Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Celebs
Niemand gaan my breek, sê ‘nuwe’ Derick

Derick Hougaard het opgestaan en veg nou terug.

“Ek doen goed onder die omstandighede. Trouens, beter as ooit vantevore!” sê hy.

Hy het Woensdag in ’n onderhoud met Netwerk24 gesê hy is nou besig met ’n TV-advertensie vir ’n Londense maatskappy wat by haaroorplantings betrokke is.

Sy meisie, die sangeres Nádine, is versot op sy kort hare. Sy sê dit is soos ’n baba se boudjies en dat hy nou soos ’n “Navy Seal” lyk.

Derick Hougaard met sy nuwe korter hare. Foto: Verskaf

So vertel die 36-jarige oud-Springbok wat onlangs op Twitter met sy nuwe korter hare gespog het.

Hougaard was die afgelope ruk bekend vir sy skouerlengte donkerbruin hare, maar hy moes dit nou kort sny vir sy werk.

Hy sê depressie is verlede jaar by hom gediagnoseer. “Dis die druk van die media en die vyande wat my na drank gedryf het,” sê hy.

“Dis die verlange na my seuns wat my moedeloos laat ineensak het. Ek is net ’n mens. Ek het nog altyd ’n redelike skoon lewe gehad – tot ses maande terug. Ek het drank misbruik, maar nog nooit ’n probleem daarmee gehad nie. Om drank te los, is vir my soos dit vir iemand anders is om melk te los.”

Sy verhouding met Nádine

Woensdag is die paartjie amptelik 22 maande saam. Ter viering daarvan het Hougaard sy liefling bederf met “die heerlikste aarbeie en roomys, haar gunsteling”.

“Ek het altyd gehoop ek is die held vir ’n vrou, of die ridder op ’n wit perd. Maar in dié geval is Nádine die held en ’n voorbeeld vir ons almal.”

Hougaard sê hy kon nie vir ’n beter maat as Nádine vra nie.

“Sulke vroue is maar skaars en sy verdien nie wat die afgelope jaar en ’n half gebeur het nie. Dit bewys weer ’n hart is nie soos ’n sigaret nie. Jy kan dit nie net aansteek, rook en dit dan weer doodtrap nie.”

Hougaard en sy seuns, Daniël en Eliah. Foto: Verskaf

Hy sê Nádine was sy enigste ondersteuningsnetwerk en dat sy die afgelope twee jaar die belangrikste persoon in sy lewe is.

“Sy is deur verskriklik baie kritiek, en dit alles net om my te ondersteun. Sy is die voorbeeld van hoe ’n vrou moet wees.

“Sy was voor my nog net in twee verhoudings, en ek is dankbaar dat ons mekaar kan leer wat liefde regtig is.

“Ek wens ek het Nádine ontmoet toe ek 18 was. Dan het ek tot vandag toe nog rugby gespeel.”

Hougaard het onlangs weer by ’n sielkundige gaan draai om sy energievlakke reg te kry. Ná vele sessies kon hy agter die kap van die byl kom dat depressie een van die verskeie simptome van post-trauma-harsingskuddingsindroom is.

“My twee seuns, Daniël en Eliah (uit sy huwelik met die sangeres Karlien van Jaarsveld) is my bestaan – hulle is al wat my aan die lewe hou. Ek kyk elke dag na hul foto’s, ek sal doodgaan vir hulle.

“As ek nie by hulle is nie, voel dit of die suurstof na my brein afgesny is.

“Ek het die beste ouers in die hele wêreld,” sê hy oor sy ouers wat in Piketberg in die Wes-Kaap woon. Hy vertel ook hoe moeilik die laaste twee jaar vir sy ouers was omdat hulle nooit hul kleinkinders gesien het nie.

Een belangrike les wat sy pa hom geleer het, sê hy, is dat jy nooit ’n goeie man moet kwaad maak nie.

Hougaard maak dit ook duidelik dat hy nie ’n “jannie-jammergat” is nie. Hy sê mans moet groter vrymoedigheid hê om oor hul gevoelens te praat.

Hy is spyt oor sy reputasie wat skade gely het, en sê voordat hy Woensdagoggend by ’n skool ’n toespraak moes lewer, het die skoolhoof die afspraak gekanselleer en vir hom gesê hy is nie kindervriendelik nie.

“Dit voel soos dryfsand, hoe harder ek baklei, hoe dieper sink ek.

“Niemand gaan my breek nie, nie eens die Kardashian-wannabee-familie nie. Net die Here kan.

“Nádine sê ook altyd alles wat seermaak, is mensgemaak, en alles wat jou heelmaak, is Godgemaak,” voeg hy by.

Hougaard en Nádine is ook betrokke by liefdadigheidsorganisasies. Hy sê egter dat hulle dié werk uit die media probeer hou, “ons is nie daardie tipe mense wat op TV-programme in ontwerpersklere rondloop en alles voor kameras doen nie”.

Meer oor:  Nádine  |  Derick Hougaard  |  Drankmisbruik  |  Egskeiding  |  Vegter
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.