nadat hy die Saoedi-Arabiese ambassade in Istanbul, Turkye, besoek het om sy egskeidingsdokumente te kry.

Hy is in die ambassade ingewag deur ’n moordbende wat hom gemartel en vermoor en sy lyk in stukke gekap het.

Khashoggi se verdwyning was weke lank groot nuus wêreldwyd totdat Saoedi-Arabië op 20 Oktober uiteindelik gesê het daar is in ’n ondersoek bevind Khashoggi is dood in ’n “bakleiery” nadat hy hom verset het teen pogings om hom terug te neem na Saoedi-Arabië.

Daar is dadelik ná Khashoggi se verdwyning en moord ’n vinger gewys na kroonprins Mohammed bin-Salman.

Pres. Joe Biden van Amerika het verlede Vrydag ’n verslag van die Amerikaanse intelligensiediens (CIA) bekend gemaak waarin bevind is dat bin-Salman die moord goedgekeur het.

Meghan het versuim om aan paleisamptenare te sê die oorbelle was ’n trougeskenk van bin-Salman.

Die paleis gee gebruiklik inligting aan koninklike korrespondente oor uitrustings en juweliersware wat op koninklike toere gedra word.

Luidens ’n eksklusiewe berig Woensdag in die Londense koerant The Times het ’n paleisamptenaar aan die publikasie gesê prins Harry en Meghan het aan hom gesê die juweliersmaatskappy Chopard het die oorbelle aan Meghan geleen.

Meghan het die oorbelle skaars drie weke ná die moord op Khashoggi gedra.

The Times, wat Woensdag ook berig het dat een van Meghan en Harry se senior personeellede haar by paleisowerhede gaan verkla het weens beweerde boeliegedrag, het Meghan kans gegee om op Woensdag se beriggewing te reageer.

In ’n brief van haar regspan sê Meghan hoewel sy aan haar spanlede kon gesê het die oorbelle word aan haar geleen, “het elke relevante lid van haar span” geweet wie die oorbelle aan haar gegee het. Sy was ook onbewus van die bewerings dat die kroonprins by Khashoggi se dood betrek word.

Haar regspan voer verder aan aangesien die oorbelle ’n geskenk van ’n buitelandse staatshoof was, word dit as eiendom van die kroon beskou. Dit is waarom Meghan gesê het die oorbelle is geleen.

Alle juweliersgeskenke wat aan koninklikes gegee word, word as eiendom van die kroon beskou, sê Lauren Kiehna, skrywer en redakteur van die blog The Court Jeweller.

Meghan ontken dat sy ooit gesê het die oorbelle is by ’n juwelier geleen.

Volgens The Times het ’n lid van die Sussexe se personeel, wat verantwoordelik is daarvoor om ’n register van geskenke op te stel, die oorbelle herken en dit is opgeteken as ’n geskenk van die kroonprins. Amptenare was egter te bang om die saak tydens die toer met Harry en Meghan op te neem, weens vrees vir hul reaksie.

Toe Meghan later die jaar weer die oorbelle na ’n verjaardagete vir prins Charles dra, het ’n personeellid Harry oor die herkoms van die oorbelle gekonfronteer, berig The Times.

Harry was volgens The Times se bron “geskok” toe hy besef ander mense weet ook wat die oorsprong van die oorbelle is. – Aanvullende bronne: BBC.com, The Times en Skynews.com

Meghan het die oorbelle in Oktober 2018 vir die eerste keer in die openbaar gedra gedurende ’n amptelike besoek aan Fidji. Foto: Getty Images


Meer oor:  Meghan Hertogin Van Sussex  |  Fidji  |  Diamante
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.