Die Suid-Afrikaanse komediant en aanbieder van die Amerikaanse TV-program The Daily Show, Trevor Noah, is volgens die tydskrif Variety die gasheer van die 63ste jaarlikse Grammy-toekennings.

Die Suid-Afrikaanse komediant Trevor Noah. Foto: Instagram/Trevor Noah
Die Grammy-toekennings beloon uitnemendheid in die musiekbedryf.
“Ondanks daarvan dat ek uiters teleurgesteld is dat die Grammy’s geweier het om my te laat sing of my vir die beste popalbum te benoem, is ek verheug dat ek hierdie geleentheid kan aanbied,” het Noah grappenderwys aan Variety gesê.
“Ek dink as ’n Grammy-benoemde is ek die beste persoon om ’n skouer te wees (om op te huil) vir al die wonderlike kunstenaars wat nie op die aand wen nie, want ek weet hoe dit voel!”
Hy voeg by dit is ’n metaforiese skouer. “Ek probeer nie om Covid-19 te kry nie.”
“Ons is verheug om The Daily Show-aanbieder, Emmy-wenner en Grammy-benoemde Trevor Noah te verwelkom as die gasheer van die 63ste Grammy-toekennings,” lui ’n plasing deur die Recording Academy, die organiseerders, op Instagram.
“Ons kan nie aan ’n beter persoon dink as seremoniemeester vir die grootste aand van musiek nie.”
Noah sluit hom aan by bekendes soos Alicia Keys, LL Cool J, en die voormalige The Daily Show-aanbieder Jon Stewart wat al voorheen die toekenningsgeleentheid aangebied het.
Die 63ste Grammy-toekennings vind op 31 Januarie volgende jaar plaas.