Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Celebs
Prinses Charlene gebruik vandag nog Madiba se raad

Nelson Mandela het haar eendag raad gegee wat sy steeds toepas en nou is dié koninklike terug in Suid-Afrika om die eeufeesviering van sy geboorte by te woon.

Prinses Charlene van Monaco Woensdag in Johannesburg. Foto: Deaan Vivier

Prinses Charlene van Monaco is tans in Suid-Afrika om onder meer haar liefdadigheidswerk te bevorder en om die 16de Nelson Mandela-gedenklesing by te woon.

Sy was Woensdagoggend op ’n geleentheid by Emperor’s Palace in Johannesburg waar sy kortliks oor haar besoek in die land gepraat het en rolspelers van verskeie ander liefdadigheidsorganisasies ontmoet het.

“Nelson Mandela het gedoen wat baie regerings en politici nie kon regkry nie. Hy het ons land verenig en hy het my raad gegee wat ek vandag nog gebruik,” het sy in ’n onderhoud met Netwerk24 gesê.

Prinses Charlene vertel dat sy Mandela ontmoet het toe sy begin uitgaan het met haar man, prins Albert II van Monaco.

“Ek het ’n bietjie van ’n probleem met die media gehad wat my ’n klomp vrae wou vra. Ek het vir hom vertel dat ek ly onder die media. Hy het gesê: ‘Moet nooit vyande van die media maak nie. Sonder hulle sou ek vergete gewees het.’ ”

Sy sê sy koester dié boodskap en dus werk sy graag saam met die media “om lewens te help red”.

Sy het Woensdag ook gepraat oor haar jaarlikse wedren vir “waterfietse” wat in Februarie 2019 by die V&A Waterfront in Kaapstad gaan plaasvind. In die verlede het dit in Monaco plaasgevind.

In dié wedren neem spanne van vyf mense elk deel op ’n tipe “waterfiets” op die see. Elke aflosspan moet sowat 20 km aflê op dié “waterfietse”.

Prinses Charlene van Monaco staan saam met ’n kinderkoor wat tydens die geleentheid Woensdag gesing het. Foto: Deaan Vivier

In elke span is daar een professionele atleet en vier bekendes.

Prinses Charlene neem self deel aan dié kompetisies en haar span het die laaste wedren, in Junie vanjaar, gewen. Die opbrengste van dié wedren gaan aan die Prinses Charlene van Monaco-stigting, wat daarop fokus om kinders te leer swem, om hulle in te lig oor waterveiligheid en oor die waardes van sport.

Prinses Charlene, wat in Zimbabwe gebore is en in Suid-Afrika grootgeword het, was self ’n Olimpiese swemmer.

Die sogenaamde “waterfietse” wat gebruik word in die wedren om geld in te samel vir die Prinses Charlene van Monaco-stigting. Foto: Facebook

Sy sê alhoewel sy liefdadigheidswerk oor die wêreld heen doen, is dit tog vir haar belangrik om “terug te gee aan Suid-Afrika”.

“Ek voel altyd dat liefdadigheid tuis begin en Suid-Afrika is my tuiste. Ek probeer om soveel moontlik terug te bring huis toe en om soveel hoop en inspirasie aan diegene te gee wat dit nie het nie.”

Sy is van plan om haar tweeling, prinses Gabriella en prins Jacques, drie jaar oud, in Februarie na Suid-Afrika te bring.

“Dit gaan ’n wonderlike oomblik vir my wees. Dit is iets waaroor ek opgewonde is, want hulle gaan my land sien. Hulle gaan al ons diere en ons mense sien,” sê sy.

Meer oor:  Prinses Charlene  |  Mandela100
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.