Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Celebs
KYK: Regte tyd vir koninklike toer na SA

Dit is maak of breek vir die Sussexe wanneer hulle einde vandeesmaand Suid-Afrika besoek.

Prins Harry en sy vrou, Meghan, hertogin van Sussex. Die prins het onlangs gesê hy kan nie wag om sy vrou en eersteling aan Suid-Afrika voor te stel nie. Foto: Getty Images

Prins Harry en sy vrou, Meghan, strompel die afgelope paar maande feitlik onbeholpe van een flater na die volgende.

Met die geboorte van hul eersteling, Archie, is hulle geroskam omdat hulle sy geboorte so privaat moontlik probeer hou het en met sy doop is die weerhouding van sy peetouers se name nét so fel gekritiseer. Voeg daarby die koste verbonde aan die opknapwerk van hul tuiste, Frogmore Cottage, hul voorliefde om met private stralers te vlieg én hul besluit om nie in die Britse somervakansie by koningin Elizabeth op Balmoral te gaan kuier nie . . . alles ’n resep vir negatiewe dekking in die media én dalende gewildheidsyfers.

Geen wonder ’n koninklike toer kom op die perfekte tyd nie. (Hul vorige toere na Australië, Nieu-Seeland en Marokko was ongelooflik suksesvol.)

Tog, met ’n koninklike toer en as verteenwoordigers van koningin Elizabeth is daar geen tyd vir nukke en grille nie.

Al moet bome geplant en gedenkplate onthul word, op dié toer het die Sussexe seker gemaak húl belangstellings word ook by die toerprogram ingewerk: gemeenskapswerk, die regte van vroue en jong meisies, geestesgesondheid, die omgewing en MIV/vigs.

Die paartjie sal met ’n kommersiële vlug van Londen na Kaapstad reis en daar sal geen amptelike fotogeleentheid by hul aankoms wees nie.

Op 23 September, die eerste dag van die toer, sal hulle ’n werkwinkel besoek waar kinders onder meer oor hul regte, selfverdediging en veiligheid geleer word.

Meghan en Archie in Julie by ’n polowedstryd waaraan prins Harry deelgeneem het. Foto: Getty Images

Later die dag sal hulle die Distrik Ses-museum besoek en saam met oudinwoners van Distrik Ses kook.

Meghan en Archie sal in Kaapstad aanbly wanneer prins Harry Angola, Botswana en Malawi besoek. Hy sal onder meer in Angola die werk van sy ma by die teenlandmynveldtog die Halo-trust voortsit.

Een van die hoogtepunte van die Sussexe se tyd in Kaapstad sal ’n besoek aan The Lunchbox-kosprogram in Khayelitsha wees.

Duisende aanhangers van die Sussex-egpaar het voor en ná Archie se geboorte op Twitter as deel van die veldtog #ArchiesBabyShower geld aan liefdadigheidsorganisasies van hul keuse geskenk. The Lunch Box verskaf daagliks kos aan duisende kinders.

In Kaapstad sal hulle onder meer ook by aartsbiskop Desmond Tutu se MIV-stigting inloer en ook sy vrou, Leah, ontmoet.

Hulle sal pres. Cyril Ramaphosa en Graça Machel in Johannesburg ontmoet voordat die toer op 2 Oktober eindig.

Meer oor:  Harry  |  Meghan  |  Archie  |  Koninklike Toer
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.