Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Celebs
Pa breek Meghan se hart 'in duisend stukkies'

Het Meghan, hertogin van Sussex, ’n fout gemaak om haar vriendinne te vra om met die media te praat? Was dit ’n berekende plan van Meghan om terug te slaan teen sensasionele beriggewing oor haar?

En dan nog boonop net soos haar skoonma, Diana, gemaak het, sonder die insae van die mediakantoor van Kensington-paleis.

Nou woed die familievete om Meghan, hertogin van Sussex, weer fel met Meghan in die een hoek en haar pa, Thomas Markle, in die ander hoek.

Eers het vyf goeie vriendinne van Meghan – almal anoniem – in ’n onderhoud in die Amerikaanse vermaaklikheidstydskrif People tot die hertogin se verdediging gekom: óf met Meghan se goedkeuring óf met haar medewete.

Prins Harry en Meghan, hertogin van Sussex, verlede week by ’n spoggeleentheid in Londen. Foto: Getty Images

Die onderhoud, waarin die vriendinne praat oor ’n brief wat Meghan aan haar pa geskryf het ná haar troue met prins Harry, waarin sy haar pa versoek om op te hou om haar in media te teister, het soos verwag, tot die volgende gelei: Thomas Markle het die brief asook van sy WhatsApps aan Meghan en prins Harry aan die Britse  Mail on Sunday beskikbaar gestel.

Meghan moes verwag het dat haar pa die een of ander tyd dié brief openbaar sou maak, want in die versigtig bewoorde brief vra sy of haar pa nie sy treitering kan staak nie en haar die geleentheid bied om in vrede haar lewe te lei.

'Hart breek in duisend stukke'

Sy skryf ook dat die onmin tussen haar en haar pa haar laat voel of haar hart in ’n duisend stukkies breek.

Die brief van vyf bladsye is in Augustus 2018 geskryf, drie maande ná Meghan en Harry se sprokiestroue in Windsor.

In die week voor die troue het Thomas se samewerking met ’n steelfotograaf aan die lig gekom. Ondanks Markle se samewerking met die fotograaf –Samantha, Meghan se halfsuster, se idee – om volgens Markle hom in ’n beter lig te stel – het Meghan en prins Harry hom dié flater vergewe en steeds aangedring dat hy die troue bywoon.

Markle se hartaanvalle en daaropvolgende mediese behandeling het hom verhinder om die troue by te woon, volgens hom.

Prins William en Meghan op hul troudag op 19 Mei 2018 in Windsor. Foto: Getty Images

LEES OOK:

Vriendinne praat oor Meghan se pa wat haar ‘teister’

Meghan skryf dat hy haar nooit gebel het om te sê hy gaan nie troue toe kom nie, terwyl Markle sê hy het die paartjie per WhatsApp in kennis gestel dat hy nie kan reis nie. In onderhoude ná die troue, eers met Britse poniekoerante en op 18 Junie op die Britse ontbytprogram Good Morning Britain, het Thomas sy dogter en die prins geroskam omdat hulle hom nie kontak nie.In die Good Morning Britain-onderhoud vertel Markle hoe Harry hom telefonies om sy dogter se hand gevra het.

In Sondag se Mail on Sunday-artikel verwyt hy prins Harry omdat hy nie na hom gereis het om in lewende lywe om sy dogter se hand te vra nie.Markle vertel ook dat hy Meghan se brief beantwoord het, en sedertien niks van haar hoor nie.

Sy vorige bewerings dat Meghan haar telefoonnommer verander het, blyk nou ongegrond te wees aangesien Meghan nie haar nommer verander het nie.

Thomas Markle sr. in die eksklusiewe TV-onderhoud wat hy op 18 Junie - die dag ná Vadersdag - aan Good Morning Britain toegesaan het. Die Kensington-paleis het nie vooraf daarvan geweet nie. Foto: Reuters

LEES OOK:

KYK: ‘Ek wens Meghan wil na my uitreik, ’ sê haar pa

Die Mail on Sunday het self by Markle gesit dat hy die nommer skakel, maar die oproep het onbeantwoord gebly met slegs met ’n stemboodskap wat sê die persoon is nie beskikbaar nie. Thomas het sedert Meghan en Harry se troue in onderhoud ná onderhoud aangevoer dat hy sy dogter kontak, maar niks van haar hoor nie.

En sy dogter uit sy eerste huwelik, Samantha, het nie ’n dag laat verbygaan nie, of sy val Meghan op Twitter aan.

In ’n interessante wending het die Mail on Sunday alle kommentaar op die artikel gesluit, iets wat die redaksie net doen indien hulle meen die artikel stel die koerant bloot aan regsoptrede. Wat wel duidelik is, is dat Thomas se gebrek aan diskresie met die openbaarmaking van die brief nou enige kans op versoening vernietig het.

Dat Meghan se vriendinne se People-onderhoud die onmin tussen pa en dogter, met halfsus tussen-in, weer laat opvlam het, is duidelik. Samantha het reeds die inhoud van die People-onderhoud as absolute snert afgemaak.

Of Meghan se insae in of goedkeur van die onderhoud, soos haar skoonma Diana ook gedoen het om haar kant van die saak te stel, ’n slim skuif was, is te betwyfel. Diana se gewoonte om storiewenke vir joernaliste en fotograwe te gee, haar samewerking vir ’n opspraakwekkende boek en TV-onderhoud, het haar private sekretarisse in ’n onmoontlike posisie gestel.

Kensington wou nie op navrae reageer of Meghan haar toestemming vir die People-onderhoud gegee het nie, het die Mail on Sunday berig. 

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.