Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Celebs
Nóg ’n koninklike huwelik op die rotse
David en Serena bring gewoonlik Kersfees saam met die res van die koninklike gesin op Sandringham deur. Hier is hulle in 2017 afgeneem terwyl hulle van die herehuis na die St. Maria Magdalena-kerkie toe stap. Foto: Getty Images

Nóg ’n egskeidingsbom het die Britse koninklike familie getref.

Graaf Snowdon, seun van koningin Elizabeth se suster, prinses Margaret, en sy vrou, Serena, het bekend gemaak hulle skei ná ’n huwelik van 25 jaar.

Dié aankondiging kom skaars ’n week nadat Peter Phillips, koningin Elizabeth se kleinseun, gesê het sy huweliksbootjie het ook gesink. Peter is die seun van prinses Anne en haar eerste man, Mark Phillips.

Lees ook: Prinses Anne se seun skei

David Armstrong-Jones en Serena Stanhope is in 1993 getroud en het twee kinders, burggraaf Charles Linley en lady Margarita Armstrong-Jones. Lady Margarita was deel van prins William en Catherine, hertogin van Cambridge, se gevolg met hul troue in 2011.

David is ’n ontwerper en vervaardiger van luukse meubels. Van sy kliënte is Mick Jagger, Elton John en Oprah Winfrey.

Hy het in 2017 met die dood van sy pa, Antony Armstrong-Jones, die titel graaf Snowdon oorgeneem.

David en Serena woon glo reeds jare lank nie saam nie en hul egskeiding sal teen einde vanjaar afgehandel wees.

Hoewel David ’n lid van die aristokrasie en ’n kleinseun van koning George VI is, is hy, net soos Peter Phillips, nie koninklik nie.

David en Peter lei albei normale lewens weg uit die koninklike kollig.

Koningin Elizabeth in 2018 saam met graaf Snowdon by die Royal Ascot-perderenne. Foto: Getty Images

David en sy gesin was jare laas op die Buckinghampaleis se balkon te sien met die amptelike viering van die koningin se verjaardag, maar woon wel groot familiegeleenthede by, soos die Kersete wat die week voor Kersfees in die Buckinghampaleis gehou word. David is verlede jaar afgeneem toe hy op sy fiets by die paleishekke opdaag vir dié ete.

David en sy suster, lady Sarah Chatto, is geheg aan hul tante (die koningin) en bring gereeld Kersdag saam met die koninklikes op Sandringham deur.

David was in 2007 in ’n seks-en-kokaïen-skandaal toe twee mans hom met derduisende pond afgedreig het. Die twee afpersers was glo in die besit van beeldmateriaal waar ’n koninklike helper vertel hoe hy gay-seks met David gehad het. Op die beeldmateriaal kan ook glo gesien word hoe dié helper kokaïen uit ’n koevert haal waarop David se naam staan.

David het die polisie se hulp ingeroep. Die twee mans is in hegtenis geneem en later tot vyf jaar gevangenisstraf gevonnis omdat hulle David probeer afpers het.

In beriggewing hieroor is David se naam nooit in die Britse pers genoem nie, hoewel genoem is dat die teiken van die afpersers ’n lid van die koninklike familie is. Die Amerikaanse media het egter sy naam gelek.

Ook David se ouers is in 1978 ná ’n stormagtige huwelik geskei. Albei het hard partytjie gehou en ander bedmaats gehad. Daar was ook destyds gissings dat Antony Armstrong-Jones gay-verhoudings gehad het terwyl hy met Margaret getroud was. Margaret is in 2002 ná ’n lang siekte dood.

– Bykomende bronne: Daily Express, Hello! en The Sunday Times, verwerk.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.