Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Celebs
Philip: Koningin gryp in by uniform-tameletjie

Koningin Elizabeth het ’n pragmatiese oplossing gevind om die uniformtameletjie op prins Philip se begrafnis op te los – al die mans van die koninklike familie gaan gewone dagpakke dra.

Onmin broei al ’n paar dae lank nadat dit bekend geword het prins Andrew dring daarop aan om in die seremoniële uniform van ’n admiraal die begrafnis by te woon. Boonop wou prins Harry ook in uniform die begrafnis bywoon, hoewel hy dit nie meer mag doen nie omdat sy ouma hom van al sy militêre eretitels gestroop het toe hy as senior werkende koninklike teruggetree het.

Andrew, om wie se kop die stof nog nie gaan lê het oor sy vriendskap met die veroordeelde seksmisdadiger Jeffrey Epstein nie, is verlede jaar met sy 60ste verjaarsdag deur sy ma die eretitel van ’n admiraal in die koninklike vloot aangebied.

Prins Harry in uniform. Ná sy uittrede as werkende lid van die koninklike gesin wat ook nie meer ’n finansiële toelae uit die koningin se toelae van die Britse regering ontvang nie, mag Harry nie meer ’n seremoniële uniform dra nie. Foto: Getty Images

Andrew, wat in 2019 onder druk van die koningin, prins Charles en prins William as senior werkende koninklike moes terugstaan ná n BBC-onderhoud waarin hy sy vriendskap met Epstein verdedig het, het tot Sondag ’n lae profiel gehandhaaf. Hy het ná ’n kerkdiens naby sy huis in Windsor Groter Park lede van die media te woord gestaan, net soos wat hy voor sy gedwonge “uittrede" sou gedoen het.

Andrew het glo volgens verskeie Britse publikasies gehoop dat hy ná sy pa se dood weer ’n kans op die koninklike verhoog sal kry en boonop eerskomende Saterdag as 'n volle admiraal agter sy pa se kis kan stap.

The Times het Donderdag berig Andrew het finaal sy admiraalplanne laat vaar, hoewel hy self al ’n kleremaker opdrag gegee het om die uniform te maak.

Harry het gehoop het om dieselfde seremoniële uniform wat hy na sy troue gedra het – die uniform van die Blues & Royals – na die begrafnis te kan dra, het The Telegraph berig.

Prins Philip, prins Harry en prinses Anne, al drie in uniform, op Buckinghampaleis se balkon met die amptelike verjaarsdagvieringe van koningin Elizabeth in 2006. Foto: Getty Images

Die koningin het Harry egter van al sy eretitels in die weermag gestroop toe hy besluit het om as senior koninklike terug te staan. Hoewel Andrew nie meer as senior koninklike mag werk nie, is hy nie van sy eretitels in die gewapende magte gestroop nie.

Paleisamptenare was bekommerd oor hoe dit sou lyk indien Harry Saterdag die enigste man in die nabye familie is wat die begrafnis bywoon in ’n gewone pak – maar met die medaljes wat hy op twee ontplooiings na Afganistan verdien het.

Boonop is Andrew en Harry die enigste twee lede van die gesin wat aktiewe diens gedoen het.

Die pragmatiese oplossing is dat al die mans dus pakke dra, wat glo die koningin se voorstel was.

Prins Harry en prins Andrew in 2009 op Wapenstilstanddag by die Senotaaf in Londen. Foto: Getty Images
Prins Andrew het Sondag met die media en werkers van Windsor Groter Park gepraat nadat hy ’n kerkdiens bygewoon het. Dit was die eerste keer dat Andrew in die openbaar gepraat het nadat hy in 2019 weens sy omstrede vriendskap met die veroordeelde seksmisdadiger Jeffrey Epstein van die koninklike toneel af geboender is. Foto: Reuters

’n Bron na aan Andrew het volgens The Times gesê die fokus Saterdag is op sy pa, sy ma en die land en dat hy nie afbreuk daaraan wil doen nie.

Die begrafnis is ook die eerste geleentheid in meer as ’n jaar vir die familie om ’n verenigde front voor te hou. Met die laaste verskyning voor die pandemie was die ysigheid tussen prins William, Catherine, hertogin van Cambridge, en Harry en sy vrou, Meghan, duidelik.

Die koningin het daarop aangedring dat die Sussexe in Maart verlede jaar die diens ter ere van die Statebond bywoon, maar Charles en die Cambridge-egpaar se lyftaal teenoor Harry was ysig. William het sy broer vermy en eerder met prins Edward gepraat.

Dit sal Saterdag ook die eerste keer wees dat Harry sy familie in die persoon gaan sien ná sy en Meghan se onderhoud met Oprah Winfrey. In die onderhoud het Harry en Meghan albei die monargie van institusionele rassisme beskuldig. Harry het ook gesê die verhouding tussen hom en William is een van “ruimte” en dat die koninklike familie hom finansieel afgesny het ná sy besluit om terug te staan. – Aanvullende bronne: The Times, The Telegraph, The Mirror en Mailonline.

Meer oor:  Koningin Elizabeth  |  Prins Philip  |  Uniform  |  Begrafnis
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.