Die musiekvervaardiger Phil Spector, wat in die jare sestig met sy “Wall of Sound”-opnames die klank van rockmusiek verander het en in 2003 aangekla is van die moord op ’n Hollywood-aktrise, is dood aan Covid-19.
Spector (81) het tussen 1961 tot 1965 talle treffers vervaardig, onder andere vir die Beatles, Leonard Cohen, The Righteous Brothers en Ike en Tina Turner.
Hy is vier weke gelede positief getoets vir die koronavirus en is van sy tronksel in Kalifornië na ’n hospitaal vir behandeling geneem.

Phill Spector in 2000. Foto: Getty Images
Spector was besig om sy lewenslange gevangenisstraf uit te dien vir die moord op die aktrise Lana Clarkson.
Die 40-jarige Clarkson is op 3 Februarie 2003 met ’n enkele skoot in die mond dood aangetref in Spector se luukse woning buite Los Angeles. Die twee het mekaar ’n paar uur vantevore in ’n Hollywood-nagklub ontmoet. Die skoot is uit ’n pistool wat aan Spector behoort het, gevuur.
Hy het in 2007 tronkstraf vrygespring toe die jurie nie tot ’n bevinding kon kom nie, maar is in 2009 eindelik vir die moord op Clarkson skuldig bevind.
Die saak het wêreldwyd opslae gemaak omdat Spector wyd bekend was as ’n pionier van rockmusiek.
Al Pacino het die rol van Spector vertolk in die rolprent Phil Spector. - Reuters en TMZ.com