Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Celebs
Prins Andrew weer by Epstein betrek

’n Jong vrou het glo in die luukse huis van die miljoenêr-sekshandelaar Jeffrey Epstein in New York die voete van prins Andrew van Brittanje gemasseer.

Dié jongste hoofstuk in die verhouding tussen die prins en die sekshandelaar, wat vroeër vandeesmaand sy eie lewe in die tronk geneem het, het in e-posse tussen die skrywer Evgeny Morozov en sy literêre agent John Brockman aan die lig gekom.

The Guardian berig dat Brockman Morozov glo volgens die tydskrif The New Republic aangeraai het om Epstein te ontmoet wat “geweldig vrygewig is en geld gee vir projekte van ons vriende en kliënte”. Die twee het op 12 September 2013 per e-pos gekommunikeer.

Prins Andrew en Virginia Roberts.
Jeffrey Epstein en sy destydse vriendin, Ghislaine Maxwell, wat prins Andrew glo aan hom voorgestel het.Foto: AP

Epstein was toe ook al voorheen aangehou weens bewerings dat hy minderjarige meisies vir seks vir sy ryk en invloedryke vriende gekry het.

Brockman het destyds luidens The Sun in ’n e-pos aan Morozov geskryf: “Die laaste keer toe ek sy (Epstein) se huis (in New York) besoek het, het ek hom in ’n sweetpak gekry saam met ’n Britse vriend in ’n pak klere met kruisbande. Albei het voetmasserings van twee goed geklede Russiese vroue gekry.

“Nadat hy my uitgevra het oor kubersekerheid, het die Brit, Andy, gepraat oor die Sweedse owerhede en die aanklagte teen Julian Assange. Andy het gesê ons dink mense in Swede is liberaal, maar dis meer soos Noord-Engeland as soos Suid-Engeland.”

Brockman skryf dat Andrew toe gekla het oor sy openbare lewe. “In Monaco werk Albert 12 uur per dag maar om 21:00 wanneer hy uitgaan, doen hy net wat hy wil en niemand gee om nie. Maar as ek dit doen, is ek in groot moeilikheid,” het die prins volgens die e-posse gesê.

Brockman skryf: “Ek het toe besef die ontvanger van Irina se voetmassering is sy koninklike hoogheid prins Andrew, die hertog van York.”

Verlede Sondag het Andrew in ’n verklaring, wat deur Buckingham-paleis uitgereik is, gesê “die onlangse berigte oor Jeffrey Epstein se beweerde misdade is skokkend”.

Hy het gesê hy “betreur die uitbuiting van enige mens en die suggestie dat hy sulke gedra sou kondoneer, daaraan sou deelneem of dit sou aanmoedig, is afstootlik”.

Andrew het Epstein in die laat 1990’s ontmoet nadat Ghislaine Maxwell, destyds Epstein se vriendin en dogter van die mediabaas Robert Maxwell, hulle aan mekaar voorgestel het, berig nzherald.co.nz.

In 2001 is Andrew afgeneem met die tienermeisie Virginia Roberts wat in die hof beweer het dat sy gedwing is om seks met Andrew te hê.

Die verklaring is uit die hof gegooi en Buckingham-paleis het dit as “kategories onwaar” bestempel.





Meer oor:  Prins Andrew  |  Jeffrey Epstein
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.