Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Celebs
‘Oorpresteerder’ RG trou met sy beste vriendin
Die foto waarmee RG Snyman sy huwelik op sy Instagram-profiel aangekondig het. Foto: RG Snyman/Instagram

Die petite Saskia Redelinghuys het Saterdag byna weggeraak onder haar Simson-agtige geliefde se arm kort nadat die Springbokheld RG Snyman (24) ’n trouring aan haar vinger gesteek het.

Haar stralende glimlag kon egter nie deur die reuse-slot, wat oor die 2 m lank is, se skouers verberg word nie.

Van RG Snyman se Wêreldbeker-spanmaats was ook by die troue, van links: Malcolm Marx, Franco Mostert en Steven Kitshoff. Foto: Facebook/Springbok Fans in NZ & Aus

Die Blou Bulle het op hul amptelike Facebook-blad die nuus met ’n goedige geterg aangekondig: “Oorpresteerder . . . Wen die Wêreldbeker en trou dan met die vrou van jou drome . . . alles in ’n bestek van ’n paar weke.

“Geluk aan ons ‘little guy’ en sy pragtige bruid.”

Die paartjie het kort nadat Redelinghuys haar honneursgraad in BCom (Belasting) aan die begin van die jaar behaal het, in April verloof geraak. Toe volg die “groot rugby” eers.

Saterdag was egter húl dag. Hulle het in die Greenhouse Café op Rosemary Hill by Mooiplaats, Pretoria, in ’n muurlose kapel met ’n hoë plafon ewige trou aan mekaar gesweer.

Redelinghuys was geklee in ’n skouerlose en vloeiende romantiese skepping, terwyl haar blonde hare onder ’n sluier uitgegolf het.

Die stralende paartjie tydens die onthaal. Foto: Facebook/Springbok Fans in NZ & Aus
Bruid en bruidegom: mnr. en mev. SnymanFoto: Facebook/MyPlayers

Snyman het, anders as hoe almal hom in oefenklere of ’n Springboktrui ken, ’n swart pak aangehad – ’n wit blom op die lapel vasgesteek.

Van die foto’s wat ná die seremonie op sosiale media gedeel is, wys ’n stralende paartjie wat net oë vir mekaar het.

Teen Sondag het die gelukwense sonder ophou ingestroom.

Op Redelinghuys se eie Facebook-blad het ’n familielid haar vir die eerste keer “mev. S. Snyman” genoem.

Die rugbyliefhebbersgroep Springbok Fans in NZ & Aus het op hul blad foto’s geplaas van Redelinghuys saam met vriendinne by die troue, sowel as van Snyman se spanmaats soos Steven Kitshoff, Franco Mostert en Malcolm Marx wat die dag saam gevier het.

Sondag het Snyman op sy Instagram-profiel ’n foto van hom en sy vrou geplaas waar hulle dromend in mekaar se oë kyk.

Hy het daarby geskryf: “Het die voorreg gehad om gister met my beste vriendin te trou. @saskia_red jy is absoluut pragtig. Ek het jou so lief!”

Meer oor:  Rg Snyman  |  Pretoria  |  Troue  |  Springbok
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.