Prins Philip, 99-jarige eggenoot van koningin Elizabeth, het Sondagaand sy 13de aand in die hospitaal deurgebring.
Philip is Dinsdag, 16 Februarie, van Windsor na die King Edward VII-hospitaal in Londen geneem waar hy volgens Buckingham-paleis self die hospitaal ingestap het. Hy word vir ’n infeksie behandel.
Soos die gebruik is wanneer ’n koninklike gehospitaliseer word, reik die paleis nie kort-kort verklarings uit oor die welstand van die prins nie, maar die afgelope Dinsdag is gesê hoewel Philip gemaklik is en op behandeling reageer, word daar nie verwag dat hy binnekort ontslaan sal word nie.
Dit is die langste wat Philip nóg in die hospitaal was. Die Ysterhertog het in 2013 11 dae in die hospitaal deurgebring toe hy ’n maagoperasie ondergaan het.

Polisiemanne bewaak die ingang van die King Edward VII-hospitaal in Londen waar prins Philip reeds amper twee weke lank behandel word. Foto: Reuters
Prins Edward, jongste kind van die koninklike egpaar, het vandeesweek gesê die familie hou duim vas vir die prins se herstel. Op die vraag van Rhiannon Mills van Sky News of oor die hertog gretig is om huis toe te gaan, het Edward gesê sy pa is ’n bietjie gefrustreerd omdat hy nog in die hospitaal is.
Ook prins William het kort nadat sy oupa hospitaal toe is aan Arthur Edwards, ’n veteraan- koninklike fotograaf gesê sy oupa is “OK”.
Kommer oor Philip se toestand het verlede naweek toegeneem nadat prins Charles van sy plattelande woning, Highrove, na Londen gereis het om sy pa te sien en duidelik emosioneel was toe hy die hospitaal verlaat het. Weens die staat van inperking in Brittanje word hospitaalbesoeke slegs by uitsondering toegelaat.
Die koninklike gesin besoek mekaar gewoonlik nie wanneer een van hulle gehospitaliseer is nie, omdat sulke besoeke en die gepaardgaande publisiteit ander pasiënte kan steur.
Philip vier sy 100ste verjaarsdag in Junie.