Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Celebs
Skielik is almal in dieselfde bootjie
Pieter-Dirk Uys in die inperkingstyd.

Vanjaar het hy net een Nuwejaarswens en dit is die woord help. Help oral, help jou gemeenskap, asook jou vriende en familie. Die satirikus Pieter-Dirk Uys besin oor 2020 en wonder nog oor 2021, want sy oë traan van die wit blaaie in sy dagboek.

Nuwejaarswense is gewoonlik doodgewoon, soms snaaks en meesal net goeie maniere.

As ek nou aan dié nuwe jaar dink, weerklink een woord: help! En dit help glad nie, want niemand gaan help nie. Elkeen se storie is anders, maar almal is in dieselfde bootjie. Die groot skip van gewoonte het gesink, gekelder deur ’n deurskynende torpedo.

As ons nou praat van ’n nuwe normaal, is “normaal” die regte woord? En wat is nuut? Om weer te kan omhels? Om aan te raak? Om lekker te nies sonder dat almal by die venster uitspring?

’n Jaar gelede voel nou soos ’n miljoen ure in die verlede. Die laaste oomblikke van 2019: Suid-Afrika se wiele was pap, sy ekonomie is gekaap. Die verdagtes se name is alombekend, met hul nuwe motors op voorblaaie, middelvinger waggelend onder ons neuse. ’n Voormalige leier zoema in en uit van hof na hof.

Oorkant die see in ’n wit huis druk ’n oranje nagmerrie die wêreld al hoe nader aan die afgrond van fascisme. Soos aan die einde van enige jaar, kyk ons liewers vooruit, oor die bult van Kersfees, deur die donga van Nuwejaar en na die begin van die res van ons lewens. Al die probleme is daar om op te los.

Die syfers lyk goed, want 2020 gebeur net een keer, soos 1919 en 1818.
Tannie Evita se dagboekie is ook leeg.Foto: Hentie van der Merwe

Die syfers lyk goed, want 2020 gebeur net een keer, soos 1919 en 1818. Twintig-twintig is die goeie nuus as jou oë getoets word. 20/20 is die ideale demokratiese balans: albei kry ewe veel. Dit gaan ’n goeie jaar wees. Die oranje oorpakke staan gereed. My planne vir die toekomstige maande is al opgetrek. Teaters is bespreek, hier en oorsee. Twee honderd en twintig vertonings is kleurvol in my dagboek met geel kokipen verhelder.

En toe gaan die ligte uit! Niks nuuts nie; ons is gewoond aan Eskom se senuwee-instortings. Daar’s baie wat ons geleer het om in die donker te doen. Die ligte kom mos altyd weer terug. Die lewe kan verlig sug en voortgaan.

Tot Maartmaand. Skielik ’n droë hoes, ’n nare koors. Verlore sin van reuk en smaak. Asemhaal sukkel. ’n Naam wat nie sin maak nie. Covid-19?

Soos uit ’n Hollywood-fliek waar naamlose dooies soos droë blare verspreid lê, terwyl Schwarzenegger en Streep hul asems ophou tot die laaste oomblik van verlossing. Vaksien! Die gelukkige einde! Net in die bioskoop.

Wie sou ooit gedink het dat die wêreld soos ons dit ken, binne weke sou vergaan? Elke dag voel nou soos Dinsdag. Kersfees was ’n plastiek- getinselde boompie wat nog op die agterste vensterbank van die kar lê om met die wêreld te deel? Twiet #GeseëndeNuwejaar as ’n goeie kletspunt? Maar niks is meer geseënd as ’n “gesonde lewe” nie.

Vier die Januarie-vakansie saam met die paar geliefdes, ook in die gedeelde boot van isolasie.

Vier die Januarie-vakansie saam met die paar geliefdes, ook in die gedeelde boot van isolasie. Zoom-bel al die vriende daar buite agter toe deure en maskers. Handhaaf sosiale afstand vir ’n langer lewe!

Wense vir die res van die jaar? Moeilik, want 2021 is nog te ver in die donkerte. My flou flitsliggie van optimisme is net sterk genoeg om môre raak te sien. Dus, hoop vir môre: ja, die son sal opkom, skyn en sak. Ja, die voëls vlieg en koer. Ja, die hond en kat moet gevoer word. Ja, alles is normaal, behalwe ons.

My 2021-dagboek, nou al gewoonlik vol planne, lê nog leeg. Elke week is vol met niks, op bladsye so wit, my oë traan.

Help! Help jouself. Help jou familie. Help jou gemeenskap.

Ná die driehonderd-en-plus dae in my afsonderlike ontwikkeling, wil ek nie eens uitgaan nie, skoon verlief op my isolasie.

O gits, amper vergeet van my Nuwejaarswense!

Nog steeds net een woord: Help! Help jouself. Help jou familie. Help jou gemeenskap. Help jou vriende. En doen dit dag ná dag.

Oormôre is skinder; volgende week is miskien fake news.

Onthou net en wees verlig: Jy’s nie alleen nie.

Boodskap van tannie Evita

Is jy bang jou 2021-dagboekie bly ook so leeg soos verlede jaar?

Neem jou potlood en vul joudrome in om waar te word.

Bly veilig en beskut. Daar isentstowwe in die liggie aan die einde van die tonnel.

Oppas vir die Covid-19-kobras wat wag. Wees bewus en gemasker.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.