Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Celebs
Prins Harry, Meghan teken kontrak met Netflix

Prins Harry en Meghan, hertogin van Sussex, het ’n eksklusiewe veeljarige produksie-ooreenkoms met Netflix gesluit.

Dit is ’n belangrike stap in hul plan om hul eie potjie buite die koninklike familie te krap.

Ingevolge die ooreenkoms, waarvan die waarde nie bekend gemaak is nie, sal die egpaar flieks en reekse vervaardig. Dit sal onder meer kinderprogramme insluit, het die stromingsplatform Woensdag gesê.

Die egpaar het vanjaar met hul babaseun, Archie, na Suid-Kalifornië verhuis nadat hulle in Januarie van hul koninklike pligte teruggetree het en aangekondig het dat hulle voortaan finansieel meer onafhanklik gaan wees.

Hulle het gesê dat hulle inhoud sal vervaardig oor kwessies wat hulle na aan die hart lê en by die werk van hul nie-winsgewende organisasie Archewell aansluit.

“Ons fokus sal wees op die skep van inhoud wat mense inlig, maar ook hoop gee,” het hulle Woensdag in ’n verklaring gesê.

“As nuwe ouers is dit ook vir ons belangrik om inspirerende gesinsprogramme te maak.”

Meghan, wat voor haar troue met Harry in die televisiereeks Suits opgetree het, sal volgens die ooreenkoms met Netflix nie voor die kameras verskyn nie.

Die paartjie het geen ervaring as vervaardigers nie, maar Netflix sê hulle het reeds verskeie projekte ontwikkel, waaronder ’n omgewingsdokumentêre reeks en ’n animasie-reeks wat inspirerende vroue vier. Hulle sê hulle is van plan is om diversiteit voor en agter die kameras uit te lig.

“Ons is ongelooflik trots daarop dat hulle Netflix as hul kreatiewe tuiste gekies het,” het die hoof-inhoudsbeampte, Ted Sarandos, in ’n verklaring gesê.

The New York Times berig dat Harry en Meghan ook in gesprekke met ander maatskappye, waaronder Walt Disney en Apple, was.

Netflix het verlede maand Rising Phoenix, ’n dokumentêr oor die Paralimpiese Spele, uitgereik. Harry, wat die Invictus-spele vir gewonde veterane gestig het, verskyn vinnig daarin.

Die Netflix-ooreenkoms is soortgelyk aan die ooreenkoms wat in 2018 met die voormalige Amerikaanse oudpresidentspaar Barack en Michelle Obama aangegaan is.

Harry het voorheen saam met die stromingsdiens Apple TV + gewerk en ’n dokumentêr saam met Oprah Winfrey oor geestesgesondheid gemaak. Dié dokumentêr, wat aan die gang was voordat die egpaar hulle aan hul koninklike pligte onttrek het, moet nog uitgesaai word.

In Junie het hulle ’n ooreenkoms met die Harry Walker-agentskap in New York, wat dien as agent vir lesings deur kliënte soos oudpresidente Obama en Bill Clinton en Winfrey onderteken. Daar word van Harry en Meghan verwag om individueel en saam lesings oor rasse-geregtigheid, geslagsgelykheid, die omgewing en geestesgesondheid te gee. – Reuters

Meer oor:  Netflix
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.