Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Celebs
Nog modder vlieg oor Harry en ‘boelie’ Meghan

’n Koninklike smeerveldtog soos laas gesien in die dae van prins Charles en Diana, prinses van Wallis, se egskeiding?

Of bloot die waarheid oor wat daartoe kon gelei het dat prins Harry en Meghan, hertogin van Sussex, die pad gevat het Amerika toe?

The Times of Londen se berigte Woensdag dat Meghan personeellede geboelie het, het net die moeras verdiep waarin die Sussexe hulle tans bevind.

Net dae voordat die Sussexe se onderhoud met Oprah Winfrey Sondag in Amerika uitgesaai word, het ’n paar paleisamptenare The Times genader om hul kant van die saak te stel oor Meghan se aankoms op die koninklike toneel en haar twee jaar as werkende lid van “The Firm”.

Onder die skokkendste aantygings is dat Meghan twee persoonlike assistente só geboelie het dat hulle bedank het en ’n derde personeellid se selfvertroue ondermyn het.

Onder die skokkendste aantygings is dat Meghan twee persoonlike assistente só geboelie het dat hulle bedank het en ’n derde personeellid se selfvertroue ondermyn het.

Jason Knauf, Harry en Meghan se hoof van kommunikasie, het dié boelieaantygings in Oktober 2018 onder die aandag van die paleis se afdeling vir mensehulpbronne gebring, maar niks is verder aan die saak gedoen nie.

Knauf wou gehad het die paleis moet optree om personeellede te beskerm. Veral jong vroue is blykbaar só geboelie dat hulle tot op die punt van trane gedryf is.

Hy het bedank kort nadat hy die klagte ingedien het en werk nou vir prins William en Catherine, hertogin van Cambridge.

Die hertog en hertogin van Sussex, Harry en Meghan, het die jongste aantygings teen hulle in ’n prokureursbrief as ’n smeerveldtog bestempel. Foto: Getty Images
Jason Knauf was aanvanklik prins Harry en Meghan, hertogin van Sussex, se kommunikasiehoof. Hy het klagtes van boeliegedrag onder die aandag van die paleis se afdeling vir mensehulpbronne gebring. Hy het later bedank en werk nou vir prins WIlliam en sy vrou, Catherine, hertogin van Cambridge. Foto: Getty Images

Harry het volgens The Times by Knauf “gepleit” om nie die saak verder te voer nie.

Harry en Meghan het deur ’n woordvoerder die beweringe ontken en gesê The Times word deur Buckinghampaleis gebruik om ’n vals narratief te versprei voor Sondag se uitsending van hul onderhoud.

Meghan het by monde van ’n woordvoerder gesê sy is hartseer oor die jongste aanval op haar karakter, veral aangesien sy al in haar lewe die teiken van boelies was en dat sy iemand is wat mense ondersteun wat pyn en trauma ervaar het.

Volgens Knauf is sy e-pos met die klagtes aan Samantha Carruthers gestuur, die destydse hoof van menslike hulpbronne. The Times berig Carruthers het saamgestem dat die situasie “baie ernstig” is.

Knauf was besorg dat niks hieraan gedoen sou word nie omdat die klagtes teen senior lede van die koninklike gesin was.

The Times het die Sussexe die geleentheid gegee om voor publikasie op die berigte te reageer en hul prokureurs het aan The Times gesê die koerant word deur die paleis gebruik om ’n geheel en al vals relaas die wêreld in te stuur.

Volgens The Times se inligting is die paleis egter uiters besorg daaroor dat dié beweringe nou openbaar gemaak is.

Gerugte van onmin onder personeellede het kort ná Harry en Meghan se toer in 2018 na Australië en Nieu-Seeland die lig begin sien. Die bedanking van twee personeellede was ook nuus.

Daar was ook sprake daarvan dat Meghan en haar skoonsuster, Catherine, ’n uitval gehad het omdat Catherine Meghan glo berispe het oor die manier waarop sy met personeel praat.

Daar was ook sprake daarvan dat Meghan en haar skoonsuster, Catherine, ’n uitval gehad het omdat Catherine Meghan glo berispe het oor die manier waarop sy met personeel praat.

Die boeliebeweringe het glo ook luidens berigte tot die vinniger skeiding van die broers en hul vrouens (die sogenaamde Fabulous Four) se stigting gelei.

Die probleme met personeel het ’n senior raadgewer genoop om kort nadat Harry en Meghan hul verlowing in November 2017 aangekondig het, met hulle te praat oor die probleme met hul personeel. Op die raadgewer se versoek dat mense goed en met begrip behandel moes word, selfs wanneer hulle nie hul beste lewer nie, was Meghan se woorde glo: “Dit is nie my werk om mense te op te piep nie.”

Harry se woorde voor die troue – “What Meghan wants, Meghan gets” – het hom op die rooi tapyt by die koningin laat beland.

Harry en Meghan is ook glo reeds voor hul verlowing ingeroep oor hoe hulle met personeellede praat.

Harry se woorde voor die troue – “What Meghan wants, Meghan gets” – het hom op die rooi tapyt by die koningin laat beland. Dít was nadat Meghan glo nie die tiara van haar keuse vir die troue uit die koninklike versameling kon kry nie.

Nog bronne het aan The Times gesê die “manne in grys” wat Meghan se lewe kwansuis so moeilik gemaak het, is die einste paleisamptenare wat agteroorgebuig het om dinge so maklik moontlik vir die nuwe aankomeling op die koninklike toneel te maak en wat haar teen die aantygings beskerm het.

Nog ’n amptenaar het aan The Times gesê Meghan se gedrag was “meer soos emosionele wreedheid en manipulasie, wat ek veronderstel ook boeliery genoem kan word”.

Woensdag se berigte herinner aan die dae toe Charles en Diana tydens hul egskeiding die media gebruik het. Albei se vriende, of in Diana se geval syself, het die media gereeld wenke gegee om die ander party in ’n slegte lig te stel.


Meghan is ná net ses minute by die Suva-mark in Fidji op dramatiese wyse deur haar vrouelyfwag uit die mark verwyder. ‘The Times’ berig nou Meghan het haar bedenkinge oor die Verenigde Nasies se Markets for Change vir vrouehandelaars gehad en het derhalwe haar besoek kortgeknip. Foto: Getty Images

Dit is hoekom Meghan se markbesoek kortgeknip is

Meghan se besoek aan ’n mark in Fidji in 2018 is kortgeknip omdat Meghan bedenkinge gehad het oor dié projek van die Verenigde Nasies se Markets for Change. Vroue het ure lank gewag om haar te ontmoet en was teleurgesteld toe Meghan net ses minute ná haar besoek aan die mark op dramatiese wyse deur haar veiligheidswagte by die mark weggeneem is.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.