Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Celebs
Meghan wys eerste keer gesig ná aankondiging
Dié foto van Meghan by die vroueskuiling in Vancouver is Woensdag wyd op Twitter gedeel.

In ’n warm parkabaadjie met ’n sneeukappie aan het Meghan, die hertogin van Sussex, Dinsdag uiteindelik gesig gewys – vir die eerste keer ná haar en prins Harry se aankondiging verlede week dat hulle as senior koninklikes gaan terugstaan.

Sy is op die prentjiemooie Vancouver-eiland afgeneem waar ander beroemdes soos Lady Gaga en Chris Hemsworth al kom uitspan het, en selfs die Kanadese premier, Justin Trudeau, al kom waterski het.

Meghan het vir die wagtende fotograwe gewaai voordat sy in ’n watervliegtuig geklim het vir die kort vlug na Vancouver.

Daar het sy ’n verrassingsbesoek aan ’n vrouesentrum gebring waar sy ook vir ’n foto saam met personeellede van die sentrum geposeer het.

Haar en Harry se tydelike akkommodasie op Vancouver-eiland behoort glo aan ’n skatryk Russiese magnaat en is ’n miljoenêrswoning met sy eie private strand. Tydelike heinings is in Desember om die huis opgerig met bordjies wat mense waarsku dat dit ’n private eiendom is.

Hoewel ses lede van die Britse metropolisiediens die paartjie en hul eersteling, Archie, 24 uur van die dag oppas, het ’n skip van die Kanadese vloot ook nou stelling in die see oorkant die huis ingeneem.

Die inskrywing van ’n afgetrede vlootoffisier wat mede-Kanadese ook op Twitter laat gal braak het oor die moontlike uitwerking op die land met die verhuising van die Sussex-egpaar na Kanada. Foto: Twitter, Phil Ker

’n Afgetrede Kanadese vloot-offisier, Phil Ker, wat in Victoria op Vancouver-eiland woon, het ’n foto getwiet van die vloot se skip en gesê: “Hier begin dit. Die koninklike Kanadese vloot gebruik nou sy reeds skaars hulpbronne om in die water oorkant die huis geanker te wees waar die hertog en hertogin van Sussex tans woon. Die taksdollars word nou uitgegee.”

Hoewel Trudeau aan koningin Elizabeth die versekering gegee het dat hy die Sussex-egpaar se veiligheid in Kanada sal verseker, is daar nog geen uitsluitsel oor wie vir die koste verantwoordelik sal wees om die Sussexe veilig te hou ná hul koninklike “uittrede” nie.

Volgens kenners sal die oorgangstydperk waarna die koningin Maandag in haar verklaring verwys het, straks ’n jaar duur. Die koningin het in die verklaring gesê sy het gehoop die paartjie kon aanbly as senior koninklikes, maar dat sy hul redes verstaan om ’n onafhanklike lewe weg van die koningsgesin te bou.

Prins Harry sal hom na verwagting Donderdag, nadat hy ’n verpligting in Buckingham-paleis nagekom het, by sy vrou en seun aansluit.

Die Sussexe se presiese ligging is geheim gehou totdat ’n inwoner van Saanich op Vancouver-eiland aan die media verklap het dat hulle die prins en sy vrou gesien stap het. ’n Restauranteienaar se vrou het ook met die media gepraat nadat die paartjie daar plek gesoek het vir ’n Kersete.

Die eerste foto van Meghan nadat sy en prins Harry as senior koninklikes teruggestaan het, is Woensdag eksklusief in die ‘Daily Mail’ gepubliseer.

Markle vs. Markle

Die Britse Daily Mail en The Express het Woensdag baie ruimte in hul koerante afgestaan aan die regsaksie wat Meghan verlede jaar teen die eienaar en uitgewer van die Daily Mail, Associated Newspapers, aanhangig gemaak het.

Verdere besonderhede oor die teksboodskappe tussen Meghan en haar vervreemde pa, Thomas Markle, is ook gepubliseer. Markle sal moontlik teen sy dogter in die hofsaak moet getuig.

In een van die teksboodskappe wat die Daily Mail gepubliseer het, skryf Thomas: “Ek het niks gedoen om jou seer te maak nie, Meghan. Ek is jammer my hartaanval . . . verontrief jou.”

Thomas was kort voor sy dogter se troue kop in een mus met ’n steelfotograaf. Thomas sê hy het gesondheidsprobleme ontwikkel kort nadat dié onthulling enkele dae voor die troue gemaak is. Volgens die Daily Mail is ’n teksboodskap – glo van prins Harry – aan Thomas gestuur kort nadat hy sy dogter ingelig het dat hy weens gesondheidsredes nie mag vlieg nie en dus nie hul troue sal kan bywoon nie.

meghan, hofsaak, thomas markle
The Express het net soos die Daily Mail heelwat ruimte afgestaan om berig te doen oor die hofsaak.
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.