Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Celebs
Schalk vra jawoord in selfde truitjie as hul eerste afspraak

Om ouers te vra is nie ’n grap nie, het die komediant Schalk Bezuidenhout onlangs geleer. Bezuidenhout het Dinsdag verloof geraak aan sy meisie van die afgelope twee jaar, Mica McKechnie.

Die komediant Schalk Bezuidenhout het die afgelope week verloof geraak aan sy meisie van die afgelope twee jaar, Mica McKechnie. Vir die geleentheid het hy gesorg dat hy dieselfde truitjie en broek dra wat hy op hul eerste afspraak twee jaar gelede aangehad het. Foto: Verskaf

“Ek was so op my senuwees. Ek het baie meer gestres as wat ek het toe ek vir Mica gevra het. Ek het by haar ouers gaan kuier en net nie geweet hoe om dit te doen nie . . . en toe ek weer sien, toe kots ek die woorde net uit,” sê Bezuidenhout.

Gelukkig vir hom het McKechnie se ma, Ginny, lekker gelag en gesê sy het vermoed dis wat hy in die mou voer en hulle was gretig om ja te sê. “Sy is die jongste van vier sussies, so gelukkig het ek darem drie ouens voor my gehad wat dinge makliker gemaak het vir my,” skerts Bezuidenhout.

Hy het toe vir ’n maand met die geheim geloop tot Dinsdag, toe hy McKechnie gevra het om sy vrou te word in die Brian Lara-restaurant in Linden, Johannesburg, waar hulle op 26 Oktober 2017 hul eerste afspraak gehad het.

“Hulle is nie oop op ’n Dinsdag nie, so ek het gevra of ek die hele restaurant kan bespreek. Mica is ’n art director wat hoofsaaklik aan advertensies werk. Ek het toe een van haar vriendinne wat saam met haar werk se hulp gevra om seker te maak sy daag op,” vertel hy.

‘Ons kom albei van die Oos-Rand.’

Die vriendin het vir McKechnie vertel dat hulle iemand daar ontmoet wat hulle wil gebruik om ’n geleentheid te koördineer. Toe hulle daar opdaag, was daar niemand.

“Die vriendin is toe uit en ek hol toe in (in dieselfde truitjie en broek wat hy op hul eerste afspraak aangehad het) en vra haar om met my te trou. Sy het gesê natuurlik, maar wat nou van die geleentheid,” sê Schalk. Nadat hy sy plan aan haar verduidelik het, het die res van hul vriende en familie by hulle aangesluit en saam makietie gehou. “En sy het opgelet dat ek dieselfde klere dra as die eerste keer,” sê hy ingenome.

Schalk het die groot vraag gevra met ’n mood ring wat hy vir R25 by die vlooimark in Boksburg gekoop het.

“Ons kom albei van die Oos-Rand, sy van Benoni en ek van Kempton Park. Toe ons mekaar ontmoet, het ek gedink dis baie oulik. Ons het dieselfde waardes en agtergrond en verstaan mekaar goed. Op ons eerste afspraak het ons so goed gekliek dat dit eintlik gevoel het of ons al jare saam is. Ek is baie lief vir haar en dan is sy nog mooi ook,” sê hy.

En moenie jou bekommer nie, die goedkoop ring gaan binnekort vervang word met die ware Jakob. McKechnie gaan self die ring ontwerp.

Volgens Bezuidenhout is hul verhouding sonder nonsens “Sy is baie ontspanne en daar is net nie al hierdie admin wat sommige verhoudings het nie. Selfs toe ek haar nou gevra het om te trou, was sy nie oordramaties nie. Sy het nie gegil en tekere gegaan nie,” sê hy.

Bezuidenhout se ouers, Schalk en Greta, is net so beïndruk met hul aanstaande skoondogter.

“Sy is ’n ware omgeemens en ons is baie bly om haar in ons gesin te verwelkom. Schalkie se pa kan nie ophou glimlag nie,” sê Greta.

suzanne.venter@rapport.co.za

Meer oor:  Mica Mckechnie  |  Schalk Bezuidenhout  |  Komediant  |  Verlowing
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.