Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Celebs
Só lyk bekendes se Paasfees-planne tydens inperking
Clare Wiese-WentzelFoto: Argief

Dit is amper Paasfees en heelparty mense se planne vir die langnaweek is weens die inperking in die wiele gery.

Hoewel dinge dalk nie uitgewerk het soos beplan nie, is bekende Suid-Afrikaners vasbeslote om Paasnaweek steeds saam met hul geliefdes spesiaal te maak. Hulle het hul planne met Netwerk24 gedeel.

Simoné PretoriusFoto: Instagram/Simoné Pretorius

Die aktrise Simoné Pretorius (née Nortmann) sê daar is ’n inisiatief deur verskeie organisasies wat Woensdag om 14:00 (Amerikaanse tyd) wêreldwyd saam aanlyn Nagmaal gaan hou.

“Dis Amerikaanse tyd, so ons (sy en haar man, Andries) sal dit seker Donderdagoggend stream en saam met duisende ander gelowiges die Paasnaweek ingaan met Nagmaal, gebed en worship. Ons kyk op Sondae ons kerk se live-dienste en so sal Paassondag heel waarskynlik op dieselfde wyse begin.”

Sy sal graag ’n Paaspiekniek in hul tuin wil hou, maar dit hang af van die weer.

“Ons lewe in interessante tye. Nou, meer as ooit, wanneer regerings, wetenskap en mensgemaakte stelsels ons nie kan red nie, wanneer alles om ons tuimel, staan die kruis standvastig – ’n baken van hoop vir die mensdom. Paasfees beteken vir my dat Jesus se opstanding ook my opstanding is. Uit dood, angs, vrees vir die onbekende, siekte, depressie, swaarkry. Omdat Hy lééf, leef ek,” sê Pretorius.

Sy het aanvanklik haar man verras met die vooruitsig van ’n week lange wegbreek in Bali einde Maart om hul eerste huweliksherdenking te vier, maar moes dit kanselleer. Omdat die egpaar dan sou weggaan, het hulle niks rondom Paasfees beplan nie.

Francois van CokeFoto: Argief

Die rocker Francois van Coke was verlede jaar met Paasnaweek in Hermanus op die verhoog. Dié jaar is hy egter by die huis saam met sy “gunstelingmense” – sy vrou, Lauren Badenhorst, en hul dogter, Alex Lila (3).

“Ek gaan braai, ’n paar Paaseiers wegsteek, slaap en movies kyk. Ek sien uit,” sê hy.

Die sakevrou en TV-aanbieder Clare Wiese-Wentzel, dogter van die sakemagnaat Christo Wiese, is maar rustig by die huis saam met haar man, Marco Wentzel (40), oudkaptein van die Haaie, en ’n familievriend.

Jak de PriesterFoto: Argief

“Hy het kom kuier in die Kaap uit Londen toe die inperking begin het en is nou vasgevang. Natuurlik is die hondjies by ons en hulle hou ons lekker besig – die huis is vir seker nooit te stil nie,” sê Wiese-Wentzel.

Was dit nie vir die inperking nie, sou die egpaar waarskynlik Yzerfontein toe gegaan het vir Paasnaweek, waar hulle tyd saam met haar familie sou deurbring.

“Ek is baie geheg aan my ouers en gewoonlik onthaal my ma ons almal by ’n spesiale Paasfeesete. Dinge is maar baie anders vanjaar en ’n mens mis die fisieke kontak met jou familie en vriende verskriklik. Ek is ’n mensemens en my verhoudings is alles vir my,” sê Wiese-Wentzel.

Vir Rolene Strauss, Mej. Suid-Afrika en Mej. Wêreld in 2014, en haar gesin is dit hul eerste Paasfees as vier gesinslede. Sy en haar man, D’Neil Strauss, het ’n driejarige seuntjie en het onlangs hul tweede kind – ook ’n seuntjie – verwelkom.

Die voormalige skoonheidskoningin is dankbaar vir hierdie gehaltetyd saam met familie gedurende die inperking oor Paasfees. Sy maak gebruik van kreatiewe aktiwiteite en video’s om hul oudste van Paasfees te leer.

Prof. Adam HabibFoto: Argief

“As ouers bid ons vir wysheid om op ’n maklike manier vir ons kinders te verduidelik waaroor Paasfees gaan,” sê Strauss.

Sy gaan ’n heerlike ete vir haar gesin voorberei en beplan om ook ’n piekniek in hul agtertuin te hou.

Gewoonlik sou haar en haar man se families oor Paasfees in Hartenbos bymekaarkom om hierdie feestyd saam deur te bring.

’n Yslike Paaseiersoektog lê voor in die sanger Jak de Priester se huishouding.

“My vrou (Michelle) maak lank voor die tyd eiers bymekaar en gelukkig is hier baie wegsteekplek by ons huis. Die kinders (Jamie, Mija en Mika) is baie opgewonde,” sê hy.

NádineFoto: Argief

Hierdie soektog na Paaseiers is ’n jaarlikse instelling vir die gesin.

Hulle sou aanvanklik Paasnaweek op die MSC Musica-skip gewees het met die Oppiwater-kunstefees waar De Priester sou optree.

“Die kinders het baie uitgesien na die skip. So ons sal ’n haas uit ’n hoed moet trek om dit baie opwindend te maak die naweek.”

Vir die sangeres Nádine was Paasfees nog altyd ’n spesiale tyd van die jaar.

“ ’n Jaar gelede het ek my ma (Carine Crystil) en ’n paar vriendinne oorgenooi vir ete, maar vanjaar gaan dit nie gebeur nie,” sê sy.

Nádine is wel van mening dat dit nou die ideale geleentheid is om te besin oor waaroor Paasfees gaan.

Sy beplan om ’n Paasete te maak met die items wat sy reeds in die huis het en dan buite in die sonnetjie ’n tafel te dek.

Nádine het aanvanklik nie geweet dat die inperking oor Paasnaweek strek nie en het dus nie ’n enkele Paaseier in die huis nie.

“My hart is nogal seer omdat ek geen Paaseiers het nie, want ek hou van tradisie.”

Weens die inperking wil sy nie onnodig winkels toe ry om inkopies te doen nie.

Dawie RoodtFoto: Argief

Prof. Adam Habib, visekanselier van die Universiteit van die Witwatersrand, beplan om Vrydag Paasbolletjies te eet en die res van die naweek sjokolade.

“Dit gaan gepaard met baie oefening van al die eet tydens die inperking,” sê hy.

Hy bring hierdie tydperk saam met sy vrou, Fatima, en hul 21-jarige seun, Zidaan, deur.

Die ekonoom Dawie Roodt wou aanvanklik sy gesin verras met ’n besoek aan die wildtuin in die Laeveld. Hy hoop nou vir kosbare familietyd saam met sy vrou, Marina, en hul sesjarige tweelingdogters, Daria en Yulia.

“Hulle verstaan nie waarom ek by die huis is en nie met hulle speel nie. So ek sal aandag aan hulle gee,” sê Roodt.

Hy het ook vleis gaan koop en beplan om ’n eisbein in die Weber gaar te maak.

Roodt het ook verlede week vir die eerste keer oupa geword. Vir hom is dit die ergste dat hy nog nie sy kleinseun kon ontmoet nie.

Vir ’n verandering is die Springbokslot Eben Etzebeth nie op die rugbyveld oor die Paasnaweek nie.

“As rugbyspelers speel ons dikwels oor Paasnaweek en is ons soms weg op toere, so dis kosbaar om hierdie keer saam met my familie te kan wees. Ons het uiteraard nie ’n ander keuse as om by die huis te wees nie, maar sal braai, kosmaak en mekaar se geselskap geniet. Ons sal Paasnaweek natuurlik om die regte redes vier en dankie sê vir al ons seëninge.”

Hoewel die sanger Mathys Roets nog nie enige planne vir Paasnaweek gehad het nie, het hy gesê dit is ’n goeie idee om ’n spesiale ete voor te berei. Hy en sy vrou, Jané, het wel al in die Paasbolletjies ingevaar wat eie is aan Paasfees.

Eben EtzebethFoto: Argief

Volgens dr. Pieter Groenewald, leier van die VF Plus, sal baie mense die naweek meer gefokus wees op waaroor Paasfees werklik gaan. Hy gaan dit saam met sy vrou, Hedwig, by die huis deurbring.

Groenewald weet nie wat alles op die spyskaart is nie, maar Saterdag word daar beslis gebraai.

Hy moedig ouers aan om die tyd te gebruik om hul kinders te vertel oor Paasfees en dat mense vir die land bid.

Die Kaapse digter Joan Hambidge gaan Paasnaweek alleen tuis deurbring en na musiek en requiems op Fine Music Radio luister. Haar blog, Woorde wat Weeg, verteenwoordig haar inperkingstyd. Dit is ’n interne reis en ’n tyd van introspeksie, ook bewustheid van die hantering van ’n nuwe wêreld.

Soos vir baie ander het die inperking die kletsrymer Jack Parow se planne vir Paasnaweek omvergegooi.

“Ek sou ’n bietjie Strand toe gegaan het saam met familie en vriende en dan sou ek ook Sondag ’n show gedoen het in Despatch. Nou gaan ek maar net by die huis wees en sal maar ’n lekker Easter-braai aanmekaarslaan,” sê hy.

“Wat ons die afgelope twee weke doen, is om almal by hul huise ’n braai aan te steek, ’n paar verversings te geniet en op Houseparty of Zoom aan te teken en dan voel dit nog steeds soos ’n lekker kuier! Ek het sulke Sonos Wi-Fi speakers ook nog deur my huis. Ek connect die audio daarmee en dan voel dit nog meer soos ’n jol!”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.