Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Celebs
Oprah beklink eerste onderhoud met Meghan & Harry

Die koningin van televisie, Oprah Winfrey, het een van die grootste suksesse van haar loopbaan beklink – ’n onderhoud van 90 minute met Meghan, hertogin van Sussex, en prins Harry.

Meghan, hertogin van Sussex, het haar eerste onderhoud nadat sy en prins Harry besluit het om as senior koninklikes terug te staan, aan Oprah Winfrey toegestaan. Foto: Getty Images

Oprah With Meghan And Harry: A CBS Primetime Special, word op Sondag 7 Maart in Amerika uitgesaai. Dit sal later wêreldwyd versprei word, luidens ’n mediaverklaring van CBS.

Oprah, wat Harry en Meghan se troue op 19 Mei 2018 in Windsor bygewoon het, sal met Meghan praat oor hoe sy die oorgang na die koninklike lewe gemaak het, haar huwelik, moederskap, filantropiese werk en die druk as openbare figuur. Harry sal praat oor hul verhuising na Amerika en hul hoop en drome vir hul groterwordende gesin.

Die Sussexe het Sondag, op Valentynsdag, bekend gemaak Meghan is swanger met hul tweede kind. Meghan het in Julie verlede jaar ’n miskraam gehad waaroor sy breedvoerig in ’n meningstuk vir The New York Times geskryf het.

Oprah en die Sussexe woon albei in die eksklusiewe Montecito buite Santa Barbara aan die Kaliforniese kus.

Oprah is aan Meghan voorgestel deur ’n gemeenskaplike vriendin, Gayle King. Oprah en die Sussexe woon albei in die eksklusiewe Montecito buite Santa Barbara aan die Kaliforniese kus.

Die onderhoud kan vir die Britse koninklike gesin die nagmerrie-onderhoud van Harry se ontslape ma, Diana, in 1995 oproep. Die BBC ondersoek tans bewerings dat Martin Bashir, die onderhoudvoerder, Diana onder valse voorwendsels in die onderhoud in gestoomroller het, soos met vervalste bankstate wat daarop sou dui dat personeel in haar woning in die Kensingtonpaleis inligting oor haar aan die media verkoop het.

Dit is egter moontlik dat Meghan of haar span aan Oprah duidelike riglyne gegee het oor onderwerpe waaroor sy nie uitgevra mag word nie, soos haar interaksies met koningin Elizabeth of van die ander senior koninklikes.

Oprah Winfrey is na prins Harry en Meghan se troue op 19 Mei 2018 in die St. George-kapel in Windsorkasteel genooi. Foto: Getty Images

Harry vervaardig ook saam met Oprah en Apple TV ’n reeks oor geestesgesondheid.

Die onderhoud kan moontlik dieper delf in uitlatings wat Meghan in die ITV-dokumentêre program Harry & Meghan: An African Journey, gemaak het. Die reeks is in 2019 tydens die Sussexe se toer na Suid-Afrika verfilm, met Tom Bradby, die onderhoudvoerder, wat toe nog verder saam met Harry na Angola en Botswana gereis het terwyl Meghan en Archie, hul eersteling, in onderskeidelik Kaapstad en Johannesburg agtergebly het.

Meghan het op die vraag van Bradby hoe dit die afgelope jaar met haar gegaan het, geantwoord: “Dankie dat jy vra – want nie baie het al nie.” Sy het gepraat oor die intense media-aandag waaraan sy onderwerp word, en veral dat haar vriende haar teen die Britse poniepers gewaarsku het.

Harry vermeld in dieselde onderhoud hoe sy droefheid oor sy ma se dood steeds ’n etterende sweer is wat hom met elke kameraklik en -flits in die openbare oog herinner aan dít waaraan sy ma onderwerp is.

Harry het ook tydens dié onderhoud maandelange gerugte bevestig dat daar ’n wig tussen hom en sy ouer broer, prins William, is.

Die Buckinghampaleis se reaksie op die onderhoud Maandagaand was dat die hertog en hertogin nie meer werkende lede van die koninklike familie is nie en dat enige besluite oor mediaverpligtinge hul eie besluit is. As niewerkende lede van die familie was die Sussexe ook onder geen verpligting om die koninklike huishouding van hul planne met die Oprah-onderhoud te vertel nie, het koninklike korrespondente op Twitter geskryf.

– Aanvullende bronne: ITVnews.com


Meer oor:  Oprah Winfrey  |  Harry  |  Meghan  |  Koninklikes  |  Swangerskap  |  Onderhoud
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.