Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Celebs
SA se Natasha gereed om Heelal oor te neem
Dié foto van Natasha Joubert (23) het wyd opslae gemaak en baie mense het dit as “ongelooflik” en “asemrowend” beskryf. Foto: Instagram/Natasha Joubert

Vandat sy in Amerika aangeland het vir die Mej. Heelal-kompetisie, het Natasha Joubert (23) van Centurion mense beïndruk, en al hoe meer van hulle meen sy het ’n goeie kans om te wen.

Reeds voordat sy vertrek het, het voorspellers haar naam in die moontlike topvyf ingesluit, maar nadat sy die afgelope paar dae asemrowende uitrustings, haarstyle en foto’s ten toon gestel het, word sy gereken as ’n moontlike wenner.

“Die Mej. SA-organisasie het Natasha met reg na Mej. Heelal gestuur, want dit is die kompetisie waar alles oor haar waardeer sal word: haar skoonheid, persoonlikheid en verstand,” lui ’n voorspelling deur die Missosology, ’n webtuiste wat deur miljoene gevolg word.

“Tamaryn Green het in 2018 byna ’n tweede agtereenvolgende wen vir Suid-Afrika behaal, maar ons glo Natasha het die nodige om daardie droom uiteindelik te bewaarheid.”

Haar grootste kompetisie is Rabiya Mateo van die Filippyne, Amanda Obdam van Thailand, Maria Thattil van Australië en Adline Castelino van Indië.

Joubert se kamermaat in die Seminole Hard Rock Hotel & Casino in Hollywood is Estefani´a Soto Torres van Puerto Rico.

Sondag op die eerste dag het Joubert geregistreer en het nog ’n Suid-Afrikaner, wat aan die kompetisie gaan deelneem, daar ontmoet.

Jeanette Akua, oorspronklik van die Oos-Kaap, sal Brittanje in die kompetisie verteenwoordig. Akua het in Suid-Afrika grootgeword en later getrek na Londen waar haar pa woon. Sy het ’n Britse burger geword.

Joubert het gesê dit was opwindend om Soto Torres en Akua te ontmoet.

Zozibini Tunzi (links), die huidige Mej. Heelal, en Natasha Joubert wat hoop om in haar spore te volg.Foto: Instagram/Natasha Joubert

Joubert plaas daagliks foto’s op Instagram van haarself in die hotel, by ’n fotosessie in swemklere en in aandrokke, en sy het selfs ’n bietjie gedeel van die voorbereidings vir die kroningsaand.

In ’n video op haar Instagram kan gesien word hoe al die deelnemers dans en oefen vir hul optrede op die verhoog.

Joubert het onlangs meer gedeel oor ’n spesiale oomblik wat sy ervaar het in die hotel toe sy ’n krale-armband met die landsvlag se motief daarop present gekry het.

“Een van die spesiaalste oomblikke gedurende hierdie hele reis het Maandagaand gebeur toe ’n paartjie wat ook in die restaurant geëet het, vir my die armband gegee het.

“Ek het ’n oomblik gehad om met hulle te gesels, en hulle het my vertel dat hulle Suid-Afrikaners is wat nou in Florida woon.

“Dit vul my oë met trane dat ek my land verteenwoordig en dat ek die steun van Suid-Afrikaners wêreldwyd het! Ek is ewig dankbaar vir hierdie geleentheid.”

Joubert het ook die huidige Mej. Heelal, Zozibini Tunzi van Suid-Afrika, in Hollywood gesien en foto’s saam met haar geneem. Sy het gesê Tunzi het haar geïnspireer om vir die kompetisie in te skryf.

Natasha Joubert in ’n wit uitrusting in die voorportaal van die hotel waar sy tuisgaan.Foto: Instagram/Natasha Joubert
Natasha Joubert haal die top-drie van die mees onlangse voorspellings. Foto: Facebook

Rolene Strauss, voormalige Mej. Wêreld van Suid-Afrika, het Dinsdagaand op Instagram gesê sy volg die Mej. Heelal-kompetisie en ondersteun Joubert.

“Ek dink sy vaar wonderlik! Sy verteenwoordig Suid-Afrika pragtig en ek sien uit na wat in die komende dae gebeur.”

So gaan dit werk

Die formaat van vanjaar se kompetisie verskil van vorige jare. Daar sal volgens berigte nie vanjaar, soos voorheen, ’n topvyf aangewys word van elke kontinent of streek nie.

Daar sal ’n top-21 aangewys word, dan ’n toptien, ’n topvyf, topdrie en daarna die wenner.

Van die vrae wat die vroue sal moet beantwoord, sal verband hou met geestesgesondheid, klimaatsverandering, skoonheidstandaarde, vryheid van spraak, wêreldwye armoede, geslagsgeweld, vlugtelinge en die rol van die verenigde nasies.

• Vrydag 02:00 (SA tyd) sal die kompetisie vir die nasionale kostuums gehou word en die eerste kompetisie vind Saterdag 01:00 (SA tyd) plaas. Dit sal op die Mej. Heelal-organisasie se YouTube-kanaal uitgesaai word.

Die finale kompetisie word Maandag regstreeks van 02:00 tot 05:00 (SA tyd) op die TV-kanaal 1 Magic (DStv-kanaal 103) uitgesaai.


MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.