Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Celebs
PRAGFOTO’S: ’n Koninklike dekade

Troues, geboortes én ’n diamantjubileum was van die hoogtepunte die afgelope dekade in die Britse koningshuis.

November 2010: Die langverwagte verlowing van prins William en Catherine Middleton word aangekondig. William steek sy oorlede ma, Diana, se diamant-en-saffierverloofring aan Catherine se ringvinger.

April 2011: Reuse-skares drom in Londen saam vir die troue van William en Catherine in die Westminster-abdy in Londen.

Prins William en Catherine, hertogin van Cambridge, soen mekaar op die balkon van die Buckingham-paleis ná hul troue in die Westminster-abdy. Foto: Getty Images

Junie 2012: Koningin Elizabeth vier haar diamantjubileum. Prins Philip word siek nadat hy ure lank in die koue en reën ’n flottielje ter ere van die koningin op die Teems gevolg het.

’n Flottielje vergesel die koninklike skip waarmee koningin Elizabeth se diamantjubileum gevier is. Foto: Getty Images

Julie 2012: Koningin Elizabeth smee kragte saam met die superspioen James Bond. Tydens die openingseremonie van die Spele in Londen ontmoet 007 die koningin in die Buckingham-paleis en die “koningin” doen ’n valskermsprong tot in die Olimpiese stadion. (’n Dubbelganger spring uit ’n vliegtuig kort voordat die koningin haar ereplek vir die openingsplegtigheid inneem).

LONDON, ENGLAND - JULY 27: Performers dressed up
'n Dubbelganger wat soos koningin Elizabeth aangetrek is spring uit 'n helikopter bo die Olimpiese stadion in Londen tydens die openingseremonie. Foto: Getty Images

Julie 2013: William en Catherine se eersteling, prins George, word in die Lindo-kraamvleuel van die St. Mary-hospitaal in Londen gebore.

prins george geboorte
Britse koerante berig oor die geboorte van 'n nuwe troonopvolger - prins George. Foto: Getty Images

Mei 2015: Prinses Charlotte word gebore. Omdat koningin Elizabeth voor die geboorte van die Cambridges se eersteling reeds aan die troonopvolgingswetgewing verander het, is Charlotte ná haar ouer broer ’n aanspraakmaker op die Britse troon – al is sy ’n meisietjie.

LONDON, ENGLAND - MAY 02: Prince William, Duke of
Prins William het ouboet George gaan haal sodat dié sy nuwe sussie kon ontmoet. Foto: Getty Images

April 2016: Koningin Elizabeth vier haar 90ste verjaardag en Brittanje vier saam fees. Met die viering van haar amptelike verjaardag in Junie draai die koningin ’n lemmetjiegroen uitrusting met die Vaandelparade.

Die koninklike familie in 2016 met die amptelike verjaardagviering van koningin Elizabeth. Foto: Getty Images

Augustus 2017: Prins Philip, eggenote van koningin Elizabeth, kondig aan dat hy die koninklike kollig vaarwel gaan toeroep, maar soms nog aan die koningin se sy gesien sal word.

Prins Philip kondig sy uittrede uit die koninklike lewe aan. Foto: Getty Images

Augustus 2017: Die 20ste herdenking van Diana, ontslape prinses van Wallis, se dood gaan met ’n rits dokumentêre programme gepaard. Prins William en prins Harry verleen selfs hul samewerking met ’n paar programme.

Blomme en kaartjies is voor die Kensington-paleis se hekke neergesit op die 20ste herdenking van Diana, prinses van Wallis, se dood.Foto: Getty Images

November 2017: Prins Harry kondig sy verlowing aan die Amerikaanse aktrise Meghan Markle aan. Hulle hou ’n kort mediakonferensie in die gesonke tuin by die Kensington-paleis, een van sy ma, Diana, se mees geliefde plekke in die park om die Kensington-paleis.

Prins Harry en Meghan Markle met die amptelike aankondiging van hul verlowing. Foto: Getty Images

April 2018: Prins Louis, die derde van prins William en Catherine se kinders, word gebore.

Prins Louis met sy doop in Junie 2018. Foto: Getty Images

Mei 2018: Prins Harry en Meghan Markle trou op ’n lieflike somersdag in die St. George-katedraal in die Windsor-kasteel. Duisende mense drom in die strate van Windsor en in die Long Walk saam om die paartjie geluk te wens.

Prins Harry en Meghan, hertogin van Sussex, op hul troudag in Windsor. Foto: Getty Images

Oktober 2018: Die jongste van prins Andrew en Sarah Ferguson se dogters, prinses Eugenie, trou in die St. George-katedraal in die Windsor-kasteel met Jack Brooksbank. Harry en Meghan se nuus aan die familie dat Meghan swanger is, is ’n demper vir die bruidspaar op hul groot dag.

Prinses Eugenie het haar trourok so laat ontwerp dat die litteken op haar rug, weens ’n operasie weens skoliose, sigbaar kon wees.Foto: Getty Images

November 2018: Prins Charles, vier sy sewentigste verjaarsdag. 

LONDON, UNITED KINGDOM - NOVEMBER 14: (EMBARGOED F
Prins Charles het op sy sewentigste verjaarsdag steeds verpligtinge uitgevoer. Lede van die koninklike perskorps het vir hom dié ballon en 'n geskenk gegee. Agter hom is sy vrou, Camilla, hertogin van Cornwall. Foto: Getty Images

Mei 2019: Prins Harry en Meghan, hertogin van Sussex, se eersteling word gebore. Hulle maak ’n paar dae later sy naam bekend, Archie Harrison Mountbatten-Windsor.

September-Oktober 2019: Die Sussexe toer na onder meer Suid-Afrika waar Archie die “Arch” ontmoet. Die besoek aan emeritus-aartsbiskop Desmond Tutu gee die wêreldmedia ook die eerste keer ’n ordentlike kyk na Archie. Die paartjie kondig op die voorlaaste dag van hul toer aan dat hulle albei regsaksie teen Britse koerante instel.

Emeritus-aartsbiskop Desmond Tutu ontmoet vir Archie, Meghan en prins Harry in Kaapstad. Foto: Getty Images

Oktober 2019: Prinses Beatrice, oudste dogter van prins Andrew en Sarah, hertogin van York, se verlowing aan die Italiaanse sakeman Edoardo Mapelli Mozzi word aangekondig.

November 2019: Prins Andrew se rampspoedige onderhoud om sy vriendskap met die Amerikaanse miljoenêr Jeffrey Epstein te verduidelik, kos hom sy openbare rol as koninklike.

Prins Andrew tydens sy rampspoedige onderhoud waarin hy sy vriendskap met die veroordeelde seksoortreder Jeffrey Epstein probeer verduidelik het. Dae later was hy sy openbare rol as koninklike kwyt. Foto: Skermgreep

Desember 2019:Prins Philip word in die hospitaal opgeneem, maar betyds ontslaan om Kersdag saam met die res van die familie in Sandringham by te woon. Hy en prins Andrew is albei afwesig wanneer die koninklikes die gebruiklike Kersdiens bywoon. Dit is die eerste keer dat prins George en prinses Charlotte die Kersdiens op Sandringham bywoon.

KINGS LYNN, ENGLAND - DECEMBER 25: Princess Charlo
Prinses Charlotte en Catherine, hertogin van Cambridge, op Kersdag by die St. Maria Magdalene-kerkie op die koninklike landgoed Sandringham. Foto: Getty Images
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.