Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Celebs
Museum van legendes in vermaakbedryf open in Pta

In die nuwe Suid-Afrikaanse Legendes-museum word talle bekende persoonlikhede nie net gehuldig nie, maar ook bedank vir die verskil wat hulle in die bedryf gemaak het. Shaun Mynhardt, wat die museum begin het, het vir AJ Opperman van sy jare lange droom vertel. 

’n Museum wat verskeie Suid-Afrikaanse vermaaklikheidsmense huldig, open volgende week in Pretoria.

Shaun Mynhardt, wat biografieë oor die sangeresse Cora Marie en Min Shaw geskryf het, is die stigter van die Suid-Afrikaanse Legendes-museum, ’n droom wat in sy kinderjare ontstaan het.

Die Suid-Afrikaanse Legendes-museum in Pretoria open op 28 Januarie vir die publiek.

“Die groot gedagte rondom die museum is om hierdie persoonlikhede te bedank vir wat hulle gedoen het en om te sê ons waardeer hulle,” sê Mynhardt, ’n regsgeleerde en familie van die ontslape akteur Siegfried Mynhardt.

Toegang is gratis, want die doelwit is om nuwe blootstelling te gee aan die mense wat ’n bydrae tot die Suid-Afrikaanse vermaaklikheidswêreld gelewer het.

Vermaaklikheidsterre soos Min Shaw, Manuel Escorcio, Rina Hugo, Amanda Strydom, Lance James, Mimi Coertse, Annette Engelbrecht, Magda van Biljon, Johan Stemmet, Riaan Cruywagen, Shaleen Surtie-Richards en Natalia da Rocha is deel van die 116 legendes wat gekies is.

Shaun Mynhardt

Daar is ook ontslape persoonlikhede soos Miriam Makeba, Cora Marie, Gé Korsten, Janita Claassen, Zack du Plessis, Sias Reynecke en Marga van Rooy wat gehuldig word.

“Ek het altyd die begeerte gehad om iets vir die vermaaklikheidsbedryf te doen. Niemand wil vergete wees nie. Daar moet ’n ruimte vir hulle geskep word, want daar is nêrens so ’n plek in Suid-Afrika nie.”

Die fokus is op die vermaaklikheidsbedryf van die afgelope 100 jaar.

“Die museum huldig mense wat ’n bydrae op die gebied van teater, radio en televisie gelewer het. Jy moet minstens 40 jaar in die bedryf wees. Het jy ’n indruk gemaak? Het jy ’n verskil gemaak? Wat is jou nalatenskap?”

Die museum bestaan uit talle gedenkwaardighede uit die kunstenaars se loopbane wat hulle aan die museum geskenk het.

Riaan Cruywagen se pryse wat hy aan die museum geskenk het.
Musiekpryse wat Judy Page gewen het.
’n Skildery van Shaleen Surtie-Richards as Fiela in ‘Fiela se kind’.
Gedenkwaardighede uit Mimi Coertse se loopbaan.

Nog kategorieë gaan bygevoeg word.

Borsbeelde word van elke persoonlikheid gemaak.

Nico Engelbrecht en Laurie de Beer van Smart Office Connection se 3D-divisie in Midrand is verantwoordelik vir die beelde.

“Die museum is ’n proses,” sê Mynhardt. “Namate die tyd vorder, sal nog mense ingehuldig word en ons wil later sportlui en literêre persoonlikhede ook insluit.”

Mynhardt (36) het grootgeword in ’n era waarin hierdie mense op die kruin van hul loopbane was.

“Ons het tuisvideo’s geneem en as jy daarna kyk, sien jy plakkate teen my muur. En een daarvan is ’n plakkaat wat Rina (Hugo) ook vir my gewys het. Dan het ek ook ’n Cora Marie-plakkaat gehad.

“Ons het elke plaat gekoop en later CD’s, met my min sakgeld. En konserte gaan kyk. Ek het saam met baie van hulle foto’s geneem en baie van hulle ontmoet.”

Hy het Cora Marie in 1990 in die Bellville-burgersentrum ontmoet.

Vandag besit hy die helfte van haar gedenkwaardighede.

Shaw het nie kinders nie en het gewonder wat eendag van haar gedenkwaardighede sou word.

“Min het ook die gedagte van so ’n plek (die museum) genoem,” sê Mynhardt. “Sy was deel van die dryfkrag agter die projek. Sy het my baie raad gegee. So ook het ek baie raad van die aktrise Lizz Meiring, die joernalis Christiaan J. de Swart en die musikant en radiopersoonlikheid Tinus Esterhuizen ontvang.”

“Die museum huldig mense wat ’n bydrae op die gebied van teater, radio en televisie gelewer het. Jy moet minstens 40 jaar in die bedryf wees. Het jy ’n indruk gemaak? Het jy ’n verskil gemaak? Wat is jou nalatenskap?”

Daarom het Mynhardt ’n kategorie ingesluit vir mense wat agter die skerms werk.

Dit sluit mense in soos die musiekbemarker Lydia Winchester en Boet Pretorius, stigter van die destydse Decibel-platemaatskappy.

Oor ses maande sal ’n tweede inhuldiging plaasvind.

Mynhardt huur die gebou in Brooklyn, wat die museum huisves, maar beplan om dit later te koop.

“Dit wat uitgestal word, is deur die kunstenaars gegee. Dié wat oorlede is, se families het gedenkwaardighede gegee. Virginia Lee se dogter het vir my uit Amerika ’n Sarie-prys gestuur wat haar ma in 1969 gewen het. (Die aktrise) Annelisa Weiland het ’n Artes uit die laat 1970’s vir my gegee. Magda van Biljon gee die poppe wat in die televisieprogram Nuustak gebruik is.”

Besittings van die ontslape sangeres Cora Marie.
Foto’s uit Anneli van Rooyen se loopbaan.
Gedenkwaardighede uit Al Debbo se loopbaan.
Tekeninge van Johan van Rensburg en Rina Hugo.

Daar is baie goue plate en verskeie kostuums.

Dit sluit in ’n balrok van Mimi Coertse, die aktrise Anne Power se kabaretrokke, vier dasse van die voormalige nuusleser Riaan Cruywagen en Jimmy Choo-skoene van Dawn Lindberg.

“Die museum moet toeganklik wees vir almal,” sê Mynhardt. “Daarom is dit gratis, maar mense kan ’n skenking maak as hulle wil.”

Mynhardt wil geleenthede in die museum aanbied. “Ons gaan konserte hou – legende-aande. Saterdae en Sondae. Baie van hierdie legendes wil nog steeds op die verhoog wees. Ons wil boekbekendstellings aanbied van kunstenaars wie se boeke verskyn en so meer.”

Mynhardt beplan later ’n geskenkwinkel.

“Die publiek sal klein borsbeelde, borsbeeldsleutelhouers, boeke van die kunstenaars en skaars albums kan koop.”

Dokumentêre en klankopnames uit hul loopbane sal ook in die museum gespeel word.

Die uitstallings sal elke drie maande herrangskik en met ander gedenkwaardighede vervang word.

“Ek is dankbaar dat mense oor my pad gekom het en my tegemoetgekom het,” sê Mynhardt.

* Die museum is vanaf 28 Januarie oop vir die publiek, van Dinsdae tot Sondae van 09:00 tot 15:00.

* Adres: Duncan Yard, Prospectstraat 1204, Brooklyn, Pretoria.

Meer oor:  Brooklyn  |  Pretoria  |  Sangers  |  Radio  |  Vermaak  |  Museum  |  Musiek  |  Teater  |  Televisie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.