Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Celebs
Oulike Archie maak Harry-hulle se Kerskaartjie
Archie loer vir die kamera met sy ouers, Meghan en Harry, op die agtergrond. Foto: Twitter/The Queen’s Commonwealth Trust

Indien daar ’n prys vir die oulikste koninklike Kerskaartjie van die jaar was, sou jongeheer Archie Harrison Mountbatten-Windsor loshande die eerste prys gewen het!

Die Sussex-gesin se digitale Kerskaartjie is Dinsdagoggend vroeg op sosiale media bekend gestel. Harde kopieë van die foto is aan nabye familielede en vriende gestuur, terwyl ’n digitale Kerskaartjie aan organisasies gestuur is met wie die Sussexe bande het.

Prins Harry, Meghan en Archie is reeds weke lank in Kanada, vermoedelik Toronto, waar hulle ’n welverdiende gesinsvakansie geniet ná ’n ietwat onstuimige 2019.

Harry en Meghan het in ’n TV-dokumentêr wat tydens hul toer na Suider-Afrika in die tweede helfte van die jaar verfilm is, openhartig gepraat oor die media-aandag waaraan hulle onderwerp word.

Harry het in Harry and Meghan: An African Adventure ook nie veel gedoen om gerugte van onenigheid tussen hom en sy broer, prins Willam, te ontken nie. Harry se kwesbaarheid oor die dood van sy ma, Diana, en die rol wat hy dink steelfotograwe in haar uiteindelike dood gespeel het, was ook duidelik.

Meghan het in die onderhoud gesê sy sukkel met die fel aandag van die media, veral die meedoënlose beriggewing van die Britse poniepers.

Hoewel die Sussexe se lang vakansie uit die openbare kollig met die goedkeuring van koningin Elizabeth geskied, is hul afwesigheid by vanjaar se Kersfeesvierings op Sandringham ’n punt van omstredenheid in die Britse pers.

Harry het nog net een keer vantevore, toe hy in Afganistan gestasioneer was, ’n koninklike Kersfees gemis. Die broers het ook ná hul ouers se egskeiding Kersfees sonder hul ma op Sandringham deurgebring.

Meghan is ook voor haar en Harry se troue genooi om Kersdag op Sandringham deur te bring – die eerste keer dat ’n verloofde toegelaat is om Kersfees saam met die senior koninklikes te vier.

Hul afwesigheid sal veral vanjaar, met die siekte van prins Philip, gevoel word.

Die 98-jarige Philip word reeds sedert Vrydag in die koning Edward VII-hospitaal in Londen behandel, vermoedelik weens griepsimptome en ’n erge val.

Buckinghampaleis het Vrydag in ’n kort verklaring bevestig die prins is van Sandringham, waar hy sedert sy uittrede in 2017 woon, na Londen gebring vir mediese behandeling.

Prins Charles het Maandag tydens ’n verpligting gesê op sy pa se ouderdom is dit te verstane dat “alles nie meer werk soos dit moet nie”.

The Sun se koninklike korrespondent, Emily Andrews, het ook Dinsdag berig vrae is glo reeds voor Philip se siekte in koninklike kringe gevra oor hoekom die Sussexe ’n familie-Kersfees wil misloop wat moontlik die laaste saam met Philip én die koningin kan wees.

– Bykomende bronne: The Sun, The Queen’s Commonwealth Trust/Twitter, verwerk.


Meer oor:  Meghan  |  Archie  |  Prins Harry
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.