Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Celebs
Meghan het glo dié aanval op haar karakter verwag

Karaktermoord, ’n smeerveldtog, seergemaakte gevoelens en ’n verskriklike atmosfeer op kantoor is deel van die woordkartetse wat rondgeslinger word nadat ’n Britse publikasie berig het dat Meghan, hertogin van Sussex, daarvan beskuldig is dat sy personeel geboelie het.

Die gesaghebbende Britse The Times het Woensdag eksklusief berig dat ’n senior raadgewer in Meghan en prins Harry se span in die paleis se afdeling vir menslike hulpbronne ’n klagte van boeliery teen die hertogin ingedien het.

Volgens Omid Scobie, medeskrywer van Finding Freedom, die nieamptelike biografie oor Meghan en prins Harry, was sy sprakeloos toe sy verlede Vrydag hoor ’n groep huidige en gewese werknemers van die paleis beplan om haar karakter in ’n Britse publikasie af te kraak.

“Harry en Meghan het geweet dinge sou lelik raak net voor die Oprah-uitsending, maar só ’n doelbewuste poging om haar karakter te verwoes, is ontstellend en onthutsend,” het ’n vriend van die Sussexe aan Bazaar.com gesê.

Intussen het Buckingham-paleis Woensdagaand aangekondig dat die bewerings ondersoek gaan word. Koningin Elizabeth (94) het volgens Mirror spoedige optrede gevra.

Personeel wat vir die Sussexe gewerk het, asook diegene wat hul diens verlaat het, sal luidens die paleisverklaring genooi word om “in groot vertroue” aan die ondersoek deel te neem.

Meghan, hertogin van Sussex, in Maart verlede jaar op haar laaste verpligting as ’n werkende senior koninklike. Foto: Getty Images

Die paleis het dit onomwonde in sy verklaring gestel dat boeliegedrag of teistering in die werkplek nie geduld sal word nie, maar wou op navrae van die Britse media geen aanduiding gee of Meghan en Harry genooi sal word om ook getuienis te lewer nie.

Volgens Mirror sal ses voormalige personeellede genader word om getuienis te lewer.

’n Hegte vriendin van die Sussexe het onder meer aan Scobie gesê sy haat dit om dit te sê, “maar wys my ’n vrou van kleur in ’n senior pos wat nog nie daarvan beskuldig is dat sy te kwaai, te skrikwekkend of te wat ook al in die werkplek is nie . . . dié bewerings strook nie met hoe ek haar ken nie.”

Die klag

James Knauf, destyds die Sussexe se kommunikasiehoof, het in sy grief gesê die hertogin se geboelie het reeds daartoe gelei dat twee persoonlike assistente bedank het en dat die hertogin ’n derde persoon in die oog het en dié se selfvertroue ondermyn.

'William het geweet'

Donderdag se voorblad van Daily Mirror. Foto: Twitter/@hendopolis

Koninklike korrespondente soos Dan Wootton, uitvoerende redakteur van The Sun, het Woensdagaand op Twitter geskryf die koninklike establishment wou die beweerde geboelie onder die mat in vee. Prins William was ook bewus van heelwat van die gebeure en Wootton meen dit het bygedra het tot die verbrokkeling van die broers se verhouding.

William en Harry het ’n baie hegte band gehad – veral ná hul ma, Diana, se dood in 1997. Toe Catherine, nou die hertogin van Cambridge, op die toneel kom, het Harry haar bestempel as die suster wat hy nooit gehad het nie. Die twee broers en Catherine het selfs saamgewerk in hul koninklike stigting en met Harry se troue het Meghan haar ook by die stigting aangesluit.

‘Duchess Difficult’ 

Die viertal, of Fabulous Four, soos in die Britse media na hulle verwys is, het skaars begin saamwerk toe skinderstories oor al die bedankings by die Sussexe in die Britse media begin verskyn. Personeel het glo selfs na Meghan as “Duchess Difficult” verwys.

Chris Ship, ITV se koninklike redakteur, skryf personeel wat destyds vir sowel die Cambridge- as Sussex-egpaar gewerk het, was duidelik onder druk, maar diegene wat The Times genader het om hul kant van die saak te stel voordat die Sussexe se onderhoud met Oprah Winfrey Sondag uitgesaai word, moet steeds seergemaak voel oor wat met hulle gebeur het. Volgens Ship se bronne verwys sommige personeellede na die “trauma” van daardie tyd, terwyl ander die atmosfeer by die werk as “verskriklik” bestempel.

Die familiedrama is ook op die poniekoerant Daily Star voorbladnuus. Foto: Twitter/@hendopolis

Knauf het volgens Ship se bronne die klagte aangemeld sonder die medewete van die twee personeellede wat na bewering geboelie is. Toe die twee daarvan hoor, is die klagte “teruggetrek” en derhalwe het die paleis nie verder opgetree nie. Ander bronne na aan die gebeure ontken dat die klagte teruggetrek is.

Knauf het bedank kort nadat hy die klagte ingedien het.

Nadat die “Fab Four” se paaie later geskei het, is hy heraangestel om vir William en Catherine te werk.

Nie die Sussexe of Buckingham-paleis het Woensdag die bewerings van boeliery ontken nie.

The Times het Woensdag berig dat paleisamptenare al die moontlike gedoen het om Meghan te beskerm en hul bes gedoen het om haar welkom te laat voel.

Smeerveldtog

Die Britse begroting is amper van die voorblad van Daily Mail gestoot deur die drama in die koninklike kringe. Foto: Twitter/@hendopolisThe

Harry en Meghan het in reaksie op The Times se berigte gesê Meghan is “hartseer oor die jongste aanval op haar karakter veral omdat syself die teiken van boelies was”. Hulle het verder by monde van ’n verteenwoordiger gesê die berigte is ’n berekende smeerveldtog wat gegrond is op misleidende en waninligting. “Ons is teleurgesteld dat geloofwaardigheid gegee is aan ’n lasterlike uitbeelding van die hertogin van Sussex. Dit is ook geen toeval nie dat dié verwronge beskuldiging, wat sewe jaar oud is, aan die Britse media uitgelek is kort voordat sy en die hertog openlik en eerlik oor hul ervarings van die laaste paar jaar gaan praat.”

Die paleis se fokus is elders 

Senior paleisamptenare sê volgen Mirror is daar tans belangriker dinge (soos die pandemie en prins Philip se gesondheid) wat aandag geniet, “eerder as die sirkus oor ’n mediaverskyning”. Dié amptenaar het ook aan Mirror gesê dit is belaglik en onwaar om te beweer dat enigiemand in die paleis onwaarhede (aan die media) opdis.

– Aanvullende bronne: The Times, The Sun, The Mirro, Daily Mail en Harpers Bazaar. 

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.