Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Celebs
Panorama: Is Diana mislei om onderhoud te doen?

Op die 25ste herdenking van Diana, ontslape prinses van Wallis, se berugte Panorama-onderhoud, word opnuut vrae gevra oor hoe die BBC dit reggekry het om haar te oortuig om die onderhoud te doen.

In ’n dokumentêr op Channel 4, die ander Britse openbare uitsaaier, word nuwe bewerings van joernalistieke wanpraktyke gemaak.

Ook Diana se broer, graaf Charles Spencer, beweer sy is mislei om aan die program deel te neem.

Spencer, self ’n oudjoernalis en skrywer, se notas van sy aanvanklike ontmoeting met die onderhoudvoerder, Martin Bashir, is die naweek bekend gemaak. Hy sê hoewel hy geweet het Bashir het vervalste bankstate en ander “onwaarhede” gebruik om Diana sover te kry om die onderhoud te doen, het hy eers twee weke gelede uitgevind dat die BBC dit ook geweet het, maar dié feite toegesmeer het.

Die bestaan van die vervalste bankstate is lank reeds bekend. Dit moes glo aan Charles “bewys” dat van sy personeel stories lek.

Die onderhoud is in Diana se sitkamer in Kensingtonpaleis opgeneem. Martin Bashir sit met sy rug na die kamera. Foto: Getty Images

Uit Charles se notas blyk dit Bashir het ook beweer koningin Elizabeth is ’n emosionele eter, dat prins Edward (prins Charles se jongste broer) in ’n hospitaal vir MIV behandel is, en dat prins William se horlosie sy gesprekke met sy ma kon opneem.

Bashir het glo Diana se vrese dat daar op haar telefoongesprekke ingeluister word en dat daar meeluisterapparaat in haar woning is, uitgebuit.

Die BBC is nou onder skoot om te bewys dat Diana nie onder druk was om tot die onderhoud in te stem nie. ’n Handgeskrewe nota wat Diana glo sou geskryf het om te sê sy was onder geen druk nie, het volgens die BBC voete gekry.

Diana tydens die BBC se Panorama-onderhoud. Sy het in dié onderhoud erken dat sy ontrou was met James Hewitt, ’n soldaat met wie sy ’n jarelange verhouding gehad het. Foto: Getty Images

Tydens die onderhoud het Diana se volgende uitlatings ’n opskudding veroorsaak: Dat daar drie mense in haar en Charles se huwelik was (“Daar was drie van ons in die huwelik, so dinge was ’n bietjie beknop”), dat sy self ontrou was met die soldaat James Hewitt (“Ja, ek het hom aanbid, ja, ek was verlief op hom”) en dat prins Charles nie geskik is om koning te word nie.

Sowat 23 miljoen Britte het destyds na die onderhoud gekyk. Die onderhoud is selfs in Suid-Afrika uitgesaai.

Koningin Elizabeth het ná die uitsending opdrag aan Charles gegee om onmiddellik werk van sy egskeiding te maak.

Nie eens Diana se naaste vertrouelinge het geweet dat sy die onderhoud, wat in die geheim in haar woning in die Kensingtonpaleis opgeneem is, gaan toestaan nie.

Sy was reeds vervreem van Charles en het in ’n stadium gevrees dat die koninklike familie haar “uit die pad wil hê” sodat hulle beheer oor prins William en prins Harry kan kry.

Die BBC, wat gesê het Bashir is te siek om vrae te beantwoord weens ’n driedubbele hartomleiding en nagevolge van die koronavirus, het Sondagaand in ’n verklaring gesê die kwessie sal onafhanklik ondersoek word.

Bashir is Sondagaand afgeneem waar hy ’n wegneemete gekoop het.

Die BBC het reeds om verskoning gevra vir die twee vervalste bankstate, maar hou vol dit het geen rol gespeel in Diana se besluit om aan die program deel te neem nie.

Die joernalis en rubriekskrywer Dominic Lawson, wie se vrou, Rosa Monckton, Diana se beste vriendin was en tien dae voor haar dood nog saam met haar vakansie gehou het, het Maandag in ’n rubriek in Daily Mail geskryf Diana het tydens dié vakansie gesê sy is jammer sy het die onderhoud toegestaan.

Een van die plakkate – Diana Queen of Hearts – wat met die 20ste herdenking van Diana, prinses van Wallis, se dood buite die Kensingtonpaleis se reling vasgemaak is. Foto: Getty Images

Haar woorde dat sy nooit koningin sal word nie, maar as die mense se prinses en koningin van mense se harte bekend wil staan, is op 31 Augustus 1997 bewaarheid toe sy ure ná ’n ongeluk in Parys, Frankryk, dood is.

In huldeblyke wêreldwyd is sy as die “People’s Princess” en “Queen of Hearts” geloof. Elke jaar met die herdenking van haar dood is daar steeds bewonderaars wat met die woorde hulde aan haar bring.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.