Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Celebs
PRAGFOTO’S: Dít is hoekom koningin, Philip so giggel!

Daar word al jare bespiegel oor hoekom koningin Elizabeth so gegiggel het toe sy in 2003 verby prins Philip in sy uniform van die grenadier-wagte gestap het.

Daar is aanvanklik gesê die koningin het nie haar man herken onder sy hoed van beervel nie, maar dit is toe nie die geval nie . . . dit was ’n swerm bye wat die koningin en Philip so aan die lag gehad het.

’n Giggelende koningin Elizabeth stap verby prins Philip wat in die volle uniform van die grenadier-wagte geklee is. Daar is al die jare gedink die koningin het nie haar man herken in sy uniform en beerhoed nie en begin lag toe sy besef dit is hy. Foto: Getty Images
Toe nie . . . dit was ’n swerm bye wat tussen haar gaste by die Windsor-kasteel rondgevlieg het wat eers die koningin en toe prins Philip aan die lag gehad het. Foto: Getty Images
Die koningin beduie na die stoele waar ’n swerm bye hulself tuisgemaak het. Foto: Getty Images

Op meer foto’s wat die fotograaf Chris Young op 15 April 2003 in die Windsor-kasteel geneem het, kan gesien word hoe ’n glimlag eers om Philip se mond speel voordat hy saam met die koningin in die rigting van die swerm bye kyk.

Young het aan die BBC vertel hy was op dié betrokke dag die enigste fotograaf aan diens vir die Britse Press Association, so hy was effens op sy senuwees omdat hy geweet het hy moet goeie foto’s neem wat deur almal in die Britse media gebruik sou word.

Terwyl hy en die ander gaste op die koningin gewag het, het hy wegbeweeg van sy vasgestelde plek en op ’n ander plek gaan staan om beter foto’s te kan neem.

Dit was toe dat Young die bye opmerk wat nesgemaak het onder een van die opvoustoele wat uitgesit is vir die gaste.

Die hertog van Edinburg was as kolonel van die regiment in sy volle uniform (en hoed van beervel) gereed om die koningin na die geleentheid te vergesel toe Young die blik tussen hulle opmerk.

“Ek was gelukkig,” sê Young oor sy foto’s van 18 jaar gelede. “Ek kon dadelik sien dit is ’n menslike oomblik tussen die twee. Sy het soos ’n klein meisietjie gegiggel en hy het ook gelag. Ek het nogal gedink albei se reaksie was uniek.”

’n Byeboer in diens van die koninklike huishouding is ontbied en het die situasie eers goed uitgekyk voordat hy nader beweeg het.

Sommige van die gaste het nie geweet of hulle moes padgee nie, maar uiteindelik moes almal uit die pad van die swerm bye beweeg.

Die gaste het nie geweet of hulle moet bly sit of padgee nie, maar moes uiteindelik die hasepad kies totdat ’n byeboer van die swerm kon ontslae raak. Foto: Getty Images
Die bye het hulle onder een van die stoele tuisgemaak wat vir die gaste uitgesit is. Foto: Getty Images
Die byeboer het eers nagedink oor wat om te doen en toe ’n swart sak oor die stoel met die bye getrek en dit verwyder. Foto: Getty Images
Dié swerm bye het tot ’n unieke foto van koningin Elizabeth en haar man, prins Philip, gelei. Foto: Getty Images

Young het sy foto’s na die fotoredakteur aan diens gestuur en was net op pad om die trein terug na Londen te haal toe hy gebel is. Hy is gevra om nóg foto’s te stuur. Hy het in ’n nabygeleë kafee gaan sit en nog foto’s aangestuur.

Sy een foto – van ’n seldsame steeloomblik tussen die paartjie – was die volgende dag op talle voorblaaie.

Dit is steeds een van die gewildste foto’s van die koningin en haar man.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.