Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Celebs
Nic de Jager op 80: Ek donder aan en ‘stir’ orals
Nic de Jager

Die veteraanomroeper Nic de Jager is 80 jaar oud. Die ATKV het hom onlangs vir sy lewenswerk vereer. Maar so veelsydig soos die musiek op sy radioprogram Nic se goed, so uiteenlopend is sy belangstellings. Marguerite van Wyk het met hom gesels.

Vandag is Nic de Jager 80.

Maar hy begeer nie ’n luide partytjie nie. Dalk vier hy dit met sy drie broers en hul gesinne, dalk sonder hy hom af.

Eintlik wil Nic de Jager nie té veel van die hele 80-gedoente maak nie. Dit beteken “you have to act your age’’, grap hy.

Ons ontmoet naby sy huis in Stellenbosch, by ’n koffieplek wat hy droogweg bestempel “as een met die dramatiese naam Oppiekoffie”.

Nic lyk modieus en jonk – uitgevat in ’n swart en grys hemp, denim, swart masker. En sy baard is baie kort.

Hy drink sy koffie bitter en swart. Ná ’n bloeding op die brein sowat drie jaar gelede is hy ’n geheelonthouer en hy eet min brood en suiwel. Maar roomys kan hy nie weerstaan nie “Nou is ek bietjie gepens, ná Covid,” klap hy op sy maag.

Sy oefenregime is streng: opstote en uitvalle en hy plank.

Ons geselse draai wyd.

Sy ma, Corrie, is die kleindogter van senator A.D.W. Wolmarans, minister en ambassadeur in die ZAR-kabinet. Hy onthou die stukke Hansard van die Kruger-parlement op sy oupa-hulle se plaas. Pa A.K. (Koch) was ’n onderwyser wat sy grade in Latyn en Grieks aan Stelllenbosch cum. Sy pa is op 59 en sy ma in haar 90’s oorlede.

De Jager is baie betrokke by sy alma mater, Paul Roos Gimnasium, waar sy pa tot 1958 die hoof was. Hy beskou die leerlinge daar as sy “kinders”. “Jong mense is nog suiwer, nie vermurwe deur die samelewing nie.”

Hy het nie veel ooghare vir die samelewing nie – “wonderlike enkelinge, maar as ’n groep ’n oneerlike sameknoeiing”. By die jonges herlaai hy. “My eie generasie praat oor kleinkinders en onverwagse flatulensie.”

Dié enkelloper koester ook sy geliefde hond, Lexi (Alexandra Romanoff). Haar pa, Rasputin, is reeds oor die lang brug . . .

Hy gee ’n hoesie of twee in ’n kraakwit sakdoek, old school. Lag. “Ag Heer, laat ek nie nóú sterwe nie,” spot hy. As kind het hy vaagweg aan ’n 80-jarige gedink as iemand wat jy op ’n draagbaar ronddra.

“Ek kan nie fisiek meer byhou by die 25-jariges of nog rugby speel nie, maar ek dink ek is fiks vir my ouderdom.”

In sy jare as nuusleser is hy wel met ’n melanoom agter sy oor gediagnoseer. Daar was ook emosionele pyn. “Maar jy bereik nie ’n mate van wysheid sonder lyding nie.”

“Ek is nie bang vir doodgaan nie.” Hy glo daar wag in die nuwe fase wonderlike dinge. “As ek verkeerd is, sal ek dit in elk geval nooit weet nie, troos ek myself.”

Iemand het een keer vir Clint Eastwood op 86 gevra hoe hy dit regkry om nog flieks te maak, waarop hy geantwoord het: “I just don’t let the old man in.” Dis ook De Jager se motto.

“Ek is nie bang vir doodgaan nie.” Hy glo daar wag in die nuwe fase wonderlike dinge. “As ek verkeerd is, sal ek dit in elk geval nooit weet nie, troos ek myself.”

Op 80, “as jy nader aan die poorte beweeg”, besef jy wat regtig saakmaak, meen hy. “Ek was maar ’n bietjie van ’n windgat toe ek jonger was. Hoofsaaklik as gevolg van ’n gekweste selfbeeld.” Hy het motors geniet, Porsche en Mercedes-Benz. Sy eerste wit Porsche het in 1981 R31 500 nuut gekos. Nou het hy twee ou groen Mercedese: ’n 123 met 400 000 km op en ’n 124-koepee. “Die eerste helfte van ons lewens versamel ons, in die tweede helfte raak ons daarvan ontslae.”

Kennis, dié het hy in oormaat versamel. En hy deel dit gul in Nic se goed, Sondae van 12:00 tot 13:00 op RSG, waar hy ’n keur van sy eie musiek speel. “Jy weet, ek sê altyd: Dis een derde kennis, ’n derde google, een derde b*llsh*t.”

Maar hy gee toe dit sal lekker wees om te weet hy het iets van waarde vir iemand gesê op sy program sodat hulle iemand anders daarmee kan inspireer. Om dié rede speel hy bekende musiek en nou en dan iets ongewoon, wat mense dwing om bietjie na te lees.

Oud en jonk praat oor dié program. Ook oor sy kwinkslae en die mooiste Afrikaans wat van sy tong af rol.

As hy moet kies, is Mozart sy koning. “As ek na ’n verlate eiland moet gaan, neem ek sy musiek saam. Dit omvat vir my al die emosies wat ’n mens kan hê. As van my pêls sê hulle haat Mozart of Wagner wonder ek of hulle weet wat hulle misloop. Maar de gustibus, nè.”

Vanjaar is hy en Margot Luyt vir hul lewensbydrae as radioaanbieders deur die ATKV bekroon. Daar was al ’n rits bekronings. Hy is dankbaar, maar beweeg vinnig na ’n ander onderwerp.

Sy curriculum vitae noem hy trouens “Nic se nonsens’’.

De Jager se ryk, manlike stem is sinoniem met radioverhale van die 1970’s soos Dans van die flamink. “Diep kultuur,” spot hy. Hy vertolk ook Orsino in Uys Krige se vertaling van Shakespeare se Twaalfde nag in die destydse Nico Malan-teater, nou Kunstekaap; speel in Jamie Uys se The Gods Must Be Crazy; verskeie Manie van Rensburg-flieks soos Geluksdal en Die Square. Hy was een van die eerste televisienuuslesers by die SAUK en in die eerste Afrikaanse TV-reeks, Dokter, dokter. ’n Lange, lánge lys.

“20 jaar ná jou dood onthou ’n paar mense jou, ná 50 niemand nie.”

Tog sê hy: “20 jaar ná jou dood onthou ’n paar mense jou, ná 50 niemand nie.”

De Jager sou alles weer doen soos hy hét. Ses jaar argitektuur aan die Universiteit van Pretoria: “Want dit vorm jou, leer jou ’n sensitiwiteit vir dinge. Of jy sing, fotografeer of movies maak. Jy werk met ritmes, teksture. My eerstejaarontwerp-lektor het my waardevolle dinge geleer, soos om nie tjorrel te skryf soos ‘argitektuur is bevrore musiek’ nie.’’

Die oorgang van argitektuur na radio is ’n lang storie. Op skool, tydens ’n radiodebat teen die Hoër Meisieskool Bloemhof, besef hy hy klink “nogal oukei” oor die mikrofoon. Op universiteit, ná ’n jaar lange botsing met ’n dosent, doen hy ’n radio-oudisie. Kort voor lank het mense geweet van De Jager.

Wat wag nou?

Dit is eintlik eers op 65 dat hy besluit het: Volg jou hart, maar op een voorwaarde – jy mag niemand benadeel nie. Só werp hy alle kerklike dogma en politiek af, want hy glo dit ontneem mens van oorspronklikheid. “Argaïese dogma word deur mense uitgedink om ander mense mee te beheer.” Maar dit neem selfvertroue om só te kan leef. Mense dink so maklik jy is dan ’n ateïs. Nee, sy Godsbegrip lê in die natuur.

“Intussen donder ek aan en stir orals.”

Jean Meiring, ’n regsgeleerde en boekresensent, sit aan hom om ’n boek te skryf, maar De Jager koop kameras om movies te maak. “Ek woeker met nuwe tegnologie. Ek luister ook nog plate (hy het sowat 1 000) en digiteer baie van my musiek. Deo Volente keer al die dinge ’n té vroeë demensie.”

“Ek woeker met nuwe tegnologie. Ek luister ook nog plate (hy het sowat 1 000) en digiteer baie van my musiek. Deo Volente keer al die dinge ’n té vroeë demensie.”

Hy het al ’n paar dokumentêre rolprente vervaardig – onder meer oor die Suid-Afrikaanse kunstenaar Judith Mason. “Sy is ondergewaardeer. Kuns het ook al ’n besigheid geword. Sonder ’n naam, word jy nie gekoop nie, maar sy gaan nog herontdek word.

“As ons net van die politici ontslae kan raak, sal die wêreld ’n beter plek wees. Glimlag vir die ou wat brandstof ingooi en knoop ’n geselsie aan. Dís waar ons moet woeker om dinge reg te kry.”

Ek vra hom na een van sy mooi groete, soos op Nic se goed. Hy gee my: “Laat die meetsnoere vir jou in lieflike plekke val, blaas hoog die vlam, wees goed vir jou naaste . . . ons val aan met eerste lig, die wapens is handtertjies.”

Meer oor:  Nic De Jager  |  80
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.