Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Celebs
Nataniël skep 11 projekte – en skud 11 kg af

Die immergewilde en geliefde Nataniël sê die lewe is te kort om stil te sit. Hy het daarom nie in die staat van inperking op sy louere gerus nie en, in sy eie woorde, “soos ’n waansinnige” 11 nuwe projekte geskep. Hy het in die proses ook sommer 11 kg verloor.

Nataniël het in die staat van inperking 11 projekte geskep – en 11 kg afgeskud.

Nadat die sanger, skrywer, sjef en grapjas se konserte weens die pandemie afgestel is, het hy hom by sy huis in Irene, Pretoria, afgesonder waar daar volgens hom g’n tyd vir ’n blaaskans was nie.

“Hoekom stilsit? Die lewe is te kort. Ek kan nie net sit en weeklaag nie,” sê hy.

“Ek het vir vier maande niemand gesien nie – en dit was soos die hemel! Ek was nooit uit nie, ek het nêrens heen gegaan nie, ek was net hier.

“Ek het aan 11 projekte gewerk en elke dag 20 km gestap, op my erf en op my treadmill, en ek het 11 kg verloor. Maar op so ’n hoë ouderdom, vir elke kilogram wat jy verloor, kry jy een plooi by.”

Kykers kan vanaf 5 Oktober om 20:30 op kykNET die eerste van sy 11 nuwe projekte sien. Die idee vir die leefstylprogram Toegang het in sy eie kombuis by hom opgekom.

“Ek was mos in afsondering – ek is steeds – en het begin kosmaak vir myself met net die basiese bestanddele en die minste moeite. Ek het ongelooflik lekker geëet! Ek het toe besef die land moet dit leer, so in elke episode berei ek ’n volle ete voor met net een pan, een pot, een plaat (stoof) en twee mengbakke – net die minimum.”

Vir ’n eenplaatstoof skrik hy nie, sê hy.

“Hoe meer plate, hoe meer skottelgoed maak jy. Hoekom? Ek het net ’n vurk en ’n lepel en ’n mes nodig, dan is ek done. Dis merkwaardig wat ’n mens met net dít kan kook.”

Elke episode van die reeks word in ’n ander “monumentale gebou” opgeneem, sê hy.

“Al die beste geboue staan mos nou leeg. Daar is so baie geboue waarin ek nog nooit was nie, want daar is altyd mense, en ek hou nie van mense in geboue nie want jy kan nie die gebou ordentlik sien nie.

“So ek pak in elke episode my tassie (vol potte en panne) en wys vir kykers dan ook die gebou – selfs museums en monumente. Monumentale geboue. Die idee is dat James Bond oorsee toegang tot elke gebou het – en hier in Suid-Afrika is dit nou ek.”

Hy wil nie nou verklap presies watter geboue dit hier is nie.

“Daar is deesdae geen verrassings meer op TV nie – alles word net dadelik verklap – so ek gaan dit heeltemal stil hou. Niemand gaan vooraf weet waar ek in ’n volgende episode gaan wees nie.

“Ons gaan dit so dramaties as moontlik doen, ek is baie opgewonde daaroor. Ek het soos ’n masjien daaraan geskryf en dit gaan totaal anders wees as dít wat ek voorheen gedoen het. Dit gaan beslis iets wees wat ons nog nie op Afrikaanse TV gesien het nie.”

Die eerste episode van Toegang gaan ook saamval met die onthulling van sy nuwe onthaalblog, wat hy ook nog grootliks geheim hou. Die resepte in die reeks sal in Afrikaans en Engels op dié blog verskyn.

“Ek bou nog aan die blog, maar dis eintlik glad nie ’n blog nie – dis meer ’n aanlyn tydskrif. Mense post net nonsens en stuur boodskappies vir mekaar op blogs – en dis glad nie wat ek gaan doen nie. Dit is nader aan ’n kosargief van al die etes wat ek oor die jare by my huis gedoen het. Ek hoop mense hou daarvan.”

  • Toegang begin op 5 Oktober om 20:30 op kykNET (DStv-kanaal 144).
Meer oor:  Kyknet  |  Musiek  |  Nataniël  |  Tv
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.