Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Celebs
Nou skryf prins Harry ook ’n boek

Die memoires wat prins Harry “nie as ’n prins van geboorte skryf nie, maar as die man wat hy geword het”, beloof om een van aanstaande jaar se topverkopers te wees.

Die nuus oor die boek is Maandag deur die uitgewer Penguin bevestig, wat hoop om die boek laat aanstaande jaar op die rak te hê.

Die Pulitzer-pryswenner J.R. Moehringer is die spookskrywer van die boek, waarvan die titel nog nie bekend is nie.

“Ek is opreg dankbaar vir die geleentheid om dit wat ek tot dusver deur die loop van my lewe geleer het, te deel en ek is opgewonde daaroor dat mense ’n eerstehandse vertelling wat akkuraat en getrou aan die werklikheid is, sal kan lees,” lui ’n verklaring wat die prins Maandag uitgereik het.

Die 37-jarige Harry, wat in Januarie verlede jaar saam met sy vrou, Meghan, hul uittrede as werkende senior Britse koninklikes aangekondig het, sê hy skryf nie die boek as ’n prins nie, “maar as die man wat ek nou geword het”.

“Ek het oor die jare heen verskillende hoede gedra, sowel letterlik as figuurlik, en ek hoop deur my storie te vertel, die hoogte- en laagtepunte, die foute, die lesse wat ek geleer het, kan ek wys dat dit nie saak maak waar ons vandaan kom nie, ons het meer gemeen as wat ons dink.”

Alle verdienste uit die “intieme en hartlike memoires” sal aan liefdadigheid geskenk word.

Penguin het Harry Maandag in ’n verklaring as “een van die mees fassinerende en invloedryke wêreldfigure van ons tyd” beskryf en sê hy sal in die boek sy “avonture, verliese en lewenslesse” deel.

Die boek sal na alle waarskynlikheid meer onthul oor die traumatiese verlies van sy ma, Diana, ontslape prinses van Wallis, toe Harry 11 jaar oud was, en meer breedvoerige besonderhede verskaf oor die redes dat hy en Meghan die lewe in die koninklike kollig verruil het vir ’n meer private bestaan in Amerika.

Moehringer het reeds die memoires van die tennislegende Andre Agassi en die medestigter van Nike, Phil Knight, agter sy naam. Sy eie outobiografie, The Tender Bar, is ook reeds verfilm en sal later vanjaar uitgereik word. George Clooney is die regisseur van The Tender Bar, berig Vanity Fair.

Hoewel Harry nie die eerste Britse koninklike is wat oor sy lewe skryf nie, sal die boek en wat hy daarin oor sy lewe as senior koninklike gaan verklap, vir paleisamptenare rede tot kommer wees.

Hy en Meghan se opspraakwekkende biegsessie vroeër vanjaar voor Oprah Winfrey het tot rekord-kykersgetalle wêreldwyd gelei, maar die reeds troebel verhouding tussen Harry en sy pa, prins Charles, en ouer broer, prins William, net verder versuur.

Harry en Meghan het in dié onderhoud die koningshuis nie net van institusionele rassisme beskuldig nie, maar ook ’n gebrek aan ondersteuning. Meghan het sover gegaan om te sê sy het gedagtes van selfdood gehad en dat paleisamptenare haar nie wou help nie.

Harry het gedurende die onderhoud ook gesê dat hy sy pa en broer bejammer omdat hulle “vasgevang” is in die koninklike institusie.

Harry het in ’n latere podsending en reeks oor geestesgesondheid wat hy saam met Winfrey vir AppleTV vervaardig het, meer uitgewei oor sy stryd met dwelmmiddels, die onverwerkte trauma ná sy ma se dood en hoe die fel media-aandag hom paniekaanvalle gegee het.

Hoewel daar voor Diana se dood reeds vermoed is dat sy haar samewerking aan die skrywer Andrew Morton gegee het met die skrywe van sy boek Diana, Her True Story, het Morton eers ná Diana se dood in 1997 bekend gemaak dat sy die hoofbron vir dié blitsverkoper was. Hy het sy vrae aan haar op band opgeneem en ’n tussenganger, ’n vriend van Diana, het die kassetbande weer aan haar besorg. Sy het Morton dan van antwoorde verskaf en selfs gereël dat hy met haar hegste vriendinne onderhoude voer. Diana het tot privaat foto’s uit haar familie-album vir publikasie in die boek verskaf.

Ook Sarah, hertogin van York, het in 1996 ná haar egskeiding van Harry se oom prins Andrew ’n boek geskryf. My Story is in 2011 opgevolg deur nóg ’n boek deur Sarah, Finding Sarah.

Ook koningin Elizabeth se oom koning Edward het in 1951, 15 jaar ná sy abdikasie, wat Elizabeth se pa op die troon geplaas het, sy memoires, A King’s Story, geskryf. Sy vrou, Wallis, hertogin van Windsor, het in 1956 haar memoires, The Heart Has Its Reasons, uitgegee.

Meer oor:  Boek  |  Meghan Markle  |  Britse Koninklikes  |  Prins Harry
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.