Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Celebs
Mej. Heelal in oggendure aangewys; hier kan jy Natasha volg

Die dag waarop Zozibini Tunzi, huidige Mej. Heelal, se opvolger aangekondig word, het aangebreek.

Aanhangers van Suid-Afrika se Natasha Joubert (23) van Centurion, Gauteng, wat haar optrede regstreeks wil volg sal ’n wekker moet stel, want die eindronde van die kompetisie word tussen 02:00 en 05:00 op TV-kanaal 1 Magic (DStv-kanaal 103) uitgesaai.

Natasha Joubert op die Mej. Heelal-verhoog in ’n smaraggroen rokkie toe sy voorgestel is as Suid-Afrika se verteenwoordiger. Al die deelnemers het soortgelyke rokkies gekry om aan te trek, net in verskillende kleure. Foto: Instagram

Dit beloof om ’n opwindende skoonheidskompetisie te wees weens die besonder straf wedywering tussen deelnemers én omdat Joubert groot skoene het om vol te staan.

In die geskiedenis van die Mej. Heelal-kompetisie het dit nog net een keer gebeur dat dieselfde land twee opeenvolgende jare dié die gesogte kroon kon wegdra. Dit was toe Dayana Mendoza en Stefanía Fernández van Venezuela in onderskeidelik 2008 en 2009 gewen het.

Joubert het gesê Saterdagoggend se eerste ronde van die kompetisie het “soos ’n droom gevoel” omdat twee Suid-Afrikaners haar naam uitgeroep het.

Dit was Tunzi en Demi-Leigh Tebow (voorheen Nel-Peters) wat in 2017 die Mej. Heelal-kroon verower het.

“Hierdie hele ervaring was ’n ongelooflike groot seën en ek sal altyd dankbaar wees,” het Joubert op Instagram geskryf.”

Daar word verwag dat daar nie soos vorige jare aan die begin van die kompetisie semi-finaliste uit elke wêreldstreek of kontinent aangewys gaan word nie.

Daar is voorspel dat die top 21 uit die hele groep van 74 gekies sal word, met een van hulle wat die publiek se gunsteling is. Dié vrou sal die een wees wat die meeste stemme op die Mej. Heelal-organisasie se webblad ontvang het.

Die top 21 sal na verwagting weer in swembroeke modelleer, waarna die toptien aangewys sal word.

Die toptien sal dan na verwagting weer in aandrokke op die verhoog verskyn. Daarna sal die topvyf vrae beantwoord voordat die wenner se naam uitgeroep word.

Indien Joubert die toptien haal is die verwagting dat sy nie weer in dieselfde donkerblou rok sal verskyn as wat sy in die vorige ronde gedra het nie.

Die pienk skepping wat Natasha Joubert moontlik op die verhoog kan dra indien sy die toptien haal. Foto: Instagram

Dié rok is ’n skepping van Suid-Afrikaanse ontwerper Jolandie Fouche van Jolache Couture en het gemengde reaksies uitgelok vanweë sy unieke styl en ontwerp.

Terwyl die meerderheid van die vroue in die kompetisie styfpassende rokke gedra het wat van kop tot tone versier was met kristalle of blinkers, was Joubert se rok van fluweel. Sy was die enigste deelnemer met handskoene aan, en dit het sommige met gemengde gevoelens gelaat.

Op die Filippynse webtuiste Rappler word haar rok as “aaklig” beskryf en gesê as sy punte verloor sal dit waarskynlik weens die rok wees.

Natasha Joubert op die Mej. Heelal-verhoog in die donkerblou skepping met handskoene.Foto: Instagram

“Maar sy is so sterk dat sy steeds die halfeindronde sal haal,” sê Rappler. Sommige sal sê dat die Filippyne oorkrities is van Suid-Afrika omdat hul verteenwoordiger, Rabiya Mateo, ’n voorloper is.

Siera Bearchell, voormalige Mej. Kanada en meningsvormer oor skoonheidskompetisies, sê daarteenoor dat Joubert se rok haar soos ’n koninklikke laat lyk het.

“My eerste gedagte was dat dit lyk soos ’n kunsskaats-kostuum, maar hoe meer ek daarna gekyk het, het ek besef die handskoene is baie uniek en ek was mal oor die fluweel.

“Dit het my baie herinner aan Demi-Leigh se rok in 2017. Dié rok was ook fluweel en heldergroen.”

Bearchell het gesê sy dink Joubert sal waarskynlik ’n ander rok aanhê vir die finale kompetisie.

Indien sy die toptien haal kan Joubert moontlik ’n pienk rok dra wat ook deur Fouche gemaak is vir die kompetisie. Dié rok is verlede maand bekend gestel op dieselfde dag as toe sy haar nasionale kostuum gewys het.

• Die heruitsending van die eindronde sal Maandagaand om 21:30 weer op die TV-kanaal 1 Magic uitgesaai word.



MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.