Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Celebs
PRAGFOTO’S: Philip en Elizabeth se mooiste oomblikke

Hul liefdesverhaal het die toets van die tyd deurstaan. ’n Koninklike romanse só opreg, met wedersydse respek, liefdevolle blikke en ’n wonderlike, gedeelde humorsin. Arlene Prinsloo deel haar gunsteling-foto’s van koningin Elizabeth en prins Philip, hertog van Edinburg.

Voor die dae dat lyftaalkenners hul mening oor koninklikes se fynste beweging in die poniepers ontleed het, was prins Philip en sy jong verloofde, die destydse prinses Elizabeth, die hedendaagse koninklikes ver vooruit. Van hande vashou soos prins Harry en sy vrou, Meghan, hertogin van Sussex, was daar nie sprake nie.

Daar was wel kyke tussen die twee wat ’n mens baie herinner aan dié wat prins William en sy vrou, Catherine, hertogin van Cambridge, deel.

Die koningin en Philip is nog van ’n generasie wat nie in die openbaar aan mekaar hang nie, maar met hul kyke, ’n hand op die skouer of ’n kus op die wang was dit duidelik dat dié paartjie se liefde vir mekaar die toets van die tyd deurstaan het.

In later jare is die standvastige prins, Elizabeth se rots, telkens gesien waar hy haar hand vashou om te verseker dat sy veilig by ’n stel trappe afstap.

Die blik tussen die destydse luitenant Philip Mountbatten en sy verloofde, ’n jong prinses Elizabeth, is met die amptelike aankondiging van hul verlowing op 9 Julie 1947 vasgevang. Dit is ’n blik wat hulle dekades later nog gedeel het. Foto: Getty Images
Die destydse prinses Elizabeth en luitenant Philip Mountbatten lag op 30 Oktober 1947 nadat hulle moes probeer om met die Singer-naaimasjien te werk. Die twee het gereeld tydens openbare optredes private grappies gedeel, die prins se manier om die ietwat teruggetrokke Elizabeth te laat ontspan. Foto: Getty Images
Die blik wat deur die jare gebly het: Die pasgetroude prinses Elizabeth en haar man, Philip, hertog van Edinburg, ná hul troue op 20 November 1947. Foto: Getty Images
Prins Philip soen sy vrou op die wang ná haar kroning op 2 Junie 1953. Hy het kort voor dié kus ook voor haar gekniel om hulde aan haar te bring as die nuwe Britse monarg. Foto: Getty Images
Koningin Elizabeth oorhandig die wennersbeker aan prins Philip, wat kaptein was van die polospan wat op dié dag in Junie 1953 ’n polowedstryd by die Cowdraypark-poloklub gewen het. Foto: Getty Images
’n Liefdevolle blik wat boekdele spreek.’n Glimlaggende koningin Elizabeth kyk na haar man tydens ’n rolprentfees in 1953. Foto: Getty Images
Die koningin het net soos Diana, prinses van Wallis, en Catherine, hertogin van Cambridge, gereeld Saterdae langs die poloveld deurgebring om haar man te ondersteun. Hy was ’n uitstekende polospeler. Op dié foto, wat in Junie 1956 geneem is, gesels sy met prins Philip. Links is ’n klein prinses Anne en prins Charles. Foto: Getty Images
Koningin Elizabeth (35) kyk in 1961 terug na prins Philip tydens die Vaandeldagparade. Haar amptelike verjaarsdag word tydens die eerste naweek in Junie in Brittanje gevier. Foto: Getty Images
Oomblikke soos dié is nie dikwels in die openbaar gesien nie. Koningin Elizabeth en prins Philip groet mekaar in 1982 voordat sy aan boord van ’n vliegtuig gaan om ná ’n koninklike besoek in Kanada na Londen terug te keer. Foto: Getty Images
Koningin Elizabeth se gesig vertrek van die lag nadat prins Philip iets in haar oor gefluister het tydens ’n amptelike besoek aan Abu Dhabi in 1979. Foto: Getty Images
Dié foto het ikoniese status bereik. Koningin Elizabeth het verby prins Philip gestap, maar nie besef dit is hy nie (weens sy uniform en hoed van beervel). Toe sy opkyk en hom herken, het sy begin giggel. Die foto is in 2005 met ’n geleentheid in Buckinghampaleis geneem. Foto: Getty Images
Hul lyftaal sê alles! Prins Philip draai na sy vrou, koningin Elizabeth, wat duidelik aan die lag is oor iets wat die prins pas gesê het. Die foto is op 24 Julie 2014 geneem toe hulle in Glasgow ’n hokkiewedstryd by die Statebondspele bygewoon het. Foto: Getty Images
Dié foto, wat in 2015 geneem is, is seldsaam omdat prins Philip sy vrou se hand geneem het om haar die trappies by die St. Paulus-katedraal af te help. Die paartjie het nooit in die openbaar hande vasgehou nie, ’n voorbeeld wat hul kleinseun prins William en sy vrou, Catherine, hertogin van Cambridge, ook volg. Foto: Getty Images
Die paartjie het dikwels presies dieselfde gebare gemaak tydens openbare optredes. Hier is hulle in September 2015 by die Braemar-spele in Braemar, Skotland, afgeneem. Braemar is ’n klein dorpie naby die Balmoral-kasteel. Foto: Getty Images
Prins Philip hou koningin Elizabeth se hand vas ná die opening van die parlement in Londen. Hy het haar by ’n trappie afgehelp. Foto: Getty Images
Verlief en op hul wittebrood. Dié foto is ’n paar dae ná die destydse prinses Elizabeth en lieutenant Philip Mountbatten se huwelik op 20 November 1947 geneem terwyl hulle hul wittebrood op die Broadlands-landgoed deurgebring het. Foto: Getty Images
Net oë en ore vir sy vrou. Prins Philip en koningin Elizabeth gesels in die koninklike losie tydens ’n sirkusvertoning in die Olympia in Londen in 1952. Foto: Getty Images
Prins Philip en koningin Elizabeth het in 2007 met die viering van hul diamanthuweliksherdenking Broadlands weer besoek. Die twee het weer voor dieselfde boom waar hulle in 1947 tydens hul wittebrood vir ’n fotograaf geposeer het, gaan staan vir dié spesiale foto. Foto: Getty Images
Koningin Elizabeth draai effens na haar man terwyl hy oorleun om te luister wat sy sê. Sulke oomblikke tussen die twee tydens openbare geleenthede is dikwels vasgevang. Dié foto is tydens die koningin se goue jubileum in Julie 2002 geneem. Foto: Getty Images
Die twee deel weer een van hul private oomblikke tydens ’n geleentheid by die Buckinghampaleis in 2013. Foto: Getty Images
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.