Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Celebs
‘Prins’ Archie glo rede vir Harry, Meghan se koninklike stuipe

Archie of prins Archie?

Prins Charles Foto: Getty Images

Prins Charles se besluit om nie die titel prins aan sy kleinseun Archie Mountbatten-Windsor toe te ken wanneer hy koning word nie, is glo die rede agter van die aantygings wat prins Harry en Meghan, hertogin van Sussex, gedurende hul opspraakwekkende onderhoud in Maart vanjaar met Oprah Winfrey gemaak het.

Hoewel die Sussexe met Archie se geboorte besluit het om nie van enige titels vir hul eersteling gebruik te maak nie – hy is geregtig op die titel graaf van Dumbarton – het die twee verwag dat wanneer Charles ná koningin Elizabeth se afsterwe die troon bestyg, Archie as ’n prins bekend sal staan, het die Mail on Sunday eksklusief berig.

Meghan het in die Oprah-onderhoud gesê tydens haar swangerskap het die koninklike familie gesê “hulle wil nie hê hul eersteling moet ’n prins of prinses wees nie”.

Archie sou – volgens die huidige Letter Patent (koninklike verordening) – outomaties ’n prins word sodra sy oupa die troon bestyg, maar Charles se besluit om dié verordening te verander, was iets wat die Sussexe volgens ’n vriend wat met die Mail on Sunday gepraat het, nie te wagte was nie.

Charles se rede vir ’n verkleinde monargie is ’n delikate balanseertoertjie van die toekomstige Britse monarg om die koste verbonde aan die koninklike familie tot die minimum vir belastingbetalers te beperk. Dit is al vir jare bekend dat hy die koninklike familie wil verklein, juis om koste te bespaar.

Hy en sy jonger broer prins Andrew het ook al in die verlede gestry omdat Charles nie wou hê dat Andrew se dogters, prinsesse Beatrice en Eugenie, heeltydse werkende koninklikes word nie. Om ’n werkende lid van die familie te wees, beteken dat die monarg ’n besoldiging aan elke lid moet betaal, benewens die hemelhoë koste van beveiliging wat uit die Britse belastingbetalers se sakke kom.

Archie saam met sy ouers, Meghan, hertogin van Sussex, en prins Harry, tydens hul besoek in 2019 aan Kaapstad, Suid-Afrika. Foto: Getty Images

• Dit het Sondag ook bekend geword dat die ondersoek na Meghan se sogenaamde “boeliegedrag” teenoor personeellede in die huishouding wat sy en Harry met prins William en sy vrou, Catherine, hertogin van Cambridge, gedeel het, eers aanstaande jaar bekend gemaak sal word, berig die Londense Sunday Times.

Jason Knauf, die destydse hoof van kommunikasie van die prinse se huishouding, het Meghan se gedrag in 2018 onder die aandag van een van sy seniors gebring, maar hoewel Buckinghampaleis niks verder oor die aantygings gedoen het nie, het prins William wel.

battle of brothers, robert lacey
Battle of Brothers.

Robert Lacey, ’n gerekende koninklike kenner en skrywer, skryf in ’n bywerking van sy boek Battle of Brothers dat dié boeliebewerings die rede is hoekom William besluit het om Harry uit hul gesamentlike koninklike stigting “te skop”.

Met die aankondiging in Junie 2019 dat die twee broers en hul vroue voortaan twee afsonderlike koninklike stigtings sou bedryf, is daar algemeen aanvaar die dryfveer agter dié besluit was die Sussexe – juis omdat hulle, anders as William, wat ’n toekomstige troonopvolger is, meer vryheid binne die koninklike bestel gehad het in hul keuse van liefdadigheidswerk en ’n meer informele manier van dinge doen.

Lacey, wat met ’n vriend van William gepraat het, skryf dat William, die oomblik toe hy van Meghan se beweerde boeliegedrag te hore gekom het, dadelik sy broer gebel het. Hulle het ’n verskriklike woordewisseling gehad en Harry het die oproep beëindig, maar William het oorgestap na sy broer om die gesprek voort te sit. William het besluit dat hul paaie saam in die koninklike stigting moet skei, omdat hy en Catherine hul personeel meer soos familie behandel.

Meghan het glo een keer toe sy oor die kole gehaal is oor hoe sy met personeel praat, gesê sy is nie daar om personeellede “op te piep” nie. Knauf se brief aan sy senior het kort voor die uitsending van die Oprah-onderhoud vanjaar bekend geword. Meghan het by monde van haar verteenwoordiger dié bewerings afgemaak as ’n poging tot karakterskending.



Meer oor:  Meghan  |  Archie  |  Prins Charles  |  Prins Harry  |  Britse Koninklikes  |  Geboorte  |  Royals
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.