Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Celebs
‘Prins Andrew se sweet was oral’

“Dit is nie ’n smerige seksstorie nie. Dit is die storie van hoe daar sekshandel gedryf is. Dit is die storie van mishandeling en dit is die storie van julle koninklikes.”

Met dié woorde het Virginia (Roberts) Giuffre, die vrou midde-in die seksskandaal waarin prins Andrew hom bevind, Maandagaand haar kant van die storie in die Jeffrey Epstein-sage vertel. 

Andrew se rampspoedige onderhoud op die BBC-program Newsnight ’n paar weke gelede het die Epstein-storm net nog feller om dié seun van koningin Elizabeth laat woed. Andrew het tydens die onderhoud gesê hy kan Giuffre glad nie onthou nie en dat hy nooit met haar seks gehad het nie.

Prins Andrew om wie se kop die Epstein-seksskandaal nie wil gaan lê nie. Foto: AP

Giuffre, wie se onderhoud opgeneem is voor die uitsaai van Andrew se onderhoud, het in Maandagaand se uitsending van BBC Panorama gesê die Amerikaanse miljoenêr Jeffrey Epstein het haar gedwing om met sy vriende seks te hê en dat een van dié vriende Andrew was. Sy beweer onder meer dat Andrew drie keer met haar seks gehad het toe sy 17 was. 

Andrew ontken Giuffre se bewering onomwonde en het tydens sy onderhoud aangevoer dat hy by ’n pizza-restaurant in Woking, Sussex, was op een van die datums wat Giuffre aanvoer hulle het seks gehad.

Giuffre sê Epstein het haar in 2001 tydens ’n besoek aan Londen aan Andrew voorgestel.

“Hy weet wat gebeur het. Ek weet wat gebeur het en daar is net een van ons wat die waarheid praat, en ek weet dit is ek,” sê Giuffre.

“Ek smeek die mense in Brittanje om vir my regte op te staan, om my in hierdie stryd te help, en nie te aanvaar dat dit oukei is nie. Dit is nie ’n smerige seksstorie nie. Dit is die storie van hoe daar sekshandel gedryf word en dit is ’n storie van julle koninklikes.”

Buckingham-paleis het reeds toe ’n uittreksels van Giuffre se onderhoud verlede week deur die BBC uitgereik is, ontken dat Andrew enige vorm van seksuele kontak of verhouding met Giuffre gehad het.

Wat sê Giuffre nog?

Virginia (Roberts) Giuffre tydens haar BBC-onderhoud. Foto: BBC Panorama

Giuffre sê sy is tydens die besoek in 2001 deur Epstein, wat homself in Augustus vanjaar in sy tronksel opgehang het waar hy verhoorafwagtend was op aanklagte van onder meer sekshandel, na die nagklub Tramp in Londen geneem. Ghislaine Maxwell, Epstein se vorige meisie en later glo die een wat meisies spesiaal vir Epstein uitgesoek het, was saam met haar en Epstein.

“Ons het by die BBP-deel ingegaan. Daar was natuurlik nie ’n ry nie – ons was saam met ’n prins. Andrew het my gevra wat ek wil drink, jy weet, en ek het gesê, o wel, iets van die kroeg. Ek weet wat hy gedrink het, was deursigtig. Ek weet myne was vodka en toe het hy my gevra om te dans.

“Ek bedoel . . . dit was aaklig en hierdie man het oor my gesweet, sy sweet was soos reën wat basies oral was.”

(Andrew het in sy onderhoud gesê hy kan nie sweet nie weens ’n oorafskeiding van adrenalien toe hy in die Falkland-oorlog geveg het.)

“Hy is die afgryslikste danser wat ek nog ooit in my lewe gesien het. Ek moes hom gelukkig hou omdat dit is wat Jeffrey en Ghislaine van my verwag het.”

En die foto?

Oor die foto van haar en Andrew wat met sy hand op haar middel staan, sê Giuffre: “Die mense aan die binnekant kom met al hierdie ongelooflike verskonings. Soos sy arm wat verleng is of dat die foto gedokter is, of dat hy New York toe gekom het om sy vriendskap met Jeffrey Epstein te verbreek. Ek bedoel . . . dit is absolute bog, want dit is wat dit is.”

Andrew het in sy onderhoud aangevoer die foto kan moontlik gedokter wees. Hy het ook gesê dat hy na New York gereis het om nadat Epstein tronkstraf vir seksuele oortredings uitgedien het, self vir Epstein te sê dat hulle nie meer vriende kan wees nie.

Dit was tydens dié besoek aan New York wat Andrew en Epstein afgeneem is. Dié foto het Andrew sy pos as Brittanje se handelsambassadeur gekos. Daar het vanjaar ook foto’s in die Britse media verskyn van Andrew wat ’n jong vrou afsien by die voordeur van Epstein se woning in New York.

Regslui wat van Epstein se slagoffers verteenwoordig, het reeds ’n beroep op Andrew gedoen om saam met geregsdienaars te werk en hulle alles van sy vriendskap met Epstein te vertel.

Hoewel nie veel van Giuffre se uitlatings nuut was nie, sal die onderhoud die aandag opnuut op Andrew en sy vriendskap met Epstein plaas. – Bronne: Reuters, Hello!, Mailone, verwerk.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.