Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Celebs
PRAGFOTO’S: Wêreld onthou Diana op haar verjaardag

Diana, ontslape prinses van Wallis, sou op 1 Julie haar 59ste verjaardag gevier het, skryf Arlene Prinsloo.

Lady Diana Spencer het in 1980 as ’n 19-jarige in die kollig beland toe dit bekend geword het dat sy in ’n verhouding met die troonopvolger, prins Charles, is. Die media het buite haar woonstel in Londen uitgekamp. Foto: Getty Images

Diana het in 1980 as ’n 19-jarige op die wêreldtoneel as die meisie van die hubare prins Charles verskyn.

Met haar rooi wange, lang bene en skaam glimlag het sy nie net die publiek bekoor nie, maar die lede van die media het haar nie uit die oog gelaat nie. Joernaliste en fotograwe het buite haar woonstel in Londen uitgekamp in die hoop om iets van haar te sien.

Sy is gou “Shy Di” gedoop. Die aristokratiese lady Diana Spencer was die derde dogter van graaf Johnny Spencer en sy gewese vrou, Frances Shand-Kydd.

Diana se ongelukkige kinderjare het die padkaart van haar kort lewe erg beïnvloed. Haar ouers se onstuimige huwelik en egskeiding het lewenslank ’n invloed op Diana gehad.

In haar soeke na geluk het sy op 19 gedink haar prins op ’n wit perd sal vir ’n sprokiesboekeinde sorg.

Diana was ’n deeltydse assistent by ’n kleuterskool toe sy prins Charles ontmoet het. Met dié fotosessie het sy nie besef die son skyn deur haar romp nie! Foto: Getty Images
Diana se gewildheid het vinnig dié van prins Charles verbygesteek. Hier hou sy op 9 Mei 1981 ’n baba vas nadat sy die Mountbatten-tentoonstelling in Romsey geopen het. Foto: Getty Images

Toe nie. Haar prins kon nooit sy groot liefde, Camilla Parker-Bowles, uit sy hart kry nie.

Twee seuns is uit Diana en Charles se huwelik gebore: prinse William en Harry. William het in sy huwelik met die destydse Catherine Middleton geluk gevind. Hul kinders, George, Charlotte en Louis, het ’n standvastige en gelukkige ouerhuis as grondslag. Hulle word grootliks uit die mediakollig gehou, maar ma Catherine is ’n ywerige fotograaf en foto’s van spesiale geleenthede soos verjaardae word gereeld gedeel.

Harry het sy geluk buite die paleismure gaan soek. Ná sy kort verhouding met die aktrise Meghan Markle is hulle getroud en het binne ’n jaar ouers van die skattige Archie Mountbatten-Windsor geword.

Weens sy kwesbaarheid as gevolg van sy ma se traumatiese dood en die alomteenwoordige steelfotograwe wat haar lewe so ’n hel gemaak het, het Harry en Meghan besluit om as senior koninklikes terug te tree en hul heil in Amerika te gaan soek.

Iemand kyk na die kleurskyfies van Diana, prinses van Wallis, en haar man, prins Charles, op Buckingham-paleis se balkon ná hul sprokiestroue op 29 Julie 1981 in die St. Paulus-katedraal in Londen. Dié foto’s is deel van die Hutton-foto-argief. Foto: Getty Images
Diana se asemrowende trourok het gekreukel in die koets waarmee sy van Clarence House na die St. Paulus-katedraal gebring is. Sy was steeds prentjiemooi. Foto: Getty Images
Diana met die Liefdesknoop-tiara wat nou ook deur Catherine gedra word. Foto: Getty Images

Hulle is tans betrokke by projekte om druk op groot maatskappye te plaas om hul advertensies aan die tegnologiereus Facebook te onttrek omdat dié nie rassistiese kommentaar en plasings van haatspraak verwyder nie.

Hul nie-winsgewende liefdadigheidsprojek Archiewell sal weens die Covid-19-pandemie eers volgende jaar van die grond af kom.

Diana se skoondogters word gereeld met haar in die media vergelyk – veral wat hul kleredrag betref.

Maar vir Diana-bewonderaars sal daar altyd net een Diana wees. Soos haar broer, graaf Charles Spencer, na haar op haar begrafnisdiens in die Westminster-abdy verwys het: “Ons is dankbaar vir die lewe van ’n vrou wat ek so trots my suster noem, die unieke, komplekse, die ongelooflike en onvervangbare Diana, wie se skoonheid, binne en buite, nooit uit ons geheue gewis sal word nie.”

In dié fotosamestelling staan Diana en Charles op 22 Junie 1982 met William op die trappe van die Lindo-vleuel van die St. Mary-hospitaal in Londen. Op die foto regs is William in Julie 2013 saam met Catherine en hul eersteling, George, by dieselfde deur en trappe. Soos haar skoonma het Catherine ook ’n kolletjiesrok aan. Sy hou haar en William se eersteling, prins George, vas. Foto: WireImage
Diana saam met haar stiefma, gravin Raine Spencer, by ’n geldinsamelingsveldtog vir die Royal Marsden-hospitaal in Londen. Die akwamarynring aan Diana se vinger is in 2017 aan die vinger van Meghan, die hertogin van Sussex en Harry se vrou, gesien. Foto: Getty Images
Meghan, hertogin van Sussex, met Diana se akwamarynring aan haar vinger. Sy het die ring na die onthaal gedra wat die aand van hul troudag op 19 Mei 2017 gehou is. Foto: Getty Images
Diana se mode-invloed was omvangryk. ’n Uitstalling van ’n versameling van haar klere is spesiaal vir die 20ste herdenking van haar dood in 2017 in Kensington-paleis, haar eertydse tuiste, gehou. Foto: Getty Images
Veral William se vrou, Catherine, se modestyl word gereeld met dié van Diana vergelyk. Links is Catherine by William se uitpassering aan die militêre akademie in Sandhurst, en regs is Diana by die koninklikes se Kersdiens op Sandringham. Foto: Getty Images
Diana in Januarie 1997, die jaar van haar dood, in Huambo, Angola, waar sy die kollig op die stryd teen landmyne laat val het. Haar jongste, prins Harry, het Huambo verlede jaar besoek om te kyk hoe dié mynveld dekades later lyk. Dié mynveld – nou ’n straat – is na Diana genoem en daar is nou winkels aan weerskante van die straat. Foto: Getty Images
Harry verlede jaar in September by die boom in Huambo, waar sy ma dekades gelede vir ’n fotosesssie geposeer het. Foto: Getty Images
Diana ruik aan ’n ruiker wat sy tydens ’n besoek aan die koninklike botaniese tuin in Melbourne, Australië, gekry het. Foto: Getty Images
Vir Diana was haar twee seuns haar lewe. Hier speel William in die tuin van sy ouers se plattelandse woning, Highgrove. Diana het dié herehuis verpes, omdat sy geglo het dat prins Charles en sy geliefde Camilla mekaar daar te siene gekry het. Foto: Getty Images
Diana in 1982 op ’n skivakansie in Lech in Oostenryk. Foto: Getty Images
Diana glimlag vir die man agter haar tydens ’n besoek aan Japan. Foto: Getty Images
Diana het ná haar egskeiding van Charles geblom. Sy het ook afstand gedoen van die lyfwagte wat sy as senior koninklike kon gebruik sodat sy vryer van die beperkings van die koninklike lewe kon wees. Foto: Getty Images
Prins William en prins Harry het met die 20ste herdenking van Diana se dood op 31 Augustus 2017 na die blomme en plakkate buite Kensington-paleis gaan kyk. Foto: Getty Images
Graffiti bo-oor die ingang na die Alma-tonnel in Parys, Frankryk. Diana is op 31 Augustus 1997 dood enkele ure nadat die motor waarin sy was, in ’n betonpilaar in dié tonnel vasgejaag het. Die bestuurder van die motor, Henri Paul, was onder die invloed van drank en is op slag dood. Diana se minnaar, Dodi al-Fayed, is ook op slag dood. Net die lyfwag het die ongeluk oorleef, maar kan weens geheueverlies niks van die ongeluk onthou nie. Foto: Getty Images
Meer oor:  Huldeblyk  |  Verjaarsdag
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.