Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Celebs
Michelin-ster, TV . . . nou núwe Jan-projek

Suid-Afrika kan met reg trots wees op die sjef Jan Hendrik van der Westhuizen – hy is ons enigste sjef met ’n Michelin-ster, sy restaurant Jan in Nice, Frankryk, lok bekendes soos Robert De Niro, en hy het twee resepteboeke agter sy naam. Deesdae is hy ook op Via te sien in die televisieprogram Jan – en hy het ’n splinternuwe projek wat hom besig hou.

Jan Hendrik van der Westhuizen, Suid-Afrika se eie Michelin-ster-sjef. Foto: Marguerite Oelofse

By die deli van die Westcliff-hotel in Johannesburg is die sjef Jan Hendrik van der Westhuizen en Ilana Swanepoel, die redakteur van sy splinternuwe projek, Jan the Journal, koppe gebuig oor ’n skootrekenaar, hard aan die werk.

Ek voel nogal sleg om hulle te onderbreek, maar kan nie wag om met dié sjef, wat ek in 2016 vir die eerste keer ontmoet het, te gesels nie. Destyds is hy pas bekroon met sy Michelin-ster en het ons heerlik daaroor en oor sy twee boeke, The French Affair (2013) en Jan – A Breath of French Air (2016), gesels.

“Ek is nog altyd lief vir die uitgewerswese, dit voel vir my altyd as iets gedruk is, is dit permanent. Verlede jaar het ons besluit dit is tyd vir ’n nuwe boek. Dit neem ’n jaar om ’n boek uit te gee, en teen die tyd dat dit die rakke tref, is die inhoud nie heeltemal vars en nuut nie.

“Toe begin ons dink aan ’n kombinasie tussen ’n tydskrif, koffietafelboek en resepteboek – en so is die idee van die joernaal gebore. Dit is hoe ek die wêreld sien, en is vol resepte en mooi foto’s. Dit bring die wêreld van my restaurant na Suid-Afrikaners sonder dat hulle na die suide van Frankryk hoef te reis.”

Jan the Journal spog met meer as 250 bladsye en 50 resepte en gaan twee keer per jaar verskyn.

“Dit is baie opvoedkundig – ons verduidelik meer oor die bestanddele en wat ’n mens daarmee kan doen. Ons wys lesers selfs hoe om ’n eier perfek te kook! Daar is ook ’n fokus op Suid-Afrikaanse bestanddele.”

Jan Hendrik het ’n passie vir fotografie en het van die foto’s in die joernaal self geneem.

Lesers wat die boek aanlyn by www.janthejournal.com koop (teen R290, ook beskikbaar by Woolworths), vertel Jan Hendrik opgewonde, kan ’n ongelooflike prys wen – ’n ten volle betaalde reis om vir vyf dae by hom in Frankryk te gaan kuier.

Jan Hendrik se eetbare kers. Foto: Jan Hendrik van der Westhuizen

Van bitter en boegoe gepraat

Om so ’n projek aan te pak is ’n groot werk, en Jan Hendrik sê hy is dankbaar vir sy span by die restaurant wat hom toelaat om sulke drome na te jaag.

“Ons droom natuurlik daarvan om ’n tweede Michelin-ster te kry, maar ek sê dit eerder nie hardop nie. As ’n mens jouself genoeg druk, sal so iets vanself gebeur. Ons werk die heeltyd om innoverend en nuut te wees en om mense se aandag te hou.”

Mosbolletjies is, net soos hy twee jaar terug vertel het, steeds ’n gunsteling op Jan se spyskaart. ’n Nuwe treffer is die “eetbare kers” – die resep daarvoor is ook in die joernaal.

“Dit word gemaak van kaiings en word aan tafel bedien saam met vars brood. Gaste smeer dan die ‘kers’ op hul brood. Dit ruik ongelooflik.

“Ek is op die oomblik ’n bietjie in wat ek noem ’n ‘brand-fase’ – ek hou van gebrande goed: gebrande mieliepap, gebrande roosterbrood . . . Daar is so ’n nostalgiese geur daaraan wat mense wegvoer na hul oumas se kombuise.”

Gebrand? Ek krap kop . . .

“Wel, dit moet nou natuurlik nie verkool wees nie. Dit gaan oor die bitter smaak. Bitter is ’n ongelooflike smaaksensasie wat ongelukkig vermy word, want ons is geleer bitter is gebrand en dis sleg. ’n Mens moet net die balans handhaaf dat iets bitter is en nie verbrand nie.”

Só lyk die splinternuwe JAN the Journal, nou beskikbaar by Woolworths en aanlyn by www.janhendrik.com teen sowat R290.

Jan Hendrik het verlede jaar sy buiging as TV-sjef gemaak op die Via-program Jan. Hier vermaak en betower hy kykers met sy kreatiewe kosmaaktegnieke.

“Daar is planne vir ’n tweede reeks. Ek geniet dit baie om die program te maak. Ons het dit aangepak om armchair travel te wees – jy sit daar en word meegevoer na ’n ander wêreld toe. Ons gaan in die tweede reeks dieselfde formule volg, maar met ’n paar lekker groot verrassings tussen-in.”

Nog ’n bestanddeel wat hom tans opgewonde maak, is boegoe.

“Ons kan dit in Amsterdam koop, want hulle voer dit in van die Weskus. Boegoe ruik soos cassis of swartbessies – dit is ’n interessante skakel tussen Suid-Afrika en die suide van Frank­ryk. ’n Mens kan dit in soet en soutgeregte gebruik – ek het tans ’n cassis-en-boegoe-sorbet op die spyskaart by Jan.”

So, het Frankryk hom permanent gesteel, of sal hy terugkom Suid-Afrika toe?

“Ek is gereeld hier en is baie trots Suid-Afrikaans. Maar die restaurant is my baby, en ’n mens gee mos nie jou baby weg nie. Jy kry ’n kinderoppasser, maar jy gaan altyd weer terug.”

Meer oor:  Via  |  Jan Hendrik Van Der Westhuizen  |  Celebs  |  Jan
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.