Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Celebs
FOTO’S: Koninklike Kersfees vir George, Charlotte

Kersdag was ’n dag van eerstes vir prins George en prinses Charlotte. Die twee het Woensdag die eerste keer saam met lede van die koninklike gesin die tradisionele Kersdiens op die Sandringham-landgoed bygewoon.

Prins William het breed geglimlag vir die klein groepie mense wat buite die kerkie saamgedrom het, terwyl Catherine, hertogin van Cambridge, Charlotte touwys gemaak het om mense te groet en geskenke te ontvang.

Koningin Elizabeth het soos gewoonlik per motor by die St. Maria Magdalena-kerk opgedaag, en in haar knalrooi rokjas en hoed kon sy nie misgekyk word nie.

Prins Philip het nie die erediens bygewoon nie, vermoedelik omdat hy steeds herstel nadat hy eers Dinsdag uit die koning Edward VII-hospitaal in Londen ontslaan is. Die “Ysterhertog” soos hy bekend staan, het die afgelope paar jaar telkens ’n paar dae in die hospitaal deurgebring en het vermoedelik weens erge griep en ’n val in die hospitaal beland.

Al die koningin se kinders, buite prins Andrew, het die kerkdiens bygewoon. Andrew het wel 'n vroeë oggend kerkdiens saam met sy familede bygewoon. Hy is toe afgeneem waar hy saam met prins Charles na die kerk toe stap. 

Dit was die eerste keer dat prins George en sy suster, prinses Charlotte, die Kersdiens by Sandringham bygewoon het. Foto: Getty Images

Andrew se dogters, prinses Beatrice en prinses Eugenie, het net agter die Cambridge-gesin die trappies buite die kerk afgestap na waar die koningin se motor haar opgelaai het.

Beatrice se verloofde, Edo Mozzi, is ook vir die feestyd na Sandringham genooi, net soos Meghan Markle ’n paar jaar gelede as prins Harry se verloofde genooi is om Kerstyd saam met die koningin deur te bring.

Die koningin se oorlede suster, prinses Margaret, se dogter, Sarah Chatto en haar gesin was ook soos gewoonlik onder die groep koninklikes wat na die kerk gestap het. Sarah is baie na aan haar tante en word gewoonlik vir Kersfees genooi.

Prins Harry en sy vrou, Meghan, het besluit om vanjaar nie die tradisionele Kersfees in Sandringham by te woon nie, maar eerder Kersfees in Kanada saam met Meghan se ma, Doria Ragland, deur te bring.

Die Cambridges sal kort ná Kersfees op ’n skivakansie vertrek. Camilla, hertogin van Cornwall, vertrek ook Donderdag na Ray Mill House om ’n laat Kersfeesviering saam met haar kinders en kleinkinders deur te bring.

Die koningin bly tot vroeg in Februarie op Sandringham, waarná sy na Londen terugkeer.

Koningin Elizabeth het ’n groot diamantborsspeld saam met haar gebruiklike pêrelhalssnoer en -oorbelle gedra. Foto: Getty Images
Die groep koninklikes kom aangestap na die kerkie. Prinses Beatrice en haar verloofde, Edo Mozzi, stap voor die Cambridge-gesin. Foto: Getty Imamges
Die Cambridge-gesin ná die Kersdiens in die St. Maria Magdalena-kerk. Foto: Reuters
Prins George stap met ’n ernstige uitdrukking op sy gesiggie uit by die kerk. Hy hou sy pa se hand vas. Foto: Getty Images
Prinses Charlotte druk ’n lid van die publiek wat buite die kerk gewag het om die koninklikes te sien. Sy het ook ’n pienk opblaas-flamink gekry. Foto: Getty Images
Die oulike prinses Charlotte is nog net vier, maar het saam met haar broer die diens bygewoon. Die koninklike kinders begin gewoonlik op die ouderdom van ses die erediens bywoon. Foto: Getty Images
Die klein prinses het ’n strikkie in haar hare gedra.Foto: Getty Images
Catherine, hertogin van Cambridge, stel haar klein prinses gerus sodat sy lede van die publiek kan ontmoet. Dit was die kinders se eerste koninklike “walkabout”. Foto: Reuters
Prins William hou prins George se hand vas terwyl Catherine prinses Charlotte se hand vashou. Foto: AP
Catherine, hertogin van Cambridge, het ’n warm jas saam met haar smaraggroen hoed gedra. Foto: Getty Images
Prins Andrew stap saam met sy broer, prins Charles, na die kerk vir die vroeë oggendiens wat die koninklikes bygewoon het. Hy het nie vir die later diens saam met die familie kerk toe gegaan nie. Foto: AP
Prins Edward, sy vrou, Sophie, gravin van Wessex, en hul twee kinders, James, burggraaf Severn en lady Louise Windsor.Foto: Getty Images
Prinses Charlotte loer by die kerkdeur uit terwyl haar oumagrootjie, koningin Elizabeth, die paadjie afstap na waar sy opgelaai wou word. Foto: Reuters
Prinses Charlotte trek weg van haar ma, Catherine, met haar oumagrootjie wat voor hulle wegstap.Foto: AP
Elke jaar drom ’n groep belangstellendes buite die kerkie saam om die koninklikes van naby te sien. Charlotte het ’n pienk flamink en ’n pop as geskenke gekry. Foto: Getty Images
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.